Groot grondeis in Pta teengestaan

hof-hamer

Argieffoto.

Die sakeregtewaghond AfriSake het onlangs weer ingegryp om ʼn groot grondeis ten opsigte van eiendomme in die ooste van Pretoria teen te staan.

Volgens AfriSake het sy regspan onlangs ’n voorverhoorvergadering oor die Lekhuleni-grondeis by die grondeisehof in Randburg bygewoon. Armand Greyling, regs- en beleidsontleder by AfriSake, het gesê die voorverhoor het meestal gefokus op die oplos van kwessies wat tydens die verhoor gehanteer sou moes word.

Die verhoor sal waarskynlik later vanjaar begin, het Greyling gesê. “Dit beteken dat slegs finale beëdigde verklarings geliasseer moet word, aangesien die aangeleentheid gereed is om verhoor te word. AfriSake eis dat die grondeisehof se beslissing dat die Lekhuleni-eis geldig is, tersyde gestel word omdat die administratiewe diskresie in hierdie geval slegs by die grondeisekommissaris berus,” het hy verduidelik.

Greyling meen dit blyk dat hierdie eis opportunisties en soortgelyk is aan die Bakwena ba Mare a Phagole- of Suid-Gauteng-grondeis waarby AfriSake ook aktief betrokke is. “Ons glo dat die reg sy gang moet gaan wanneer geldige eise ingedien word, maar in dié geval kan ons nie saamstem dat die eis geldig is nie. Die grondeisehof se betrokkenheid in hierdie saak oor die diskresionêre gesag van die grondeisekommissaris blyk ook onvanpas te wees en AfriSake sal alles in sy mag doen om te verseker dat die regte prosedures gevolg word,” het Greyling gesê.

Dié grondeis betrek meer as 500 residensiële eiendomme, nege plase en verskeie skole en besighede. Dit is na bewering deur wyle Victor Lekhuleni ingestel, wat aangevoer het dat hy die leier van die Bakgatla Ba Lekhuleni-stam was. Hy is ná sy dood deur Velaphi Victor Lekhuleni opgevolg.

Volgens AfriSake is die eis na bewering op 21 Oktober 1996 by die grondeisehof ingestel. Ná ’n ondersoek het die kommissie dit op 16 Januarie 2013 duidelik gemaak dat geen eis ingedien is nie en dat die kommissie nie sal voortgaan om die eis te ondersoek nie. Op 8 Augustus 2014 het die grondeisehof dié besluit egter hersien en tersyde gestel.

As die hof se besluit nie tersyde gestel word nie, sal hulle voortgaan om die meriete van die saak te beveg betreffende of enigiemand weens diskriminerende wette met geweld van die eiendom ter sprake verwyder is, het Greyling bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Ellisras ·

Ek het ‘n grondeis op my plaas. Gaan AfriSake / Afriforum my ook help. Net ‘n Ja of ‘n Nee van ‘n amptelike spreekbuis van AfriSake en/of Afriforum asb.

Jakoba ·

Nou hoekom vra jy hulle nie direk nie. Hoekom vra jy hier. Volg die regte kanale dan sal jy ‘n antwoord mos kry wat ja of nee is.

apie ·

fantasties. ek afrisake se boeke klop om hierdie soort sake aan te pak. die hele waarheid oor grondkwessies wys dat niemand kan bewys dat hulle 500 jaar gelede ‘n stuk grond gekoop het nie, nog minder permanent daar gewoon het. niemand behalwe die Khoi en San mense

marous ·

Grond sluit nie verbeterings in nie. Sloop dit en kyk hoe vining verdwyn die eisers.

Theresa ·

Wie se voorouers is almal in Heldeakker begrawe? Dis ‘n eis werd – of hoe? Wat presies is die kriteria waarvolgens ‘n eis bepaal word, asb. Kan iemand met die nodige kennis (bv dalk iemand van die Afrisake span) my antwoord? Nog altyd gewonder.

Melanie ·

Net een vraag aan grondeisers bewyse kan dit gelewer word soos titelakte,en sou hulle belang gestel het as daar niks ontwikkeld was?

Basjan ·

As die grond nie ontwikkel was nie, sou hulle nie belangestel het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.