Groot dele van Nelson Mandela-kinderhospitaal steeds nie gebruik

(Foto: Daan Stevens/Unsplash.com)

Drie jaar ná die amptelike opening van die Nelson Mandela-kinderhospitaal in Johannesburg word slegs tussen 20% en 70% van die hospitaal se kapasiteit gebruik. Die onkologie-afdeling word nog glad nie gebruik nie.

Die Gautengse departement van gesondheid het die DA se vrae hieroor in die Gautengse wetgewer beantwoord.

Volgens Bandile Masuku, Gautengse LUR vir gesondheid, is ʼn totaal van 1 625 pasiënte verlede jaar tussen April en September in dié hospitaal behandel. Sowat 1 469 pasiënte is in dié tydperk uit ander Gautengse hospitale na die Nelson Mandela-kinderhospitaal verwys. Die hospitaal het kapasiteit vir 200 beddens.

Volgens Masuku is die hospitaal vir die 2019-’20-boekjaar met R300 miljoen gefinansier. ʼn Gemiddeld van 67% van die beddens in die pediatriese intensiewe sorgeenheid is die afgelope boekjaar benut. 71% van die beddens in die neonatale intensiewe sorgeenheid en 72% van die beddens in die kardiale -en chirurgiese afdeling word gebruik. Slegs 34% van die beddens in die neonatale hoësorgeenheid word gebruik. Slegs 21% van die beddens in die nier/chirurgiese saal, wat September geopen het, is gebruik.

Volgens Mandisa Maholwana, die hospitaal se uitvoerende hoof, het die hospitaal sowat R500 miljoen nodig om sy volle kapasiteit te kan benut.

Jack Bloom, DA-woordvoerder oor gesondheid in die provinsiale wetgewer, het gesê nog twee algemene sale met 58 beddens sou reeds in Januarie geopen het, maar word ook nog nie gebruik nie. Die onkologie-eenheid met 42 beddens sal eers in April open.

Daar is tans 62 vakante poste uit ʼn totaal van 401 poste beskikbaar. Bloom sê die departement het gesukkel met die werwing van opgeleide verpleegkundiges en subspesialiste, weens ʼn landwye tekort in dié velde.

“Ek is bekommerd daaroor dat die hospitaal nie ten volle benut word nie, veral aangesien staatshospitale se neonatale fasiliteite altyd so oorvol is,” sê Bloom.

Bloom sê indien die hospitaal nie genoegsame openbare finansiering of donasies ontvang nie, sal die moontlikheid ondersoek moet word om private pasiënte in die hospitaal te behandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nie Verbaas ·

Die Chinese bou en benut n hospitaal in 6 dae. Na 3 jaar is die swak syfers al wat die ANC kan wys. Whahahaha!

Nie Verbaas ·

Dis waar, die menere en mevroue dink hulle is die katte met die dik sterte. Intussen is hulle onbevoegde narre.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.