Groot karakter in SA gholf na lang stryd oorlede

Simon Hobday (Foto.2014.usopen.com)

Simon Hobday (Foto.2014.usopen.com)

Sekerlik een van die grootste karakters en mees geliefde spelers in Suid-Afrikaanse gholf is Woensdag na ʼn lang stryd teen kanker oorlede. Hy was 76.

Simon Hobday was nie net ʼn talentvolle gholfspeler nie maar ook ʼn mens wat aan sy medespelers, toeskouers en die media baie plesier verskaf het met sy spitsvondige bekkigheid en ander onnutsighede. Almal wat met hom te doen gekry het, sal ʼn staaltjie oor hom te vertel hê.

‘Hobbers’ is in 1940 in Mafikeng gebore en het ʼn deel van sy lewe in Zambië en  die destydse Rhodesië gewoon.  Hy het in 1969 sy professionele gholfloopbaan begin.

Hobday het hoofsaaklik in die Sonskynreeks gespeel waar hy ses keer gewen het, maar het op die Europese toer die Duitse Ope in 1976 en die Madrid Ope in 1981 gewen.

Hobday het die Suid-Afrikaanse Ope Kampioenskap in 1971 gewen en ook drie titels in Zimbabwe: die Rhodesiese Dunlop Meesters en die Victoria Falls Classic, albei in 1987, en die Rhodesiese Ope in 1979.

Hy het ook in 1981 die ICL Internasionale toernooi  by die Swartskop-buiteklub  en in 1985 Trustbank se Toernooi van Kampioene gewen.

As senior het hy in die VSA op die Senior PGA-toer (nou die Kampioenereeks) gespeel waar hy vyf keer tussen 1993/’95 met die louere weggestap het, insluitende ʼn senior major-toernooi in 1994 toe hy die Amerikaanse Ope vir seniors gewen het.

♦  Selwyn Nathan, uitvoerende direkteur van die Sonskynreeks, het meegevoel met sy vriende en familie betuig en gesê Hobday se afsterwe laat ʼn groot leemte in gholf, veral in Suid- Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.