Groot gevaar vir brande op dié plekke

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: State Government of Victoria via AP)

Groot dele van Suid-Afrika loop vandeesweek die risiko vir veldbrande weens die hemelhoë temperature die afgelope week.

Verwoestende brande woed reeds dae lank in die omgewing van Kuruman in die Noord-Kaap.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het boonop gewaarsku dat burgers steeds vandeesweek gaan sweet wanneer nóg ʼn hittegolf die noorde van die land tref.

Die weerdiens het Maandag gesê dat uiterse hoë brandgevaartoestande oor dele van Limpopo verwag word, asook oor die Noord-Kaap, die ooste en weste van Noordwes en die westelike dele van die Vrystaat.

Dorpe in die Noord-Kaap, onder andere Pofadder, Springbok, Calvinia en Sutherland, loop veral die risiko vir wegholveldbrande, asook Bela-Bela, Musina, Vaalwater, Groblersdal en Alldays in Limpopo.

Die kwik in Pofadder sal Maandag tot 38 °C styg, terwyl Calvinia ʼn maksimum van 34 °C sal bereik.

“Die toestande is so dat die brandgevaarindeks bo 75 is. Onder hierdie toestande kan brande vinnig ontstaan en versprei,” lui die weerdiens se waarskuwing.

ʼn Brandgevaarindeks bo 75 beteken dat die betrokke gebiede in groot gevaar is vir wegholbrande, wat dikwels ook die lewens van mens en dier kan eis.

ʼn Hittegolf, wat konstante hoë temperature tot gevolg sal hê, word ook vandeesweek in die Laeveld van Mpumalanga en Limpopo verwag. Die hittegolf sal dié dele na verwagting Woensdag bereik en teen Vrydag tot ʼn einde kom.

Musina sal Maandag 34 °C bereik, maar met die aanvang van die hittegolf kan temperature tot tussen 36 °C en 38 °C styg. Dit terwyl Skukuza in Mpumalanga se kwik teen Woensdag 40 °C sal bereik.

Terwyl bogenoemde dele van die land gebuk gaan onder druk temperature, sal provinsies soos Gauteng, Noordwes en die Vrystaat effense verligting van die hoë temperature kry.

Gauteng het verlede week sy ergste hittegolf sedert November 2019 beleef, toe die temperatuur in Pretoria en Johannesburg tot onderskeidelik 37 °C en 38 °C gestyg het.

Volgens die weerdiens bestaan daar vandeesweek die moontlikheid van geïsoleerde reën- en donderbuie in die middag in hierdie provinsies. Dit sal steeds warm wees in die noorde van Gauteng, met maksimum temperature van tussen 30 °C en 32 °C.

Die kwik in die grootste deel van die land sal vandeesweek steeds 30 °C bereik, hoewel gebiede aan die wes- en ooskus, wat Kaapstad en Gqeberha (Port Elizabeth) insluit, ietwat koeler temperature van tussen 23 °C en 25 °C sal ervaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.