Groot keuses voor politieke partye oor koalisies in Tshwane

(Argieffoto)

Die EFF se aandrang op die burgemeesterskap van die Tshwane-metro in Pretoria stel vier politieke partye – die ANC, DA, EFF en VF Plus – voor groot keuses binne die volgende week.

By navraag is al vier partye tans besig om hul opsies ernstig en versigtig te oorweeg.

Veral die DA, EFF en VF Plus se situasie op munisipale samewerkingsvlak kan binnekort omvattend verander, en die gesprekke binne die partye fokus tans daarop om ʼn balans te vind tussen die belange van die kiesers, die munisipaliteite, die land en die strategiese belange van die partye se toekomstige groeipotensiaal.

Binne die DA is gesprekke en meningsverskil oor wat om te doen tans baie intens, en dit lyk baie moontlik dat samewerkingsooreenkomste met ander partye opgesê kan word sodat die party sy identiteit kan herbou en deur sy optrede kiesers wat hy veral aan die VF Plus afgestaan het, kan probeer terugwen.

“Die keuse voor die party is om vas te stel wat sy kiesers van hom verkies en wat in hul belang is. Die samewerking met die EFF was baie moeilik. Die probleem is dat jy, as jy dit opsê, die moontlikheid van ANC/EFF-koalisies skep, wat regtig nie in DA-kiesers se belang is nie,” het een goed geplaaste DA-bron verklaar.

Die DA-leierskap moet nog oor die kwessie byeenkom, maar voor die verkiesing is ʼn beginselbesluit geneem dat beleidskwessies samewerkingsopsies sal bepaal. Sentraal hiertoe sal die hantering van grondeienaarsdispute in Tshwane wees.

ʼn Ander senior DA-bron het die volgende gesê: “Ek kan eerlikwaar nie dink dat ons ʼn koalisie met die EFF selfs kan oorweeg nadat ons plakkate opgesit het dat mense DA moet stem om die ANC en EFF uit te hou nie. Dit is so dat baie mense ons gewaarsku het om nie daardie plakkate te gebruik nie, maar ons het, so dis nou hoe dit is.

EFF-leier Julius Malema (Foto: Nokuthula Mbatha/African News Agency/ANA)

“Ek dink voorts dat, terwyl dit waar is dat ʼn mens nie ons kiesers aan ʼn ANC/EFF-koalisie wil uitlewer nie, ons moet erken die samewerking met die EFF het nie goed gewerk nie en die politieke landskap het met die verkiesing verander. Ons moet hierdie koalisies en samewerkende regerings opsê en ons eie paadjie uitkap.”

Binne die EFF word by diegene wat nie met die ANC wil saamwerk nie, gehoop dat die DA wel op ʼn model van magsdeling met die EFF ooreen kan kom. Ander in die EFF wou nog altyd met die ANC saamwerk en hoop dus vir die teenoorgestelde.

“Die slegste onlangse oomblik vir samewerking tussen die opposisiepartye was toe die ANC net-net meer as 50% in Gauteng se provinsiale verkiesing gekry het. Ai, ons sou hulle darem geroer het, hoor!” het ʼn EFF-bron gesê.

“Boonop sou dit die VF Plus voor min ander keuses gelaat het as om met hul mede-opposisiepartye saam te werk teen die ANC, maar nou het hulle nie nodig om dit te doen nie. Ons besef dit perk die DA se beweegruimte in. Tydens formele onderhandelings met hulle – wat nog moet plaasvind – sal ons maar sien hoe dit gaan, maar ons kan uiteraard nie op al ons beleidspunte toegee nie,” het die EFF-bron gesê.

Dr. Pieter Groenewald. Foto: Reint Dykema

Die EFF-leier, Julius Malema, het reeds Donderdag tydens ʼn mediakonferensie in Johannesburg verklaar dat dit die EFF se voorkeur is om met die opposisie saam te werk teen die ANC, maar dat hulle ook nou magsposisies wil hê om hul beleid in die praktyk op die proef te stel.

Die VF Plus sit in baie dieselfde posisie as die DA betreffende die EFF, behalwe dat hulle waarskynlik nie vir enige mislukkings geblameer sal word nie – dit kom in die praktyk op die bord van die grootste party, soos wat suksesse ook sou.

