‘Groot hartseer’ ná dominee, vrou in botsing sterf

Dr. Jac en Ina Howell (Foto: Verskaf)

Die gemeenskap van die Moot in Pretoria is in rou nadat ʼn botsing op die N4 naby die Kroondal-afrit by Rustenburg Maandag die lewe van ʼn plaaslike predikant en sy vrou geëis het.

Maroela Media het vroeër berig dr. Jac Howell, predikant van die Gereformeerde Kerk Die Kandelaar in dié voorstad, en sy vrou, Ina, is Maandag dood toe hul sportsnutsvoertuig reg van voor met ʼn pantservoertuig gebots het. Drie ander mense, insittendes van die pantservoertuig, is in die ongeluk beseer. Nooddienste het aan Maroela Media gesê die Howell-egpaar se sportnutsvoertuig is in die veld, teen ʼn klein wal af, gevind.

Gerard Meijer, ʼn familievriend wat nou as die Howells se woordvoerder optree, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die egpaar se dood kom as ʼn groot skok vir hul vier kinders én die kerkgemeenskap waarin hulle betrokke was.

Volgens hom was die egpaar op pad terug van Swartruggens in Noordwes ná ʼn familie-naweek toe die ongeluk plaasgevind het. Hy sê familielede het die plaas op Swartruggens saam verlaat en agter mekaar teruggery Pretoria toe.

Volgens Meijer het een van die familielede verby die ongelukstoneel gery sonder om te besef dat dit die Howells is wat in die ongeluk betrokke was.

Hy sê hoewel die egpaar se kinders stukkend is oor die voorval, klou hulle in dié stadium vas aan hul geloof. “Daar is baie hartseer, maar die kinders hanteer die hele voorval in geloof; nes hul ouers hulle geleer het. Sonder hulle geloof sal hulle nie hierdeur kan kom nie,” sê hy.

Volgens hom is dit steeds onduidelik wat presies die ongeluk veroorsaak het. Hy sê daar bestaan egter bewerings dat die pantservoertuig se band gebars het wat daartoe aanleiding gegee het dat die voertuig voor die Howells se sportsnutsvoertuig ingeswenk het.

Meijer sê die egpaar se seun is tans in Rustenburg om hul liggame uit te ken. Hy sê die familie sal waarskynlik Maandag ʼn begrafnis in Heidelberg hou waar Jac vir langer as tien jaar predikant was en daarna ook ʼn roudiens in Pretoria hou.

Die amptelike Facebook-blad vir die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika het Dinsdag sy medelye aan die familie betuig. “Jac en Ina se lewens was gevul met dié Een wat oor alles beskik. Volgens ons menslike denke té kort, maar ons plaas nie ʼn vraagteken waar God ʼn punt gesit het nie,” lui ʼn verklaring op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gustav Barkhuysen ·

Sterkte aan die Howell kinders. Ons dink aan julle in die swaar tyd. mag julle vetroosting by die Here vind.

Oom Kalahari ·

Dit is tragiese nuus en gebeurtenis. Ds. Jac en Ina Howell, jul was nog in die fleur van jul lewe, maar jul het jul God’s werke uitgedra en voltooi aan jul Gemeente en gemeenskappe. RIV (Rus in Vrede) en alle simpatie aan al die familie en vriende deur hierdie tyd van beproewing en met jul groot verlies. Sterkte aan almal verbonde aan hierdie liewe familie.

Olla ·

n Werklik voortreflike egpaar wat in God se aardse koninkryk gewoeker het met die baie talente en genade wat hulle ontvang het. Ons gaan hulle baie mis maar is dankbaar vir die tyd wat hulle ons gegun is.

Anton Jansen ·

Hoe troos jy honderde lidmate? O.a. om Jac en Ina se nalatenskap te bewaar en daarop verder te bou. Koningsryk werk.
Anton en Gerda Jansen.

Andries ·

Ons innige simpatie in hierdie deoewige tyd, mag julle vertroosting in God se woord vind, mag Hy julle trane afvee en julle harte heel.
Ons groet julle in die liefde van ons Heiland Jesus Christus,
Die Walliese Doppers,
Andries Edwina en Kinders

Koos ·

Baie tragiese voorval. Jammer, maar bande bars nie sommer net nie. Veral nie as dit een van hierdie geldwaens was wat soos paloekas ry nie. Twyfel sterk of daardie maatskappye hulle werkers met defektiewe bande sal laat rondry. Daar is net te veel op die spel. Kry ‘n onafhanklike kenner om spoedig die bande te laat ondersoek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.