Groot deurbraak in stryd teen transitorooftogte

Argieffoto: Twitter via @Ambramjee.

ʼn Sleutelfiguur en ses van sy makkers wat na bewering agter van die vlaag transitorooftogte in die land sit, is Dinsdag in die Marble Hall-gebied in Mpumalanga in hegtenis geneem.

Volgens die polisie is dié verdagtes reeds bekende transitorowers. Van hulle is tans uit op borgtog nadat hulle voorheen in verband met transitorooftogte in hegtenis geneem is.

Kol. Brenda Muridili, woordvoerder vir die nasionale polisiekommissaris, het gesê die verdagtes is in hegtenis geneem terwyl hulle glo ʼn transitovoertuig ingewag het met die voorneme om dit te beroof. Volgens Muridili het polisietaakspanne van Limpopo en Mpumalanga inligting opgevolg dat die geldwa glo naby Marble Hall beroof sou word.

“Die polisiebeamptes het die verdagtes aangetref waar hulle tussen bosse langs die pad vir die transitovoertuig gewag het. Die verdagtes het van die toneel probeer vlug en in die proses ook van hul selfone ontslae probeer raak, maar hulle is vasgetrek en in hegtenis geneem.”

Muridili het gesê die polisie se voorlopige ondersoek het hulle na polisiebarakke gelei waar een van die verdagtes se vriendin, glo ʼn 37-jarige polisiekonstabel, reeds die wegkommotor geparkeer het. Daar is beslag gelê op vier gesteelde voertuie, handskoene, balaklawas, 21 selfone en vervalste nommerplate.

Die verdagtes sal vandag in die hof verskyn op ʼn voorlopige aanklag van besit van gesteelde voertuie. Nog aanklagte sal na verwagting later bygevoeg word.

Genl.maj. Jan Scheepers, die waarnemende provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, het reeds ʼn interne dissiplinêre proses van stapel gestuur teen die konstabel wat na bewering by die voorval betrokke was.

“Ons kan nie ons werk verrig met lede binne ons geledere wat blykbaar kies om aan misdadige aktiwiteite deel te neem nie. Ons sal ons blou uniform by hulle wegvat en hulle sal ʼn oranje uniform kry,” het genl. Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Wonder Net ·

Volgens die berug is daar nie op vuurwapens beslag gele nie. Nou wonder ek of die rowers dit ook ingehandig het soos ons wettige wapeneienaars moet doen of is dit in veilige polisie bewaring???

Alta ·

Toe hulle sien die Renosters word beskerm…toe besluit hulle transito rooftogte is makliker…en nou wonder mens…Wat volgende?

Willie ·

Weereens n bloedneus vir die sogenaamde gereg in die land, en die korrupte SAPD… Raak ontslae van die onbevoegde meerderheid polisie… Skaamte man…sies

Janosh ·

En van hulle was op borg uit vir juis transito rooftogte. Hoekom verbaas dit my nie. Laat hulle dan ook nou sommer dadelik op borg vry – dis mos hoe die verkrampte regstelsel in hierdie land werk.

Amelia ·

Dit het ook deur my gedagtes gevlieg. In elk geval is die Transitorowers van die rykstes in ons land. Nou waarom sal hul nie borgeld he nie?

christa ·

die polisie is al van lankal in die besigheid. Dit gaan so as die mense nie gekeur word nie, en enigeen is welkom. Dit sleep getroue polisiemanne se naam deur die modder.

Jacques ·

Ek kan nie help om te wonder watse tipe deurbraak is nou regtig gemaak nie ? Die feit dat die SAPD sien hoe korrup hulle lede is of hoe swak die korrektiewe stelsel is . Die meerderheid van die mense is uit op parool , regtig ?

PIKKEWYN ·

Hulle was uit op borg maar is BEKENDE TRANSITO ROWERS. Moes julle nie in die eerste plek hierdie mense fyner dop gehou het/logika gebruik het dat hulle moontlik WEER besig is met hulle rooftogte nie – juis omdat dit so goed beplan word en niemand basies vas getrek kan word nie. Ons kon dalk ‘n paar rooftogte gekeer het. En hulle sal seker net weer borgtog kry en lekker aangaan weer met hulle streke.

Jeannine ·

Belaglik. Dis omdat enige Janrap en sy maat mos vandag in die Polisie Kan wees. Daars geen trots onder 90% van hulle om daai uniform te dra nie. Meeste van hulle is in die SAPS vir heeltemal die verkeerde redes.

En ja wys hoe korrup is ons regsstelsel. Hulle was op borg na ernstige misdade. Vicky Momberg kon nie eers borg kry nie…..

Boerseun ·

Nou praat jy! Geen borg en drie jaar tronkstraf vir ‘n vloekery, maar ‘n geweldadige rower met outomatiese geweer is uit op borg!? Omdat hy swart is? Omdat sy wit is? Die regstelsel is pateties, rassisties en anti-wit.

Jaap ·

Ons regters studeer net om klein kinderagtige sake te hanteer en dit hoofnuus te maak.
Belangrike sake en misdade skuif agter toe en al die misdadigers kry n klop op skouer en borg.
Word wakker ANC niks in die land werk nie

tamboti ·

Liewe mede lesers, julle moet onthou: terwyl die bevolking basies verdubbel het die afgelope 20jaar+, misdaad die grootste ekonomiese aktiwieteit van ‘n groot deel van laasgenoemde geword het – is daar nie genoegsame korrektiewe akkomodasie geskep nie.
Die howe het dus nie ‘n keuse (behalwe as die oortreder wit is nie) om soveel moontlik verdagtes en gevonnisde skelms uit die gevangenis te kry sodat 1) hulle nie meer as dubbeld oorbevolk is nie, en 2) dat die staat nie hul losies moet opdok nie.
Op vrye voet kan hulle maar net voort gaan om op onskuldige burgers te teer.
In elk geval met ‘n suksesvolle verhoor koers van net 6% is die stelsel alreeds totaal oorbelas. Dink net as ons meer skelms vang en skuldig vind hoeveel miljardeR ons vir nog “akkomodasie” moet opdok?

thinus ·

Sonder “guns” of was dit dalk almal van die polisie, en dit sal die groot “deurbraak” nie so goed laat lyk nie?

Die Waarheid ·

Die polisie moet hulle huis skoonmaak – Die Polisie se bestuur is inderdaad verantwoordelike vir die misdadigers in hulle geledere . Wat het geword van keurings en klarings binne die polisie . Hulle stel persone aan en bevorder sonder keurings en klarings . ‘n Baie goeie gedagte sal wees dat die polies self alle geld trokke begelei .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.