“Ons moet oorweeg wat in ons kiesers se belang is. ʼn ANC/EFF-koalisie is nie in ons kiesers se belang nie, maar daar is absoluut geen manier dat ons vir ons kiesers sal kan oortuig dat ʼn EFF-burgemeester in Pretoria in hul belang is nie,” het ʼn goed geplaaste EFF-bron verduidelik.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het aan Maroela Media gesê sy party het ʼn beleid om wel waar nodig met die EFF saam te werk en met ander opposisiepartye koalisies te vorm om die ANC uit te hou, maar nie om met die EFF in koalisie te wees (dus waar die EFF uitvoerende pligte het) nie. “Daardie posisie staan vas. Ons sal ook nie instem tot ʼn EFF-burgemeester in Tshwane nie,” het Groenewald gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

44 Kommentare

Boerin ·

Daarsy…nou is ons uitgelewer ! Kan jy jou indink..n EFF burgermeester vir Pretoria
Ons moet bid, en bid, en bid!

Kallie ·

Die EFF gaan nog die land regeer. Net die DA kan hulle stop.

Johan ·

Kalie. Die DA kan nie die EFF stop nie. Hulle is dan bed maatjies.

willem botha ·

Dit is n goeie ding met die beloftes wat die rassis malema gemaak het gaan sy eie mense hom brand die hoofstad sal daarmee heen wees maar die rassis malema sal self nie meer wees nie.

Johan ·

Ten minstens staan die VF+ op vir ons mense. Ek wag nog vir die DA om dit te doen. Hulle is te rugraatloos daarvoor. Wanneer die DA wakker skrik is dit te laat.

TN ·

Die belaglike stemmery van kiesers het die DA in ‘n baie ongemaklike posisie __ as die enigste party wat Suid-Afrika eerste plaas kan weiering van die DA om met die EFF saam te werk , die deur oopmaak vir ‘n EFF/ANC-koalisie wat geensins goeie werk kan afgee nie ; andersyds word die party deur die kiesers gestraf omdat die regses nie strategies kan dink nie . Ons land bly die bakermat van dwarstrekkery want kyk mooi , binne die VF+ is reeds hope kiesers wat nou aan my erken het dat hulle ‘n fout gemaak het . Die lawwe party gaan skeur so seker as wat ek hier sit en tik ! Propageer oorlog omdat ‘n juffroutjie naief genoeg was om ‘n foto op sosiale media te plaas wat liewer op haar eie foon moes gebly het !

Adri ·

TN, dit gaan nie oor wat die juffrou gedoen het nie, maar oor die DA se reaksie daarop. Die DA kan nie die een oomblik ons mense verguis en dan skielik weer op ons mense se ondersteuning aanspraak maak nie. Hoe dom dink jy is ons mense?

Wim ·

Baie mense met wie ek gepraat het sê nou weer hulle moes nooit DA gestem het nie.Wonder wie van ons is nou reg.DA het nog nooit in jou belange belang gestel nie net jou stem op verkiesings dag

Joey ·

Dit is beslis nie die enigste rede waarom mense nie DA gestem het nie. Die leier se uitspraak oor wit mense, apartheid ens . was beslis ń groter rede en dan natuurlik sekere korrupte leiers wat deel van DA span is

Judge Dredd ·

Jy se dan hoe samewerkend jy optree?
Hoe kan ek ‘n party steun wat saam met die EFF werk en so al samewerkend minderheids regte vertrap?

TN ·

@ Wim __ DIT is wat julle nooit sal verstaan nie ! Die land se belange is belangriker as my eie Afrikaanse mishopie ! Mense met ‘n bietjie politieke nous het hierdie moontlikheid van samewerking tussen die ANC en die EFF sien kom __ die regses kerm oor Afrikaans , kerke en wat nog . En mense soos Judie glo nie aan geboortebeperking nie __ hulle verkies om kinders in die uiterste armoede te sien krepeer met GEEN toekoms nie !

