Groot dwelmvonds gemaak tydens Plettenbergbaai-padblokkade

Verskaf deur SAPD

Polisiebeamptes het Sondag tydens ʼn padblokkade naby Plettenbergbaai beslag gelê op dwelmmiddels met ʼn geraamde straatwaarde van R700 000.

Brig. Novela Potelwa, woordvoerder van die polisie, het gesê die padblokkade was op die N2 by die Tsitsikamma-tolhek. ʼn Passasiersbus, op pad na Kaapstad, is omstreeks 22:00 voorgekeer. “Toe die bagasiekompartement deursoek is, het hulle op ʼn grys sak afgekom wat Mandrax-tablette bevat het. Verdere ondersoek het onthul die eienaar van die sak is ʼn passasier op die bus.”

Die polisie het die 13 500 Mandrax-tablette gekonfiskeer en ʼn 31-jarige vrou in hegtenis geneem. Sy is steeds in aanhouding en sal binnekort in die hof verskyn.

In ʼn onverwante voorval het die polisie ook beslag gelê op 155 bondels Khat met ʼn geraamde straatwaarde van R15 000. “Beamptes het ʼn Toyota Quantum-minibustaxi, wat na George op pad was, voorgekeer. Die voertuig is deursoek en beamptes het op ʼn boks agter die bestuurder se sitplek afgekom. Die dwelmmiddels is in koerante in die boks toegedraai. Niemand is nog in verband met hierdie voorval in hegtenis geneem nie,” het Potelwa bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Willem ·

Dwelms in taxi maar niemand inhegtenis geneem. So as drywer alleen was is hy los. As daar passasiers was is hulle almal los. Lekker in die land

Jack ·

Wel die taxibestuurder het net ontken dat die boks syne is en saak gesluit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.