Groot herstelwerk aan spoornetwerk begin

Die oorstromings het groot ontwrigting aan die spoornetwerk veroorsaak. (Foto: Transnet)

Die Transnet-pypleiding, wat brandstof en olie na die binneland vervoer, was verlede week weens elektrisiteitsprobleme tydelik buite werking, maar volgens Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, is dit binne 24 uur herstel en bly dit funksioneel.

“Daar is geen gevaar van [brandstof-]tekorte nie.”

Daar is in hierdie stadium ook geen gevaar wat met die opberging van brandstof verband hou nie.

Mpumi Dweba-Kwetana, Durbanse hawebestuurder, sê die minister het verlede week al opdrag gegee dat daar verseker moet word dat brandstofverskaffing nie in die slag bly nie.

Die hawe-owerheid het dus kritiek noodsaaklike vrag geïdentifiseer om te verseker dit kan in en uit die hawe kom.

Vragmotors ry nou noodgedwonge deur die Bluff-gebied om brandstof te vervoer, terwyl toegang tot Island View, waar talle groot petro-chemiese aanlegte – ook dié in private besit – geleë is, ook moontlik is.

“Skepe kan in- en uitgaan en die vervoer van brandstof vind plaas,” sê Gordhan.

Skade aan spoornetwerk

Gordhan, Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, en verskeie ander hooggeplaastes het Dinsdag die gebied besoek om hulle van die skade te vergewis.

Daar is reeds verlede week begin met ʼn skadebepaling aan die spoornetwerk.

Rudzani Ligege, verbonde aan Transnet, sê verskeie walle op spoorlyne het ineengestort en modderstortings is op talle plekke aangemeld. In sommige gebiede is die fondament onder die spoorlyn oor ʼn afstand van tot 100 m heeltemal weggevee.

Die skadebepaling word in drie kategorieë gedeel wat wissel in erns. In die ergste gevalle – sowat 10% van alle skade wat aan die spoornetwerk aangerig is – gaan dit tussen ʼn maand en twee maande duur om omvattende herstelwerk te doen. Hierdie herstelwerk is hoofsaaklik op plekke waar die fondament onder die spoorlyn van voor af opgebou sal moet word om die spoorlyn te dra.

Minder ernstige gevalle beloop sowat 35% van skade. Volgens Gordhan is dit skade wat binne twee tot drie weke herstel kan word.

Altesame 55% van skade wat aan die spoornetwerk in die gebied aangemeld is, is gevalle waar sand byvoorbeeld oor die spoorlyn gespoel het en wat betreklik maklik opgeruim kan word.

ʼn Skadebepaling aan spoorlyne aan die noord- en suidkus word nog afgehandel. Die afgelope naweek se reën kan egter beteken dié assesserings sal aangepas moet word as bykomende skade aangerig is, of die situasie vererger het, sê Gordhan. Die jongste inligting daaroor sal na verwagting Woensdag beskikbaar wees.

Volgens Transnet is die hoeveelheid reën in so ʼn kort tydperk bykans ongekend.

Ligege sê nedersettings kruip boonop al hoe nader aan spoorweë. Die gebied 15 m vanaf die middel van die spoorlyn word as serwituut beskou, maar in die stede word nedersettings al hoe nader aan die spoorlyn gebou. Wanneer water dus van die spoorlyn na dié gebied moet dreineer, verhoed die nedersettings wat daar opgerig is dat dit behoorlik kan wegspoel.

“Ons gaan voort met instandhouding en ons werk saam met die munisipaliteit om die kwessie te hanteer,” sê hy.

Die fokus skuif nou van die hawe, wat weer funksioneel is, na die handhawing van die verskaffingswaardeketting en die vervoerlogistiekstelsel tussen KwaZulu-Natal, Gauteng en die res van die land.

Gordhan sê die Durbanse hawe is nie ʼn streeksfasiliteit nie, maar ʼn nasionale ekonomiese bate wat ʼn uitwerking op die ganse ekonomie het. Juis daarom moet die gebeurlikheidsplanne – of dit nou die beweeg van skepe in en uit die hawe, of die gebruik van padvervoer pleks van spoorvervoer behels – behoorlik aan die sakesektor deurgegee word, sodat hulle te alle tye weet wat hulle kan verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Di ·

Is daar nog so iets soos spoorlyne? Mense in nedersettings teen die spoorlyne het alles al verwoes, selfs die Treinstasies is net bouvalle. Sodra dit HERSTEL word, sal als weer gestroop en verkoop word. Dit is reeds te laat om spoorlyne te probeer in stand hou, dis gaan NOOIT werk nie. Treine wat wel nog loop word aan die brand gesteek deur Taxi organisasies

Niklaas ·

Eks bly om te hoor dat die spoorstawe nog daar is. Skrootwerf eienaars het reeds soveel toenames in winste gehad die afgelope jaar of twee.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.