Groot doelwitte vir 2020 word op Toekomsberaad bespreek

Flip-Buys-Toekomsberaad

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, verduidelik waarop die Toekomsberaad van 10 Oktober sal fokus. Foto: Esté Meyer Jansen.

Die Solidariteit Beweging bied op 10 Oktober ’n Toekomsberaad in Pretoria aan waar kerndoelwitte en omvattende planne vir ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms bespreek sal word.

Die beraad sal na verwagting deur duisende afgevaardigdes, vriende en lede van die instellings van die Beweging bygewoon word.

Die beraad is in opvolg op die Krisisberaad wat in Mei vanjaar gehou is en waar kernprobleme op talle terreine uitgewys is waarvoor dringend oplossings gevind moet word. Meer as duisend insette is van beraadgangers gekry wat die afgelope maande deur werkkomitees tot werkbare planne verwerk is.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het vandag op ’n mediakonferensie in Centurion gesê die planne is geskoei op die idee van selfstandigheid vir Afrikaners. “Die beraad gaan werklik ’n geskiedkundige gebeurtenis wees waar van die grootste planne wat nóg deur burgerlike instellings gemaak is, aangekondig sal word. Geen plan sal aanvaar word as ons nie weet dat dit in werking gestel kan word nie. Deur dié planne wil ons die grondwetlike ruimtes vir kultuur en taalgemeenskappe prakties opneem. Regte vir gemeenskappe word nie vanself verwesenlik nie. Gemeenskappe moet self deur doeltreffende burgerlike instellings hul plek opneem.”

Buys het ook na 18 doelwitte vir 2020 verwys waarop die planne geskoei sal wees. Dit sluit in:

  • Gemeenskapsveiligheid
  • Werkende dorpe en stede
  • Burgerlike en politieke vryheid
  • Regsorde
  • Kulturele vryheid deur selfdoen-aksies en kulturele skikkings
  • Goeie werk en gelyke werksgeleenthede vir mense
  • Gehalte-onderwys wat deur die Helpende Hand se Skole-ondersteuningsentrum (SOS) bevorder word
  • Uitnemende tegniese opleiding soos deur Sol-Tech
  • Die uitbouing van ’n wêreldklas Afrikaanse gemeenskapsuniversiteit
  • Studiefondse vir almal wat wil studeer
  • Ondersteuningsnetwerke vir weerlose kinders en bejaardes wat daarop gemik is om armoede te verlig, te voorkom en te verbreek
  • Groeiende selfstandigheid vir gemeenskappe
  • Die uitbou van Afrikaanse media met Maroela Media as die grootste Afrikaanse nuusdiens.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het gesê van die planne wat op die beraad bekendgemaak gaan word fokus daarop om gelykheid in die werkplek te bevorder en onbillike rassediskriminasie te verhoed.  Dié planne is deel van die proses wat tans in Genève aan die gang is om die Suid-Afrikaanse regering oor rassekwotas by die VN aan te kla.

Ander planne wat bekendgemaak gaan word, sal daarop fokus om toegang vir Afrikaners tot goeie werk te verseker.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het verduidelik dat dié burgerregte-organisasie dit op sy afgelope nasionale kongres duidelik gemaak het dat die tyd vir selfdoen aangebreek het. “Die staat is besig om teen ’n kommerwekkende tempo te verval. Basiese regeringsfunksies word nie meer na behore vervul nie en dit is duidelik dat Afrikaners deur die regering en die ANC as politieke slaansakke gebruik word.

“Afrikaners kan nie hul hoop op die regering plaas om vir hulle ’n toekoms te skep nie. Ons wil self besluit oor sake wat ons regte raak en daarom sal ons meer intensief betrokke raak by selfdoen-aksies, soos ingryping op plaaslike regeringsvlak en veiligheidsinisiatiewe om vir onsself ’n goeie toekoms te skep.”

Dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, sê dié organisasie se planne gaan daarop fokus om die geskiedenis terug te vat van diegene wat dit wil kriminaliseer. “Ons wil ʼn ewewigtige beeld oor die geskiedenis uitstuur.”

Dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, het gesê beraadgangers sal ingelig word oor die organisasie se skole-ondersteuningsentrum (SOS) wat daarop gemik is om steundienste vir kinders te lewer. Daar sal ook aangekondig word hoe die Helpende Hand-studiefonds vir jongmense uitgebrei sal word om te verseker dat elkeen wat wil, kan studeer en sy volle potensiaal kan ontgin.

Die Toekomsberaad word by die Heartfelt Arena in Pretoria aangebied. Daar is beperkte plek en voorafbesprekings is noodsaaklik. Belangstellendes kan www.toekomsberaad.co.za besoek om te registreer.

Kyk hier na die Krisisberaad-video:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anoniem van Centurion ·

Dit gaan inderdaad geskiedkundig wees. Net die idee van ‘n groeiende kollektief is opwindend. ‘n Kernpunt (vir my) is nommer vyf op die lys – “kulturele vryheid deur selfdoen-aksies en kulturele skikkings”. Tot ‘n mindere of meerdere mate is elkeen van die 12 ander punte (hierbo gelys) ook ‘n uitvloeisel hiervan. President Brand het gesê: “Alles sal regkom as elkeen sy deel doen.” Saamgestelde rente is ‘n ding mense! 10 Oktober trek ons laer.

Johannes Meintjes ·

Bravo inderdaad! Mits elkeen sy en haar deel doen onder uitmuntende leiers.

Minnie Pretorius ·

Baie geluk met julle voortgesette pogings.
Sal dit baie graag by woon.
(iewers op video staan 10 September)

Groete,
Minnie Pretorius

Drieks ·

As elke burger die land wil help vorentoe neem, sluit aan by Solidariteit en Afriforum. Met elkeen se paar rand kan ons saam vorentoe gaan. Alleen om die braaivleis vure bereik ons niks met ons klagtes nie..

humor ·

Dit het nou niks met humor te make nie. Ek voorsien namate daar sukses behaal word sal daar n sneeubalefek wees,. Ek glo onder swartes. kleulinge is daar ook die swyende massa wat die pyn van die huidige bestel beleef en dat daar n soorgelyke ontwaking sal kom. Ja, wel nie oornag nie, maar dit kan gebeur.

pieter schutte ·

Ek hou baie van ie idee aangesien ek n lee rling op Helpmekaar seunsskool was tot 1962 en het by die onderwysers die verhaal van die Helpmekaarbeweging gehoor – hulle was sulke edel onderwysers – mense vir wie mens altyd respek kan he.
Bie van die aanslae teen die Afrikaner is nog steds dieselfde maar ons sal moet laer trek omdat die vyand so slinks is. NB DIE WEBBLAAIE HIERBO I ALMAL VOLGENS KASPERSKI MET N TROJAN BESMET> WEES TOG VERSIGTIG> DIT WIL VOORKOM OF DIE HUIDIGE EEN DAREM VEILIG ISGROETE

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.