Groot gesin verloor als in brand

Die Van der Poel-gesin, pa André en 14 van sy 15 kinders, het alles in die brand verloor. Foto: Facebook

Die boeregemeenskap van Cullinan staan soos een mens saam om ʼn groot gesin te help wat alles in ʼn brand op hul plaas verloor het.

ʼn Verloofde van een van die Van der Poel-dogters van die plaas Eldersrust aan Bronkhorstspruit se kant van Cullinan het Woensdagoggend tussen 01:00 en 02:00 wakker geword en besef die grasdakhuis, waarin hy, 13 van sy 14 sibbes en hul pa, André, geslaap het, is aan die brand.

Riaan Joubert van Cullinan se Boere-unie vertel kort voor die brand het die Van der Poels besef iets skort met die krag, want die breker het meer as een keer afgeskop. ʼn Elektriese fout het toe waarskynlik die brand veroorsaak waarin die groot plaashuis in puin gelê is.

Die man het alarm gemaak en gelukkig kon almal betyds uit die huis kom wat so erg beskadig is, Joubert meen dit sal geheel en al oorgebou moet word.

Die enigste Van der Poel-kind wat nie op Eldersrust woon nie, Hugo, wat na Nederland verhuis het, het ʼn rekening op ʼn webwerf vir skarefinansiering begin waarmee hy hoop om sy gesin te help om sowat R2 miljoen in te samel om hul woning te herbou.

Joubert vertel die Van der Poel-egpaar, André en Helena, het sowat 20 jaar gelede saam met hul oudste kinders uit Nederland na Suid-Afrika geïmmigreer. Die kinders se ma is sowat sewe jaar gelede oorlede.

Die gesin was nie Donderdag beskikbaar om met Maroela Media te gesels nie, maar Joubert sê hy twyfel of die huis verseker was, want baie boere in die omgewing glo nie daaraan om hul huis te verseker nie.

“Hulle is goeie, netjiese, hardwerkende mense,” vertel Joubert. “Hulle boer suksesvol met beeste, skape en mielies, en is baie bekend in die omgewing tussen Cullinan en Bronkhorstspruit; almal weet maar van hulle.”

Van die kinders wat nog op skool is, gaan tydelik tuis by familie wat ʼn kaasmakery aan die noordekant van Cullinan het. Die res van die gesin het solank hul intrek geneem in die buitegeboue op Eldersrust, sowat 12 km buite die dorp.

ʼn Familievriendin, wat gevra het om anoniem te bly, sê die gesin was gister moeg en baie getraumatiseer deur die brand en hul groot verlies.

Joubert vra enigeen wat wil help met die gesin se dringendste behoeftes moet hom eers by 082 900 3383 bel om te hoor wat nodig is, want hulle het reeds heelwat skenkings ontvang. Intussen help die vroue van die omgewing om etes aan die gesin te voorsien aangesien al hul kombuisware en -toerusting in die slag gebly het.

Hy vertel die gesin, wat hy as “baie trotse mense” beskryf, het eers die gemeenskap se hulp geweier en gesê hulle sal self sien kom klaar, maar nadat weldoeners daarop aangedring het om te help, het hulle hulp aanvaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

TS ·

Ai tog so jammer. Maar hoe de joos kan jy jou huis nie verseker nie. Tsk tsk.

Nannie ·

Ek het ook nie versekering nie. Ek moet kies tussen kos en versekering.

Meisiemens ·

Ek het ook nie meer versekering nie. Net soos Nannie, kos of versekering?
Versekering gaan nie dat my kinders se magies vol word nie.

Oujongvrou ·

Dankie vir tel no. Sal bel en hoor om te help. As ons almal net R100 gee herbou hulle gou.

Nettie ·

@Nannie en Meisiemens, daai paar sente vir versekering, kan jou en jou gesin (en ook vir ander mense, want ek neem aan julle het ook dan nie motorversekering nie) baie hartseer, pyn en trauma veroorsaak. “Come hell or high water”, my kar se versekering betaal ek maar getrou – mens kan baie ‘goedkoop’ wegkom, as jy ordentlik bestuur en nie nalatig is nie. En huisversekering, asook persoonlike aanspreeklikheidsversekering – die betaal ek ook maar getrou, want as gewone salaristrekker, het ek beslis nie die geld om weer van voor af te begin, sou my huis afbrand of ek in ‘n derdeparty-geding betrokke raak en moet hoes nie!

