Groot hartseer oor seun (7) wat in ongeluk sterf

Die 7-jarige Adam Clayton. Foto: Facebook

Boodskappe van skok en hartseer stroom in op sosiale media oor die sewejarige Adam Clayton, wat Dinsdag op slag dood is in ʼn motorongeluk buite Bloemfontein.

Adam was saam met sy ma, Tina Clayton, sy ouma, Nellie van Zyl, en sy twee sussies, Elizabeth en Melodie, in die motor toe die ongeluk gebeur het. Volgens inligting op sosiale media was die gesin met vakansie en na Jeffreysbaai op pad.

Marie Bothma, Adam se tannie, het die blondekopseuntjie as ʼn “bondeltjie energie” beskryf. “Ons slimkop wat alle inligting opgeslurp het! En so baie vrae kon vra!” het sy op Facebook geskryf. “My hart is seer vir my sussie, my beste maatjie! Sy en haar gesin gebroke. Almal het seergekry in die ongeluk! Maar [die] harte is seerder …”

Russel Meiring, woordvoerder van ER24 wat kort ná die ongeluk op die toneel was, het vroeër gesê al die insittendes in die voertuig is beseer en een van Adam se sussies was in ʼn kritieke toestand. Hulle is almal na ʼn hospitaal in Bloemfontein gehaas.

Russell en Tina Clayton met hul drie kinders, Elizabeth, Adam en Melodie. Foto: Facebook

Nellie is getroud met André van Zyl, ʼn voormalige predikant by die Lighuis Jesus Bediening op Welkom. Tina is getroud met Russell Clayton.

Pieter van Zyl, Nellie se seun, het op Facebook geskryf ʼn rib het deur sy ma se longe gesteek tydens die ongeluk. “Die lewe gaan nooit weer dieselfde wees nie. Bid of dink aan ons. Ek en my pa en Russell is in stukke.”

Laerskool Kenmare in Krugersdorp, waar Adam ʼn leerder was, het die nuus van sy dood op die skool se amptelike Facebook-blad gedeel. “Mag God sy mamma, pappa, sussies, familie en vriende styf vashou in hierdie hartseer tyd. Ons bid vir krag en vertroosting. RIV Adam.”

Talle mense het op dié inskrywing gereageer en Adam as ʼn “sagte kind” met goeie maniere beskryf. Adam se onderwyseres, Linda Pretorius, het ook aan hom hulde gebring: “Juffrou gaan hierdie soet engelkind mis. Rus in vrede.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

12 Kommentare

Annie ·

Baie hartseer – sterkte aan almal. Hy was so pragtige seuntjie gewees.

Oosie Oosthuizen. ·

My innige simpatie aan ál sy vriende en familie. Sterkte mense.

Hannelie Horn ·

So ‘n pragtige ou seuntjie. Baie sterkte aan sy ouers en familie, mag jul vertroosting ontvang.

Abel ·

So verskriklik hartseer, ai die arme ouers en sussies. Ons bid God se vertroosting oor julle xx

treurgrond ·

Liewe Jesus – dis nou so sad sad. Gaan met Adam en sy hele familie. My hart gaan uit na hulle toe. Vou hulle toe in U arms my Jesus.

maryann ·

Ons verstaan nie hoekom nie maar ons moet weet God beskik – Jesus sal jul deur hierdie moeilike seer tyd dra kyk net op en glo in Hom Amen

Blikke ·

Ek is so jammer vir julle! Slegs GOD kan julle hierin bystaan. Woorde is min maar wees verseker dat ek aan julle wat hiermee moet vrede maak dink.!!!

Mariaan ·

Dis so hartseer…ai die lewe…nou bid ons dat ouma en mamma en sussies volkome herstel…sterkte vir hierdie seer pad vorentoe

Natasha ·

Liewe mamma en pappa… my hart is saam julle stukkend met jul pragkind se afsterwe hier op aarde. My seun (9) is in ‘n fratsongeluk op ‘n koortoer oorlede 17 Februarie. Maar een ding kan ek getuig, Jesus sal intree en al die eina beter maak… en ek weet sommer my seun, Aiodhon speel en lag saam met hom op Jesus se skoot… bly op julle knieë, klou vas aan God se beloftes en eendag sal julle weer saam hom wees. Hy is nou op die veiligste plek ooit, in Jesus se arms… #totweersiens

Deloris ·

Ai woorde ontbreek, maar ons bid dat julle sal berusting kry en Jesus julke sal optel en dra in hierdie vreeslike hartseer tyd.

honourable member ·

Kan nie indink die hartseer wat julle deurmaak nie, maar dink aan julle en baie sterkte

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.