Groot klopjag om onwettige mynbedrywighede te stuit

Altesaam 70 mense was Woensdag en Donderdag in aanhouding. Die meeste was onwettige immigrante. (Foto: Wikus de Wet / AFP)

Talle mense is vandeesweek in verband met onwettige mynbedrywighede in hegtenis geneem toe lede van die Suid-Afrikaanse weermag en polisie ʼn massiewe klopjag in die Soul City-nedersetting naby Kagiso in Johannesburg uitgevoer het.

Dié nedersetting is naby verskeie myne wat tans in onbruik is.

AFP-verslaggewers wat op die toneel was, sê hordes weermag- en polisielede het sinkhuise deursoek, verdagtes aangehou en op myntoerusting beslag gelê.

Volgens lt.genl. Elias Mawela, provinsiale polisiekommissaris, was meer as 70 mense Woensdag en Donderdag in aanhouding. Die meeste was onwettige immigrante.

Ander verdagtes is in verband met dwelmhandel en die besit van onwettige vuurwapens in hegtenis geneem.

‘Genoeg is genoeg’

Pres. Cyril Ramaphosa het vandeesweek tydens ʼn seremonie vir nuwe polisierekrute in Kimberley gesê Suid-Afrikaners is moeg vir misdaad.

“Genoeg is genoeg.”

Hy het in November die ontplooiing van 3 300 troepe goedgekeur om die polisie te help om misdaad te bestry.

Duisende nuwe polisierekrute sal vandeesmaand ook met diens in die polisie begin. Sommige van dié rekrute was deel van vandeesweek se klopjag naby Kagiso.

Benewens misdaad soos moord, verkragting en roof, is onwettige mynbedrywighede ook ʼn massiewe probleem in Suid-Afrika.

Onwettige myners, algemeen bekend as zama-zamas, kom gewoonlik van ander lande. Pogings om onwettige myners in hul spore te stuit lei dikwels tot konflik en gewelddadige konfrontasies met wetstoepassingsowerhede.

Gevegte breek dikwels ook onder onwettige myners uit, aangesien die toegang tot ou myne dikwels deur bendes beheer word wat met mekaar vir terreinbeheer meeding.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.