Fransa de Beer ·

Ons huis ook so kompleet afgebrand. Ons het besef dis n verlies maar nie n tragedie nie want niemand het lewe verloor nie. Ons het besluit geneem: ons kyk nie wat ons verloor het nie maar wat ons oor het en leef vorentoe. Dis moontlik.

Dries ·

Wat n verskriklike trauma! Al is julle onbekend is my hart stukkend. Ek dank di Here dat NET aardse goed vernietig is, en julle ongeskonde is.
Ek vetrou dat hierdie ni net leë woorde vir julle sal wees ni en deel in julle vreugde van di mense wat julle ondersteun.
Mag di Here ook hierdie gebeurtenis, in iets groot in jul lewe omdraai.
Seenwense.

Estelle ·

Wat ñ hartseer saak. Al hou mens nie vas aan aardse besittings nie, is die emosionele verlies van jou eie en bekende goed tog groot.

Maar hoe heerlik en verblydend om van so ñ groot gesin te lees in vandag se lewe. Pragtig!

Boetman ·

Mens kry in vandag se tye nie maklik sulke groot families nie – die verloofde se sibbes is 13 wat almal daar oornag, dan die Van der Poels se groot familie ook in die huis.
Sterkte aan almal.

IK ·

Ek dink die sin is nie reg bewoord. Dit behoort te lees ”n Verloofde . . . wakker geword en besef die grasdakhuis, waarin hy en 13 van die pa André se 14 sibbes geslaap het, is aan die brand’.

Pierre ·

Die Van der Poel familie by Cullinan maak die beste gouda kaas ooit. Sterkte.

Cherokee ·

2 Dinge wat ek sal aanhou betaal selfs al sou ek moes skraler leef om te te kan doen, is mediese fonds en korttermyn versekering. Die volgende korttermyn versekeraar gaan in sy aanbieding aan potensiële kliënte sê, “psst.. laat ek jou vertel van die Van der Poels…”, net soos vele kommentators hier vertel van die VanneMerwes is ‘n staatshospitaal. Mense, indien julle dit op ‘n manier kan bekostig, al moet julle die staat kaap, (sal nie die eerste keer wees nie) doen dit ter wille van die gesin.

IK ·

Ek stem saam met jou Cherokee. Ook ek het noustrop getrek met my vrou se kanker maar op die einde het Bonitas ALLES betaal. Ek het ook huisversekering maar met my twee voertuie slegs balans van derdeparty waar die luukse 2 miljoen kar betaal sal word sou ek die skuldige wees na selfs reeds 58 jaar ongeluksvry. Daar kan altyd ‘n eerste keer wees. Tog maak hierdie soort versekering dat ek versigtiger bestuur.
Wat die brand van ‘n grasdak betref verstaan ek dat bykans net ‘n kettingsaag kan werk. ALLES van die dak (gras, pale, houte, balke) word afgesaag tussen die deel wat brand en natuurlik die deel wat nog nie brand. Een vd groot probleme is dat die vuur al smeulende voortkruip in die nok van die dak en nie altyd sigbaar is met die rook en wind wat waai. Ek het so ‘n maand gelede gesien wat het oorgebly in Warmbad van ‘n gebou. Sterkte aan die gesin.

Cherokee ·

IK, dankie vir jou terugvoer. Soos jy sê, hê tenminste 3rde Party versekering sodat jy nie daai Merc 500 hoef te vervang nie. Voorspoed aan jou vrou en mag sy Geseënd wees.

Alida ·

Versekering op grasdakke is baie duur. Sterkte aan die mense.

Cherokee ·

Dit is wel so Alida, want dit word belaai weens die risiko. Dit is egter duurder om die nie-versekerde grasdak plus wat onder dit is, te vervang.

Genoeg ·

Ellisras, dis maar net mense wat graag hul medemens wil help wat skenkings gaan doen, ek glo nie dat enige een verplig is om te help nie, so jy kan maar rêrig ontspan.