Johan ·

TN, hoe kan daar met n rassistiese party soos die eff n koalisie gevorm word net om die anc uit te hou? Die DA se plakkate se dan stop die EFF. Hoe dan nou? Die DA weet nie wat hulle wil he nie.

Pieter du plessis ·

Die stadiges onder ons as twee politieke partye amper dieselfde beleid soos die anc en anc lite het en jy het iewers gehoor jy mors jou stem op n klein party dan moet jy anc stem hulle is mos die grootste party.

Riaan ·

Jy leef in ‘ n droom wereld. Da enigste party wat SA eerste plaas?????? Grapkas!

Andre ·

Jy moet net besef dat die VF+ lede meer grys materiaal het as as 80% van die res van die kabinet

EenOog is ook koning ·

Gaan liewers koalisie aan met almal behalwe ANC/EFF/BLF , Sal julle , julle siele verkoop aan die Duiwel net om mag te he?
Ek vra maar net , Dis waar die DA my stem verloor het toe hulle in die bed gespring het met die duiwel

Adam ·

Jy ken die Engelse spreekwoord: “sometimes you have to dance with the devil”. Ongelukkig is dit van toepassing op beide die DA en VF+, wie beide hulle herhaaldelik in die toekoms in die posisie gaan vind. Dit is hoekom die selfbeskikking voorstander eerder erwe op die maan moet probeer koop.

Schalla ·

Nee wat dan maar eerder geen koalisie nie. Dit sal nou wees om met die duiwel te slaap!

Better the devil you know than the devil you don’t?

Andreas ·

Gordel vas, of eerder, vat daai toom vas dat die wit so om die kneukels sit, byt op die tande, klem met die knieë, want die wildste perd wat vir jou ‘n ongekende nagmerrie wipwarit onder deur donker tonnels van die stad se ou mynskagte sal besorg en waar woeste drake met grille en giere om elke draai vir jou wag is … die EFF.

Andreas ·

Ek sit ek kyk na die foto aan die voorkant van die berig en dink die Jakarandas blom mos Novembermaand, so dit staan darem nog.

Judie ·

Dis nie al waaroor jou srem gaan nie. Kyk na die partye se manifeste. Jy kan nie bv. se “Ek is n christen en teen aborsie” en dan vir n party stem wat dit goedkeur nie. Mens moet met jou gewete en geloof stem.

Kallie ·

Wat gaan van ‘n twaalfjarige kind se baba word. Reg, nog ‘n straat kind wat teer op misdaad.

Jr ·

As die VF Plus saam gaan sit met daai EFFing party sal ek nooit weer vir julle stem.

TN ·

Dan kan jy maar solank regmaak om nooit weer vir hulle te stem nie want die DA , EFF en VF+ gaan waar nodig samewerkings-ooreenkomste aangaan __ LW dit is NIE ‘n koalisie nie .

Jaco ·

Ag nee, Jan-Jan, wat is jy nou so negatief?
Die beste wat kan gebeur is as die burgemeester van Johannesburg Herman Mashaba is met EFF en VF+ lede in die komitees en andersom in Tswane , met ‘n EFF burgemeester.
Julle sal sien, saam sal ons hierdie land vorentoe vat.

Adam ·

Andreas, jy is seker baie trots op die feit dat Dr Groenewald wel ‘n mandaat het om waar nodig met die EFF saam te werk. Kan jy nou insien hoekom ek ‘n alliansie tussen ander partye (nie ANC en EFF) bepleit? Onthou net, hierdie is nog koalisies op derdevlak-regering en wanneer dit by provinsiale of nasionale vlak ter sprake gaan kom is daar baie meer op die spel.

Andreas ·

Adam, dis nog baie vroeg, kom gee kans ek kyk hoe dinge plooi. Ek glo egter dinge is nou op die regte pad. mens weet ten minste nou waar jy met elke party staan.

Michelle leR ·

Nou hoe dan nou, kon sweer ek het iewers gesien DA het gesê hulle sal beslis NIE saam EFF werk na die verkiesing???!! Hoop die wat DA gestem het sien die party vir wat hulle is.
Maar nou ja, VF sien my ook nie weer as hulle met so iets voortgaan.

