Boodskappe van skok en hartseer stroom in op sosiale media oor die sewejarige Adam Clayton, wat Dinsdag op slag dood is in ʼn motorongeluk buite Bloemfontein.
Adam was saam met sy ma, Tina Clayton, sy ouma, Nellie van Zyl, en sy twee sussies, Elizabeth en Melodie, in die motor toe die ongeluk gebeur het. Volgens inligting op sosiale media was die gesin met vakansie en na Jeffreysbaai op pad.
Marie Bothma, Adam se tannie, het die blondekopseuntjie as ʼn “bondeltjie energie” beskryf. “Ons slimkop wat alle inligting opgeslurp het! En so baie vrae kon vra!” het sy op Facebook geskryf. “My hart is seer vir my sussie, my beste maatjie! Sy en haar gesin gebroke. Almal het seergekry in die ongeluk! Maar [die] harte is seerder …”
Russel Meiring, woordvoerder van ER24 wat kort ná die ongeluk op die toneel was, het vroeër gesê al die insittendes in die voertuig is beseer en een van Adam se sussies was in ʼn kritieke toestand. Hulle is almal na ʼn hospitaal in Bloemfontein gehaas.
Nellie is getroud met André van Zyl, ʼn voormalige predikant by die Lighuis Jesus Bediening op Welkom. Tina is getroud met Russell Clayton.
Pieter van Zyl, Nellie se seun, het op Facebook geskryf ʼn rib het deur sy ma se longe gesteek tydens die ongeluk. “Die lewe gaan nooit weer dieselfde wees nie. Bid of dink aan ons. Ek en my pa en Russell is in stukke.”
Laerskool Kenmare in Krugersdorp, waar Adam ʼn leerder was, het die nuus van sy dood op die skool se amptelike Facebook-blad gedeel. “Mag God sy mamma, pappa, sussies, familie en vriende styf vashou in hierdie hartseer tyd. Ons bid vir krag en vertroosting. RIV Adam.”
Talle mense het op dié inskrywing gereageer en Adam as ʼn “sagte kind” met goeie maniere beskryf. Adam se onderwyseres, Linda Pretorius, het ook aan hom hulde gebring: “Juffrou gaan hierdie soet engelkind mis. Rus in vrede.”
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
12 Kommentare
Baie hartseer – sterkte aan almal. Hy was so pragtige seuntjie gewees.
My innige simpatie aan ál sy vriende en familie. Sterkte mense.
So ‘n pragtige ou seuntjie. Baie sterkte aan sy ouers en familie, mag jul vertroosting ontvang.
So verskriklik hartseer, ai die arme ouers en sussies. Ons bid God se vertroosting oor julle xx
Liewe Jesus – dis nou so sad sad. Gaan met Adam en sy hele familie. My hart gaan uit na hulle toe. Vou hulle toe in U arms my Jesus.