Elsabe Nolan ·

ELLISRAS ipv vingerwys en oordeel gaan op jou knieë en sê dankie dat jy versekering kan bekostig. Hierdie is nie nou die tyd of plek vir jou onsensitiewe opmerking nie!!!!,

Magaretha van heerden ·

Ek is ook n nooi vander Poel en woon in UK So jammer oor die skade. Sal graag meer van die “familie” van my wou weet. Is sekerlik verlangs familie. Sterkte vir julle.

Jeremia ·

Mag hierdie is hardwerkende gesin die trauma van hierdie gebeure oorwin.
Die gemeenskap in onmiddellike omgewing en elders se hulp is iets wat onthou word. En uiteindelik as mens weer op jou voete is dan kan daar weer uitgereik word.
Dit kan ek getuig in geval van my gesin se trauma jare gelede.

Janneman ·

….. Joubert TWYFEL of die hyis verseker is…dalk is dit

Empatie ·

@Ellisras. Die Van der Poels ry nie ‘n miljoen rand kar nie. En lees weer mooi – hulle – die wie se huis afgebrand het – het nie vir enige hulp gevra nie. Hulle het gesê hulle sal self regkom. Wat hulle ook sal, want hulle is uiters hardwerkend. Die gemeenskap het aangedring om hulp te verleen wat wys watter wonderlike gemeenskap dit is wat mense wat in nood is en getraumatiseerd is bystaan.

Riena ·

Hierdie is vir my `n inspirasie van geloof en vertroue en harde werk. Hul huis is verwoes in `n brand, maar hul huisgesin kom sekerlik sterker daaruit, te danke aan hul geloof en ondersteuningsisteem. Mediese fonds en versekering vrywaar nie teen rampe nie. Tot hiertoe was God met hulle gewees, waarom sal ons nou twyfel aan Sy genade?
Sterkte aan die gesin!

Susan ·

Ellisras mag so iets nooit met jou gebeur nie…en indien wel…mag jy meer empatie ontvang as wat jy toon…

Dev ·

Ons het grasdak chalets. Versekering wil nie meer grasdakke verseker nie.

nannie ·

ELLISRAS ivp om te oordeel lees weer die stuk deur. Hulle het HULP GEWEIER en die WELDOENERS het daarop aangedring. Wees bly jy kan nog jou versekering betaal. Baie mense in Suid-Afrika kan dit nie bekostig nie. Mens moet kies tussen kos en versekering.

DA BO ·

Ek is geskok dst mense soos ellisras en kie dit nodig ag om in te vryf dat sekere mense kan en ander nie, assuransie betaal. Dink hoe moet ander voel, vir n kind is die verlies van selfs n pop n erge trauma. Ek huil aan die blote gedagte aan die gesin se seer,? en julle kry wraggies reg om verwyte te gooi. Sies man???

Meisiemens ·

Almal is nie so bevoorreg om dit te kan bekostig nie. Het jy 13 kinders waarvoor jy sorg? 13 kinders wat moet eet en geklee moet word?
Ek het 2 kinders, en ek skraap maar deur elke maand. Met stygende petrol pryse en voedsel pryse, het ek my versekering gekanselleer.

Sonja ·

Hierdie is baie goeie nederige mense ! Diep Hollanders met baie goeie harte. Kom ons kyk waar en hoe ons hulle kan help. My Hollandse Vriende sterkte ! Ons dink aan julle hier uit Upington. Ondersteun asseblief hulle kaasmakery, die beste en lekekrste kaas wat jy ooit in jou lewe sal eet.

marisa ·

Hoe weet jy iemand besit ‘n R2miljoen se voertuig – hy sê jou!!

J du Bruyn ·

Ek ken die van der Poel gesin persoonlik. Wonderlike ,wonderlike mense . Hulle is van die eerlikste ,hardwerkendste jongmense ooit. Altyd bereid om almal om hulle te help.
Ek is so jammer om tehoor van hulle aardse verlies ,maar weet hulle sal hard werk om weer op hulle voete te kom. …en al die ou bittepille …weet verseker dat hulle nie versekering nodig het nie want hulle het mekaar en die gemeenskap van Cullinan wat hulle gaan bystaan en help……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.