‘Groot ingryping in gesondheidsektor nodig’

(Argieffoto: Tania Heyns/Maroela Media)

Hoewel die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) aangebied word as ʼn oplossing vir die land se gesondheidsorgbehoeftes, gaan dit waarskynlik nie binnekort in werking gestel word nie en moet dit ook nie gesien word as die antwoord vir ʼn gebrek aan sorg nie.

Dít volgens prof. Renata Schoeman, hoof van gesondheidsorgleierskap by die Stellenbosch Sakeskool. Sy sê ook daar is nie net ʼn enkele oplossing vir toegang tot gesondheidsorg nie.

Volgens haar was daar oor die afgelope byna drie dekades ʼn mate van verbetering in die gehalte van sorg, maar die versuim om ʼn basiese standaard van sorg te lewer aan die meer as 84% van die land se bevolking wat op die openbare gesondheidsorgstelsel steun, vererger.

“Die agteruitgang van die gesondheidsorgstelsel kan veral gesien word in provinsies soos die Vrystaat en Limpopo waar ʼn gebrek aan hulpbronne, die wanbestuur van geld en dalende infrastruktuur die armer gemeenskappe raak,” sê Schoeman.

In Suid-Afrika moet daar ook na die stelsel gekyk word teen die agtergrond van stygende armoede, werkloosheid en ongelykheid. Die oorlaaide gesondheidsorgstelsel sukkel om by te hou met ʼn behoefte aan meer sorg weens oordraagbare siektes soos MIV, vigs en tuberkulose, sowel as nie-oordraagbare siektes soos diabetes en vetsug.

“Suid-Afrika se gesondheidsorgstelsel is deurlopend onderbeman. Selfs al is daar ʼn kommerwekkende vakaturekoers, word poste nie gevul nie. Mediese personeel en studente sukkel om werk te kry omdat poste nie beskikbaar gemaak word nie, of bevries word,” sê Schoeman.

Boonop verruil ʼn kommerwekkende getal medici Suid-Afrika vir ander lande weens die gebrek aan beskikbare poste en onsekerheid oor wat die voorgestelde NGV vir die private sektor gaan inhou.

“Die statistieke van nagenoeg 70% van dokters wat in die private sektor werk teenoor die net 30% wat vir die staatsdiens beskikbaar is, skets ook nie ʼn duidelike prentjie nie. Die opgeleide beroepslui is daar, maar daar is ʼn gebrek aan posisies om voor aansoek te doen.

“Dit wys duidelik dat gesondheidsorg in die land nie die begroting, doeltreffendheid of vermoë het om die poste te vul nie.”

Die oneweredige toewysing van hulpbronne onder provinsies is ook kommerwekkend; die streke met die grootste behoeftes, ontvang minder hulpbronne, sê Schoeman.

Sy sê die Wes-Kaapse en Gautengse regering is twee provinsiale regerings wat effens meer aan gesondheidsorg as aan onderwys bestee. “Dit is in teenstelling met die ander sewe provinsies waar onderwys die grootste bestedingsitem is.”

In die 2019-’20-boekjaar was die Vrystaat se begroting R10,8 miljard, in vergelyking met Gauteng se R49 miljard en die Wes-Kaap se R24 miljard.

Die hoër gesondheidsbesteding in hierdie provinsies is die gevolg van nuwe infrastruktuur en uitgebreide dienste wat ʼn infrastruktuur-tekort in provinsies met minder hulpbronne – soos die Vrystaat en Limpopo – veroorsaak.

“Die provinsies wat hul geld meer doeltreffend bestuur en geld aan inrastruktuur- en hulpbronontwikkeling toewys, word versterk met ʼn groter gedeelte van die nasionale begroting. Dit laat landelike gebiede en hul inwoners met swakker gesondheid,” sê Schoeman.

Sy doen verskeie voorstelle aan die hand om die stelsel te verbeter. Dit sluit in sterk, gekwalifiseerde en etiese leierskap om korrupsie te bestry en begrotings beter te help bestuur; die werwing en behoud van mediese beroepslui en die ontvries van poste om personeeltekorte te verminder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.