Groot gedenkdiens vir ‘Moeder van Rooibos’

Dr. Annique Theron. Foto: Facebook via Annique

Dr. Annique Theron. Foto: Facebook via Annique

ʼn Gedenkdiens word Donderdag vir dr. Annique Theron, oftewel die Moeder van Rooibos, in Pretoria gehou om haar nalatenskap te vier.

Theron, die stigterslid van Annique velsorgprodukte, is verlede Sondag in die vroeë oggendure in die ouderdom van 86 vreedsaam in haar slaap oorlede omring deur familie ná ʼn kort siekbed.

“Annique velsorgprodukte en die Theron-familie nooi die publiek uit na ʼn gedenkdiens om die lewe van dr. Theron, te vier. Sluit by ons aan wanneer ons hulde bring aan haar nalatenskap en die bydraes wat sy gemaak het tot rooibos en die gesondheids- en skoonheidsbedryf,” het die groep in ʼn verklaring gesê.

Die diens vind om 15:00 plaas by die NG Kerk Moreleta in De Villebois Mareuilrylaan. Almal is welkom, insluitend vriende, kliënte, konsultante, kennisse en vennote.

Maroela Media het vroeër berig Theron het Annique in die sewentigerjare as ʼn velsorgprodukmaatskappy gestig om mense in nood met rooibosprodukte te help. Haar onderneming het gou floreer en in 1976 het sy die eerste Annique-velsorgprodukte bekendgestel. Teen 2010 het die Annique-familieonderneming ʼn wye verskeidenheid van meer as 200 verskillende produkte aan vroue, mans en babas deur 20 000 konsultante wêreldwyd verskaf.

Haar kinders, Henk, Marius, Suzette en Lorinda, het in ʼn verklaring gesê Theron was in alle aspekte van haar lewe ʼn passievolle vrou. “In haar openbare lewe was dr. Theron bekend as ʼn pionier en briljante en suksesvolle sakevrou. In haar privaat lewe, het sy haar familie, vriende en medewerkers gekoester. Ons is dankbaar vir die ondersteuning en goeie wense van almal wat ons gevoelens vir dr. Theron deel. Ons weet dat baie van julle haar afsterwe saam met ons sal betreur.”

Theron word oorleef deur vier kinders en sewe kleinkinders. Haar man, Hendrik Meiring Theron, is reeds in 1990 oorlede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Daan ·

Ek sal haar onthou as die vrou wat die Rooibos handelsnaam in die VSA probeer kaap het. Doen gerus n storie oor dit. Gladnie patrioties nie

Karma ·

Daan, vertel ‘n bietjie meer? Ek het nie geweet rooibos word eens verbou in die VSA nie; ek dag nog die heeltyd rooibos is inheems aan SA alleen!

Daan ·

Anna het Rooibos as handelsnaam in die VSA geregistreer. Verkoop dit toe aan haar sake venoot. Ongeveer R6miljoen later het die Rooibostee raad die naam terug. Google dit

Karma ·

Baie interessant, Daan. Sy was klaarblyklik nie net ‘n baie goeie ma, vrou en plaaslike besigheidsvrou nie, maar ook ‘n baie ‘slinkse’ internasionale besigheidsvrou! Maar jou eerste pos klink so negatief, asof jy haar verkwalik dat sy ‘n suiwer goeie besigheidsbesluit geneem het.

Susan ·

Regtig…….. Gelukkig vir die naasbestaandes van dié negatiewe lesers hier bo sal daar nie na húl afsterwe oor hulle in die openbaar berig word nie.
Altyd iets om voor dankbaar te wees!

Mien ·

Gebruik al jare haar wonderlike produkte. Wat ‘n voorreg en genade om so sag heen te gaan !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.