‘Groot geld’ vir SA in private wildjag – navorsing

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Plaaslike en internasionale jagters dra gesamentlik R15,456 miljard per jaar tot die Suid-Afrikaanse ekonomie by, het ʼn onlangse ondersoek oor die private wildjagbedryf in die land bevind.

Die ondersoek bekyk ook jagtersprofiele, en het onder meer bevind dat Limpopo, Noordwes, die Oos-Kaap, die Vrystaat en die Noord-Kaap plaaslike sowel as buitelandse jagters se voorkeurjagbestemmings is.

Dié ondersoek is deur die navorsingseenheid vir toerismenavorsing in ekonomie, die omgewing en die samelewing (Trees) aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom onderneem, onder leiding van prof. Peet van der Merwe en sy spanlede, Andrea Saayman en Elmarie Slabbert.

Die doel van die navorsing was om die sosio-ekonomiese impak van die private wildbedryf in Suid-Afrika te bepaal, met opnames wat van Junie 2022 tot Augustus 2022 uitgevoer is.

Vraelyste is aanlyn versprei en het die reaksie van 1 685 plaaslike jagters en 415 internasionale jagters ontlok.

Jagtersprofiele

“Wat plaaslike jagters betref, was 97% van die respondente manlik, met ʼn gemiddelde ouderdom van 47, en 82% van hulle is getroud. Hulle het gemiddeld aan 2,7 jagtogte per jaar deelgeneem en het 4,16 nagte by hulle voorkeurbestemming oorgebly. Hulle provinsiale voorkeurbestemmings was, in volgorde: Limpopo, Noordwes, die Vrystaat en die Noord-Kaap,” het Van der Merwe gesê.

“Die internasionale jagtersprofiel het getoon dat 89% manlik is, met ’n gemiddelde ouderdom van 57 jaar. Altesaam 81% is getroud en hulle het ten minste drie keer in die afgelope tien jaar in Suid-Afrika gejag. Hulle voorkeurprovinsie was ook Limpopo, gevolg deur die Oos-Kaap, die Vrystaat en die Noord-Kaap.”

Navorsing dui verder dat Suid-Afrikaanse jagters elkeen ʼn totale jaarlikse besteding van R63 282 gehad het. Hierdie syfer sluit verblyf, vervoer, kos, die verwerking van die vleis, jagpermitte, geld en die wild wat gejag is in.

“Met ’n beraamde 200 000 plaaslike jagters kan daar afgelei word dat hulle ongeveer R12,65 miljard tot die Suid-Afrikaanse ekonomie bygedra het.

“Wat internasionale jagters betref vind nie al hul uitgawes binne landsgrense plaas nie. Daar is byvoorbeeld internasionale vlugte, verskepingskoste vir trofeë en die aankoop van items soos klere voordat hulle na Suid-Afrika kom. Deur egter hierdie syfers aan te pas en in ag te neem dat daar voor en ná die toer ander besteding plaasvind, is die bedrag per jagter per jagtoer wat in ons plaaslike geldkoffers ingaan, R450 000.”

Dít beteken dat plaaslike en internasionale jagters gesamentlik R15,456 miljard per jaar tot Suid-Afrika se ekonomie bydra.

Gemeenskappe baat ook

Benewens die groot geld wat private jag vir die land beteken, baat gemeenskappe ook by dié bedryf, aldus Van der Merwe. Dit sluit die skep van werksgeleenthede vir inwoners in.

“Meer as 80% van die plaaslike jagters glo dat jagtoerisme meer inkomste vir die betrokke gemeenskappe genereer, werksgeleenthede binne die bepaalde jaggebied vermeerder, die ekonomie sowel as die lewenstandaard in die gebied verhoog, en dat dit help om kulturele tradisies vir toekomstige geslagte te bewaar.”

Hy sê voorts dat privatewildbedryf sedert Trees se laaste omvattende opname ʼn toename van R1,81 miljard getoon het, hoewel die rand/dollar-wisselkoers en ’n toename in lewenskoste tot hierdie syfer bygedra het.

“Die private wildbedryf is nie net ʼn noodsaaklike deel van die land se toerisme-aanbieding nie, maar ook ʼn integrale deel van ons ekonomie.

“Die waarde daarvan kan nie onderskat word nie, en ons moet alles doen wat ons kan om dit te bewaar, te bevorder en uit te bou. As ʼn instrument vir werkskepping en bewaring, moet ons die magdom geleenthede benut wat die bedryf het om te bied.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.