‘Groot gees’ in landboukringe sterf

Schalk Pienaar. Foto: Twitter via Agbiz

Medelye het Maandag ná die dood van Schalk Pienaar, voorsitter van die landbousakekamer Agbiz, ingestroom.

Pienaar is Sondag by sy huis in Hartbeespoort dood. Volgens mediaberigte het hy aan ʼn hartaanval gesterf. Pienaar was ook ʼn voormalige besturende direkteur van Suidwes Landbou.

John Purchase, uitvoerende hoof van Agbiz, het Maandag sy meegevoel met Pienaar se vrou, Dailena, en die res van sy familie uitgespreek. “Schalk was sedert 2010 [Agbiz se] voorsitter. Hy sal baie gemis word. Rus in vrede,” het Purchase op Twitter geskryf.

Deon Badenhorst, bestuurder van korporatiewe bemarking en kommunikasie by Suidwes Landbou, het in ʼn verklaring gesê Pienaar sal onthou word vir sy reuse-rol en die verskil wat hy in die Suid-Afrikaanse landbousektor gemaak het. “Schalk het vanaf 2000 as hoofbestuurder van die graanafdeling gedien en daarna van 2001 tot vroeg 2012 die pos van besturende direkteur van die Suidwes Groep beklee,” het hy gesê.

“Ons innige meegevoel en simpatie aan sy vrou, kinders, familie en vriende. Mag julle die nodige krag van bo ontvang in hierdie tyd van hartseer en smart.”

Vrystaat Landbou het om sy amptelike Twitter-profiel ook sy spyt oor Pienaar se dood uitgespreek. “Hy was ʼn groot gees en iemand na wie opgekyk kon word.” Die Durbanse Varsproduktemark het ook op Twitter sy hartseer uitgespreek en sy medelye met Pienaar se familie betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Oom Kalahari ·

Alle medelye en sterkte aan die Pienaar familie, vriende en kollegas met Schalk se skielike heengaan. Mag jul die nodige vertroosting ontvang deur hierdie routyd. RIV Schalk.

Johan Kruger ·

Medelye en sterkte aan familie. N baie groot Seder in die landbou bedryf wat nou omgewaai is

Marinda ·

RIV. Sterkte en medelye aan die familie, vriende en naasbestaandes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.