‘Groot deurbraak vir Solidariteit se regstelveldtog by VN’

Dirk Hermann. Foto: Reint Dykema

Dirk Hermann. Foto: Reint Dykema

Die vakbond Solidariteit het gesê sy veldtog om die wyse waarop die regering regstellende aksie toepas by die Verenigde Nasies te toets, “het ʼn groot hupstoot gekry”.

Volgens Solidariteit het die Suid-Afrikaanse regering ʼn verslag oor die uitwissing van rassediskriminasie in Suid-Afrika by die VN ingedien, agt jaar ná die spertyd.

Die indiening van die verslag volg nadat Solidariteit die regering op 28 Oktober 2014 by die Verenigde Nasies (VN) se komitee vir die uitwissing van rassediskriminasie (CERD) verkla het oor sy versuim om verslae in te dien. ʼn Soortgelyke klag is ook by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie ingedien. Die regering is ook in September verlede jaar aangemaan met die oog daarop om regstappe in te stel indien verslae nie ingedien word nie. Die indiening van die verslag maak dit nou vir Solidariteit moontlik om ʼn skaduverslag by die CERD in te dien.

Solidariteit het verlede jaar met die veldtog begin nadat die konstitusionele hof bevind het dat daar nie onbillik teen luitenant-kolonel Renate Barnard gediskrimineer is toe sy vir ʼn bevordering in die polisie oor die hoof gesien is nie. Barnard het onlangs aangekondig dat sy haar nou voltyds vir billikheid in die werkplek gaan beywer en het voltyds by Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke begin werk.

Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, was dit vir die vakbond se veldtog by die VN van kritieke belang om die regering te dwing om verslae in te dien. Dit gee nou aan Solidariteit die geleentheid om aan die VN te toon dat die manier waarop die regering regstellende aksie toepas, nie strook met die vereistes van die VN nie. Sonder die regering se verslag kon Solidariteit nie ʼn skaduverslag indien nie.

Die grootste probleem van die Suid-Afrikaanse regstellendeaksieprogram is dat dit ontaard het in ʼn getallespel wat niks meer met regstellende aksie te doen het nie en net oor ras gaan. Die Suid-Afrikaanse regering se oordrewe fokus op rasseverteenwoordiging gaan sterk in die skaduverslag beklemtoon word.

Solidariteit sal van Suid-Afrika se voorste regskenners en politieke wetenskaplikes by die opstel van die skaduverslag betrek.

“Ons beplan om reusesteun vir die skaduverslag te werf wat rasgroepe en ander tradisionele verdelingslyne oorsteek. ʼn Afvaardiging van Solidariteit sal in die eerste helfte van 2015 besoek by die VN aflê vir steunwerwing en om die verslag amptelik by die VN in te dien,” het Hermann gesê.

Die VN vereis dat regerings, wat hulle tot die konvensie vir die uitwissing van rassediskriminasie verbind het, elke twee jaar ʼn verslag hieroor moet voorlê. Die SA regering het in 2004 laas so ʼn verslag by die CERD ingedien en moes weer in 2006 ʼn verslag ingedien het.

Solidariteit sal op 19 Februarie 2015 werknemers van die departement van korrektiewe dienste (DKD) in die arbeidsappèlhof in Kaapstad verteenwoordig. Die regering verdedig in die saak hulle praktyk om die nasionale rassedemografie in die Wes-Kaap toe te pas. Die gevolg hiervan is dat veral bruin werknemers byna geen kans op bevordering het nie.

Die DKD-gevallestudie gaan gebruik word om Solidariteit se saak by die VN te versterk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Afgedank ·

Neem ook kennis van al die blankes in die staat (nasionaal, provinsiaal, plaaslik en entiteite) wat onbillik afgedank word vir enige rede onder die son en dan sukkel om weer werk te kry. Ek is persoonlik daardeur en weet ook van kollegas (NW Departemente). Een van my kollegas het slfs selfmoord gepleeg. Dit bly tragies.

Asjas ·

Ek het sopas besluit om by Solidariteit aan te sluit. Ek werk vir ‘n uitstekende Werkgewer en het beslis nie slaaplose nagte oor my toekom nie. Ek behoort tans nie aan ‘n Unie of enige so iets nie, het dit nie nodig nie. Ek wil slegs aansluit sodat ek Solidariteit kan geldelik ondersteun, hulle doen goeie werk vir Suid-Afrika se mense (almal) maar dit kan nie goedkoop wees nie?

Fanie ·

Asjas, dis omtrent R100 pm, dan kry jy ‘n hele rits byvoordele en dienste, en dra maandeliks by tot projekte soos Soltech, Akademia, die Helpende Hand en die Studiefonds wat jaarliks 1 000+ studente help studeer. Jy kan vrywillig iets meer bydra vir bv hul Regsfonds teen rassistiese AA of die Helpende Hand.

Asjas ·

Dankie vir die inligting Fanie. Dit klink net al beter en beter :-)

Drieks ·

Almal moet aan sluit by Solidariteit en Afriforum.
Saam kan ons hierdie land help werk.
Ons kan dit nie een een doen nie.
Mooi Asjas…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.