‘Groot Griep-geskiedenis bevat riglyne vir Covid-19-plan’

Die virus wat Covid-19 veroorsaak (Foto: NIAID-RML via AP)

ʼn Advieskomitee wat uit die land se topkundiges op hul gebied bestaan, is deur die minister van gesondheid dr. Zweli Mkhize aangestel en werk onverpoosd aan die land se strategiese plan vir die Covid-19-krisis.

Die ministeriële advieskomitee bestaan uit drie bene – een vir waarneming en toetsing, nog een vir kliniese sorg en die laaste vir navorsing. Elke been se werkgroep bestaan uit 10 tot 20 professore en kenners wat tot die minister se strategiese plan bydra.

Een lid van die advieskomitee, Theo Ligthelm, het aan Maroela Media die agtergrond van die Groot Griep van 1918 geskets teenoor die kenners se huidige werksaamhede. (Foto: Verskaf.)

Een lid van die advieskomitee, Theo Ligthelm, het aan Maroela Media die agtergrond van die Groot Griep van 1918 geskets teenoor die kenners se huidige werksaamhede.

Ligthelm is ʼn konsultant in rampgeneeskunde betrokke by mediese ramp- en noodbestuur en was lid van die regering se span na Sierra Leone vir die Ebola-uitbreking in 2015, asook van die Europese scenario-oefeningspan vir die H5N1-voëlgriepepidemie van 2006. Hy toets die planne wat vir Covid-19 beraam word teen die probleme wat tydens die Groot Griep van 1918 in Suid-Afrika ervaar is en wys só toepaslike leemtes uit.

“Ons het die data van die Groot Griep gevat en al die probleme en slaggate gelys, dit toe geëkstrapoleer na huidige omstandighede en tegnologie en toe verseker dat dit in ons planne aandag gekry het. Baie van die destydse probleme is presies waarmee ons nou gekonfronteer word of verwag – soos te min hospitaalbeddens, gesinne waar al die volwassenes siek word en daar niemand is om die kinders te versorg nie, bejaardes waarvan die versorger siek word en hulle dan onversorg laat, of sekuriteitsmaatskappye waarvan te veel personeel siek word om dienste te lewer,” verduidelik hy.

Voeding is ʼn groot probleem, sê Ligthelm. In 1918 was sopkombuise en voedingstreine die redding, in 2020 kan iets soos aanlynaankope en aflewering deur groot kruidenierswinkels dalk die oplossing wees, meen hy.

“Met die 1918-griep het die mynwerkers wat huis toe gekeer het, die griep na die landelike dele versprei. Ons is bekommerd dat werkers in die stede wat nou tydens die landwye afsonderingstydperk na hul families in landelike dele soos Limpopo terugkeer, dieselfde gaan doen. Ons sal die effek eers oor ongeveer sewe dae kan sien.”

Wanneer die Groot Griep van 1918 met vandag se Covid-19-situasie vergelyk word, is daar ʼn paar lesse te leer.

Die destydse gesondheidstelsel was totaal onvoorbereid vir die omvang van die pandemie. Vandag kan dokters en hospitale beter voorberei. In 1918 het die virus vinnig versprei weens skepe en treine wat aanhou funksioneer het. Nou besef die regering die belangrikheid van kwarantyn, om die virus se verspreiding te voorkom. Destyds se infrastruktuur en regeringstelsels was eenvoudig in vergelyking met vandag sʼn en daarom het die land gesukkel om weer op die been te kom. Met die Covid-19-pandemie kan beter amptelike protokol daargestel word om die land tydens en ná die krisistyd staande te hou.

Een van die ooreenkomste tussen die 1918-pandemie en vandag se Covid-19-krisis, is hoe Jan Alleman wat siek voel, dit kan hanteer. Soos vandag, was daar in 1918 nie ʼn entstof teen die virus beskikbaar nie. Daarom het die regering ʼn paar “goue reëls” vir die publiek gepubliseer, sou hulle vermoed dat hulle die griep onder lede het. Dit het ingesluit dat die pasiënt in die bed moet bly, warm moet bly en die kamer waarin hy of sy lê, goeie ventilasie moet hê. Koorsige pasiënte moes baie vloeistof inneem en met koel water afgespons word en siekes moes gesond eet om hul kragte op te bou. Dokters en aptekers moes net in ernstige gevalle gekontak word en minder ernstig siekes moes die simptome in afsondering by die huis behandel. Die huidige soortgelyke advies sluit net voorkomingsmaatreëls in, wat tydens die Groot Griep nie bekend was of nie verstaan is nie.

Volgens prof. Willem Fourie, van die UP, is die ondersteuning en insette van kundiges landwyd se akademiese en tegnologiegemeenskappe van kritiese belang om die impak van die pandemie te temper. (Foto: Verskaf.)

Nog ʼn lid van die advieskomitee is prof. Willem Fourie, die koördineerder van die Universiteit van Pretoria se sentrum gemoeid met die Suid-Afrikaanse Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte. Hy is gesekondeer om die regering met sy maatskaplike en ekonomiese reaksie op Covid-19 by te staan. Prof. Fourie en sy span van datawetenskaplikes het dag en nag gewerk om in rekordtyd ʼn Covid-19-kwesbaarheidskaart saam te stel, waarvoor beskikbare data ingespan is om die kwesbaarste gemeenskappe te identifiseer. Dié aanlynkaart verdeel Suid-Afrika in wyke op grond van kwesbaarheid vir die verspreiding en impak van Covid-19.

Volgens prof. Fourie is die ondersteuning en insette van kundiges landwyd se akademiese en tegnologiegemeenskappe van kritiese belang om die impak van die pandemie te temper.

Van die werkgroepe vergader elektronies twee maal per dag. Die minister roep die komitee byeen soos nodig, maar die werkgroepe is deurentyd elektronies met mekaar in kontak.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.