Groot herontwikkeling by Kaapstadse mark beoog

Groot opgraderings word vir die Kaapstadse mark beoog. (Foto: Stad Kaapstad)

Groot herontwikkeling ten bedrae van miljoene rande word vir die Kaapstadse mark beoog.

Die stad het reeds die proses van stapel gestuur met die aangaan van ʼn 30-jaar-huurkontrak met die mark wat ʼn belangrike ekonomiese en maatskaplike rol in die stad én die Wes-Kaap speel.

“Die merkwaardigheid van die ondertekening kan nie onderskat word nie. Die Kaapstadse mark is ʼn belangrike rat vir die verskaffing van voedsel aan inwoners van Kaapstad,” sê James Vos, burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese geleenthede en batebestuur.

“Altesame 78% van die mark se 7 500 aktiewe geregistreerde kopers is klein aankopers wat ʼn belangrike rol speel om voedselsekerheid vir die armstes in ons stad te verseker.”

Die ooreenkoms sluit in die bou van ʼn nuwe fasiliteit vir markhandelaars ter waarde van R65 miljoen. Dit sal die sogenaamde informele buitemark-handelaars, wat tans buite die markeiendom geleë is, voortaan insluit. Die ruimte sal bestaan uit 64 doelgemaakte handelskraampies.

Die stad sê die mark speel ‘n belangrike ekonomiese en maatskaplike rol in die gemeenskap. (Foto: Stad Kaapstad)

Die handelaarsmark sal ontwikkel word teen ʼn koste van R12,5 miljoen op die perseel waar die bestaande vragmotorstaanplek tans is.

ʼn Nuwe toegangspad en markingang vir alle afleweringsvoertuie en vragmotors sal teen ʼn koste van R3,5 miljoen gebou word.

Die stad sal sy deel van die ontwikkelingskoste van die handelaarsmark – dit beloop 65% – deur ʼn verlaging in huurgeld oor ʼn tydperk van 35 maande betaal.

“Die innoverende benadering dui nie net daarop dat die stad voedsame voedselsekerheid prioritiseer nie, maar laat ons ook toe om ʼn finansieel verantwoordelike vennootskap aan te gaan omdat die vaste betalingsmetode die gevare van boukoste wat dalk kan styg, verwyder,” sê Vos.

“Dit is ʼn beduidende stap in die opknapping en modernisering van dié strategiese ekonomiese bate sodat dit voortaan steeds ʼn sleutelrol kan speel in die verskaffing van werksgeleenthede en voedselsekerheid vir gemeenskappe.”

Vos sê dit bemagtig ook informele handelaars deur hulle toegang te bied tot fasiliteite van wêreldgehalte en groot aankopers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.