Groot hoeveelheid miergif in vermoorde kleuter se liggaam aangetref

Mortimer Saunders in die hof. Foto: ANA.

WAARSKUWING: Die berig bevat uiters grafiese besonderhede en kan sensitiewe lesers en kinders ontstel.

Jacobus van Zyl, ʼn forensiese ontleder vir die staat, het Woensdag aan die Wes-Kaapse hooggeregshof gesê dat Courtney Pieters (3) wat verlede jaar in Mei vermoor is ʼn groot hoeveelheid miergif toegedien is voor haar dood.

Mortimer Saunders, die man wat beskuldig word van die verkragting van en moord op Pieters, het vroeër aan die hof erken dat hy vir haar miergif ingegee het voor hy haar later verwurg het.

Volgens Van Zyl het hy ʼn deel van Pieters se maag, nier, lewer, derms sowel as bloedmonsters ontvang en is spesifiek gevra om ondersoek in te stel na aanduidings van miergif.

“Ek was baie verras om dit in haar bloed aan te tref, want die meeste plaagdoders metaboliseer baie vinnig en verlaat die liggaam deur die urien of vaste menslike uitskeiding. Dit is in hierdie geval in die bloed aangetref, want wanneer jy doodgaan, stop jou metabolisme,” het Van Zyl gesê.

Hy het ook gesê Courtney is vinnig dood weens die hoë dosis gif, maar daar was steeds genoeg tyd vir metabolisering om plaas te vind aangesien van die gif in haar derms ook opgespoor is.

Van Zyl het 0,8 mg per liter insekweerder in haar bloed en 1,75 ml in haar derms opgespoor.

“Dis erger vir kinders om vergiftig te word en hulle kan nie soos volwassenes herstel nie. Volwassenes se ensieme kan herstel as hulle ʼn klein hoeveelheid gif inkry, maar ʼn kind sal onmiddellik medies behandel moet word,” het Van Zyl gesê.

Courtney is 4 Mei 2017 die laaste keer lewend gesien naby haar huis in Elsiesrivier.

Sy is op 13 Mei in ʼn vlak graf in die Epping-nywerheidsgebied aangetref en Saunders is die volgende dag in hegtenis geneem. Saunders, wat destyds ʼn kamer in die Pieters-huis gehuur het, het vroeër in die hof in ʼn beëdigde verklaring erken dat hy Courtney op 4 Mei 2017 in haar ouerhuis in Elsiesrivier miergif ingegee en toe verwurg het.

Hy ontken dat hy haar verkrag het, maar het wel erken dat hy sy vingers gebruik het om haar te penetreer ná haar dood.

Die saak word na verwagting Donderdag hervat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pop ·

Ek weet nie hoekom word daar n verhoor gehou as hy skuldig gepleit het nie. Vonnis die skuim en gooi hom in tronk saam mans wat met sy gal sal werk. Letterlik.

kas ·

Die hofsaak is belangrik om te bepaal of die oortreder regtig skuldig is en of hy nie die blaam om hom vat om iemand anders te beskerm nie.Hy kan dus maklik onskuldig vir baie jare tronk toe gaan

daro ·

Laat ek liewer nie se wat ek met die monster sal doen as ek hom aan die hande kon kry, want dan sal my kommentaar nie geplaas word nie.

Andrea ·

Wat n siek mens! Liewe Vader, behoed ons en ons kinders van sulke boosheid.

Moedeloos ·

Ek verstaan dit nie! Hy reken hy het nie beplan om haar te vergiftig nie, maar nadat hy dit wel gedoen het, lol hy ook nog met haar. Hoe siek! Mag jy eendag geoordeel word deur die ware Regter!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.