Gert van Wierdapark ·

Die beste opsie in Tshwane is om die a en see uit te hou, kom wat wil! Indien die DA EN ander hardekwas sou wees om nie met die EFF saam te werk nie, is die ANC terug in die kussings in Tshwane en dan gaan die narre ons met “n nare goed” bykom,” mark my words”. Dis tog “common sense” om eerder in beheer van die Burgemeester komitee te wees, as om in die Opposisie banke te wees! Gaan Groot, of Gaan Huis toe met die kous oor die kop! Moenie dat Slim sy Baas vang deur hardekwas te wees nie! Asb DA en ander, laat LOGIKA seevier

Johan ·

En hoeveel grond in wittes se besit gaan net nie onwettig beset word nie? Gaan die metropolisie hulle dan verwyder? Hoelank dink jy gaan ons standbeelde is Pretoria bly staan. Ons erfenis gaan weggevee word. Dit gaan gebeur wanneer die eff aanbewind kom. Maar die wat so hardkoppig DA stem wil dit nie insien nie, want da/eff koalisie is belangriker. Ons word deur ons eie geledere uitgekoop vir n koalisie met n party wat openlik haatspraak teenoor ons wittes doen.

M ·

Nou te laat om te kerm. Julle moes almal vir EEN opposisie party gestem het om EEN teenstem te hê. Toe stem almal vir amper 50 partye en nou het niemand ‘n sê nie. Nou wil ‘n groepie saamstaan om ten minste iets te red in die chaos, en weer is almal op hul perdjie oor wie wil saam met wie in die bed klim. Intussen verloor almal. Is dit nou logiese beredenering of is dit emosionele ellendigheid?

Judge Dredd ·

Ja jong ons moet saamstaan – maar ek sou dink dat minderhede sou saamstaan agter ‘n party wat minderheidsregte probeer beskerm/bevorder – nie saamstaan agter ‘n party wat minderheids regte ignoreer nie.

So ja – kom ons staan saam agter die VF+ of die DA beter sy houding teenoor minderhede drasties verander.

Cherokee ·

Dit sou slegs logies wees as jy Attie reg onder jou, ondersteun.
Tel die stemme van die opposisie partye bymekaar en vergelyk die totaal met die van die ANC en EFF, dan kan jy vir jouself besluit of dit logiese of ellendige beredenering is.

VF Plusser ·

Attie, hierdie jaar het ek ook VF+ gestem omdat die DA saamwerk (of eerder in koalisie is) met die EFF. Tot my skok kom ek toe op 9 Mei agter die VF+ is, saam met die DA, ook in koalisie met die EFF. In onder andere Nylstroom én Thabazimbi. Daar word hoog opgegee dat hul NIE IN KOALISIE IS NIE, maar dat dit slegs ‘n samewerkingsooreenkoms met die EFF is. Maar, die DA en VF+ raadslede kry lekker vet salarisse op die burgemeesterskomitee danksy die EFF. Veronderstel die EFF “onttrek” uit die samewerkingsooreenkoms, verloor daardie DA- en VF+ raadslede hul vet salarisse. DUS, DIE DA éN VF+ IS 100% AANGEWESE OP DIE EFF. Vir die DA en VF+ om “in beheer” te bly, moet hul maar dans soos die EFF speel. [Ek het kennis van dié goed, was self 12 jaar op ‘n munisipale Raad). Ten slotte, die DA en VF+ probeer hul kiesers ‘n rat voor die oë draai om te sê dis ‘n “samewerkingsooreenkoms” met die EFF. Dit bly steeds ‘n koalisie! Ek sal nie weer DA of VF+ stem nie. Die DA en VF+ wil die duiwel (ANC) uit ‘n magsposisie hou, met die hulp van Satan (EFF)? Dis dieselfde EFF wat beplan om ‘later’ witmense dood te maak – witmense wat nou vir die DA en VF+ gestem het. Waarom kla die DA en VF+ dan soms oor die EFF? (Vir die eyeblind?)

Judge Dredd ·

Die liberales is mos lief om saam in die bed van die linkses te spring.

Andreas ·

Ek kon dié een nie weer hou nie, “En die regses rits in mekaar se beddens rond”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.