Groot hoeveelhede reën landswyd aangeteken

Phabeni-brug onder water en gesluit tot verdere kennisgewing (Foto: Kruger National Park, Twitter)

Nog ʼn nat week word vir die noordooste van die land verwag, terwyl die sonskynweer vir die sentrale binneland voorspel word. Groot hoeveelhede reën is reeds die afgelope 24 uur landswyd aangeteken.

Die weerdiens het Dinsdagoggend ʼn geel-kategoriewaarskuwing uitgereik vir ontwrigtende weer Dinsdag vir Gauteng, die westelike gedeeltes van Limpopo en Mpumalanga, die noordelike, sentrale en oostelike gedeeltes van Noordwes sowel as die Vrystaat. Swaar reënbuie sal ook in meeste gedeeltes van KwaZulu-Natal uitsak.

Elani Heyneke, weervoorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), sê hierdie reën- en donderbuie wat met koeler weer gepaardgaan, sal vir die res van die week in hierdie provinsies voortduur.

“Die reën sal teen Donderdag bietjie opklaar en temperature sal effens styg, maar teen die naweek sal die verspreide reën- en donderbuie voortduur,” sê Heyneke.

Paaie net buitekant Pretoria se industriële gebied was Vrydag onder water (Foto: Gauteng Weather, Twitter)

Die weerdiens voorspel dat die reën teen Woensdag stelselmatig meer suid- en weswaarts sal begin versprei en ook in die oostelike gedeeltes van die Noord-Kaap, die westelike dele van die Vrystaat en Noordwes sowel as die oostelike gedeeltes van die Oos-Kaap sal uitsak.

Die grootste gedeelte van die Noord-Kaap sal vandeesweek sonnige en warm weer ervaar, met ʼn skraal kans van geïsoleerde buie in die noordoostelike gedeeltes van die provinsie.

Maroela Media het vroeër berig die tropiese sikloon Eloise het verlede week reeds verwoesting in die meeste provinsies in die noorde van die land gesaai. Verskeie gesinne is dakloos gelaat en sommige groot paaie is nou ontoeganklik weens reënskade.

N4 Samora Machel-weg in Nelspruit onder water (Foto: Thando Graham via South Africa Weather Service, Twitter)

Swaar reën en stormsterkwinde het sedert verlede Saterdag in hierdie provinsies uitgesak en wydverspreide vloede veroorsaak. Dit het sedertdien byna onophoudelik daar gereën.

Gabisile Shabalala, LUR vir gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, doen ʼn beroep op motoriste om versigtig te wees en eerder oorstroomde of laagwaterbrûe te vermy. Sommige paaie in Nkomazi, Mbombela, Thaba Chweu en Msukaligwa se plaaslike munisipaliteite is erg beskadig weens die erge reën wat tot oorstromings gelei het.

“Motoriste moet ook bedag wees op slaggate en los rotse. Gemeenskapslede moet ook nie oorstroomde riviere probeer oorsteek nie,” sê Shabalala.

Die brug by die Krokodilrivier is steeds vir motoriste gesluit (Foto: Kruger National Park, Twitter)

Pretoriuskop in die Krugerwildtuin het Maandagaand altesaam 175 mm reën aangeteken.

Altesaam 115 mm reën in Marken en 78 mm in Swartwater in Limpopo is in die laaste 24 uur aangemeld. KwaDukuza (Stanger) het vir dieselfde tydbestek 70 mm aangeteken, nadat 53 mm reën Sondag reeds in die gebied uitgesak het.

St. Lucia in KwaZulu-Natal het Maandag sowat 106 mm aangeteken. Tot meer as 70 mm is in die Newcastle-omgewing aangemeld.

In Gauteng het die noorde van Krugersdorp Maandag tot 88 mm reën aangeteken. Gedeeltes in Pretoria en Johannesburg het meer as 80 mm reën aangemeld.

Die noorde van Witrivier in Mpumalanga het sowat 111 mm reën vir die afgelope 24 uur aangeteken, gevolg deur Komatidraai met 97 mm en Piet Retief met 70 mm. In die Nelspruit-gebied het tot 81 mm reën in dieselfde tydbestek geval en sowat 63 mm in die Trichardt-distrik.

Teen Sondag het byna 80 mm reën in Standerton in Mpumalanga geval. Ermelo het Sondag en Maandag meer as 50 mm reën gekry.

In Noordwes is 70 mm die afgelope drie dae in Koster aangeteken. Klerksdorp het Sondag 37 mm reën gekry en 27 mm is in Lichtenburg aangeteken.

Die Tsitsikama in die Oos-Kaap het Sondag ook 32 mm reën aangemeld vir die dag.

Vaalrivier tussen Ermelo en Amsterdam op 2 Feb (Foto: Dirkie van Rooyen via Reënval in SA, Facebook)

Die oorstroomde Krokodilrivier (Foto: Kruger National Park, Twitter)

The White Umfolozi-rivier by Vryheid, KZN, is onder water (Foto: Melanie Sander via ReënvalSA, Twitter)

Groot reën in Piet Retief, Mpumalanga (Foto: Yvette Steyn Nortje via ReënvalSA, Twitter)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.