Groot ingryping om Molopo-reservaat se diere te red

(Foto: Verskaf/Jaco Holtzhauzen)

Skokfoto’s van uitgeteerde en dooie diere langs droë watergate het tot groot woede gelei oor die haglike situasie by die eens gesogte Molopo-natuurreservaat in Noordwes. Inwoners van die gebied sê die reservaat, in staatsbesit, het in ʼn dorre en verwaarloosde stuk grond verander waar verskeie diersoorte wat voorheen in groot getalle hier aangetref is, nou een ná die ander verdwyn.

Maroela Media het vroeër berig boere en ander inwoners van die distrik moet daagliks magteloos toekyk hoe diere weens dors en hitte-uitputting vrek. Die lyding waaraan groot troppe wild nou reeds maande lank – weens ʼn gebrek aan water – blootgestel word, het nou ook ʼn krisispunt bereik.

Henro Byleveld, voorsitter van Agri Vorstershoop, het vroeër aan Maroela Media gesê daar word absoluut geen drinkwater aan diere in dié reservaat voorsien nie en dat dié vereniging besluit het om self in te gryp.

“Water word nie gepomp nie, watergate staan dolleeg, boorgate en pompe word nie onderhou nie,” sê Byleveld.

Dít terwyl die kwik in groot dele van die land, ook in die reservaat, bly styg.

(Foto: Verskaf/Jaco Holtzhauzen)

Boere ry nou water met hul voertuie vir die diere aan terwyl daar ook met die departement van parke en toerisme in Noordwes oor volhoubare planne vir die toekoms onderhandel word.

“Ons het Maandag met bestuurslede van die betrokke departement vergader. Dit het goed afgeloop en ons behoort binnekort die planne in werking te stel,” sê Byleveld.

Hy sê baie werk en baie geld is egter nodig om hierdie projek te pak.

Bure van reservaat help reeds

(Foto: Verskaf/Jaco Holtzhauzen)

Pieter Nel, waarnemende bewaringshoof van die Noordwes parke- en toerismeraad, het verduidelik dat daar geen natuurlike waterbronne in die Molopo-natuurreservaat is nie en dat water aan diere deur ʼn stelsel van boorgate en waterkrippe verskaf word.

“Daar is sewe boorgate en water word met dieselenjins gepomp. Die stelsel is egter stokoud en vervalle en is nou al tot die uiterste beproef.”

Volgens Nel is daar in hierdie stadium slegs drie gate wat nog semi-werkende stelsels het om water te pomp. Nog water word deur ʼn buurman aan die oostekant van die reservaat verskaf om ʼn vierde watergat van water te voorsien en ʼn vyfde gat word tans deur ʼn buurman aan die noordekant van die reservaat onderhou.

“Dit is natuurlik nie volhoubaar nie en daarom van uiterste belang dat die reservaat nou na ʼn selfonderhoudende stelsel beweeg,” sê Nel.

“Die huidige stelsels moet gereeld gediens word en verg deurlopende onderhoud om te verseker dat dit voldoende funksioneer. Die water in die Molopo-streek is ook brak en sout, wat veroorsaak dat pompe, pype en stawe baie maklik roes en verdere probleme veroorsaak.”

(Foto: Verskaf/Jaco Holtzhauzen)

Volgens Nel is herstelwerk aan pompe en toerusting gedoen soos vereis, “maar die afgeleë ligging van die reservaat en afstand van geregistreerde diensverskaffers – soos vereis deur die raad se voorsieningsketting-bestuursprosesse – het prosesse vertraag en boorgate sou vir dae aaneen” nie werk nie.

“Hierdie probleem is al verlede jaar geïdentifiseer en die behoefte aan ʼn sonaangedrewe stelsel met voldoende berging – om kop bo water in onderbrekings te hou – is ons eerste prioriteit.”

Nuwe plan in werking gestel

Nel sê ʼn plan is reeds in Januarie vanjaar ontwikkel en vir prioriteit-befondsing ingedien.

“Ons was egter onsuksesvol. Die plan is later – met insette van plaaslike boere – hersien, waarna dit, ook onsuksesvol, aan private sakeondernemings vir befondsing voorgelê is.”

Hy meen die jongste watervoorsieningskrisis spruit uit vertraagde toevoer van diesel om die enjins te laat loop om sodoende water te pomp.

“Dit het egter die onstabiliteit van die stelsel – en die behoefte om voorsiening daarvoor te maak – blootgelê deur na ʼn selfonderhoudende stelsel te beweeg, waarna dié plan eindelik heroorweeg is.

(Foto: Verskaf/Jaco Holtzhauzen)

“Die reservaat het befondsing ontvang om die huidige dieselaangedrewe monopompstelsels by al die boorgate met ʼn sonaangedrewe stelsel te vervang.”

Volgens Nel sal daar ook ʼn groot boorgat geboor en toegerus word om watervoorsiening in die noordelike dele van die reservaat aan te vul.

“Daarbenewens sal groot reservoirs by elke watergat gebou word om voorsiening te maak vir twee tot drie weke se bystand in geval van nood.

“Hierdie projek sal onmiddellik begin, en ons hoop om die meeste daarvan voor Kersfees te voltooi,” sê Nel.

“Boere met ondervinding in die bestuur van water in die Kalahari werk skouer aan skouer met die reservaatpersoneel om die situasie te stabiliseer terwyl die plan in werking gestel word.”

ʼn Skarefinansieringsveldtog op BackaBuddy is ook intussen van stapel gestuur. Meer as R45 000 is reeds vir die projek ingesamel.

“Die raad is oorweldig deur die ondersteuning van die plaaslike boere-unies, individuele boere, private sakeondernemings en selfs individue van ver wat tot die projek bygedra het. Ons is julle ewig dankbaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

electricmango ·

Absolute tragedie, is maar ook soos dit gegaan het voor Jan hier geland het.

Ore ·

En êrens in ‘n kantoor sit ‘n oorgewig minister/ parlementslid en bestuurslede met bottels vol water en eetgoed. Gaan iemand tot verantwoording geroep word?

Di ·

SO gaan dit in hierdie korrupte land, NIKS word in stand gehou nie! Ons as burgers moet telkens intree om dit wat vir ons van belang is, te beskerm

Kabous ·

Iemand het gesit en slaap terwyl die diere vrek en verseker was dit nie die ANC nie, ek gee die bestuur die skuld hier en as die skoen jou pas trek hom aan, jy weet na wie verwys ek, na jou!!! Hoekom het jy nie al lankal vir die boere gevra om te help nie??

Oosieoos ·

Die regering is dik gevreet maar die diere moet honger ly. Hoop hulle kry hul loon

Johan ·

Met die Oliefantplaag is dit die Krugerwildtuin se voorland ook. As diere nie uitgedun word nie moet dit op n katastrofiese uitsterwing afstuur met n droogte, maar nou ja, mense dink dit is wreed om diere getalle te bestuur, so nie nou huil nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.