Groot kokkerot-uitbreking in SA

(Foto: Pixabay/Anja van der Merwe)

Suid-Afrikaners wat reeds spartel met beurtkrag en wateronderbrekings het nou ʼn nuwe uitdaging: ʼn groot kokkerot-uitbreking.

Volgens dr. Gerhard Verdoorn, CropLife SA se bestuurder van operasionele sake en rentmeesterskap, is kokkerotte wat in huise krioel allermins ʼn vreemde verskynsel, maar oproepe na CropLife SA se noodlyn dui op ʼn massiewe oplewing landwyd in wat bekend staan as Duitse kokkerotte.

“Dit is nie net die klimaat wat die toename in getalle veroorsaak nie, maar ook onhigiëniese toestande in gemeenskappe,” sê Verdoorn.

Pesbeheer

(Foto: Pixabay/Anja van der Merwe)

Volgens Verdoorn is goeie pesbeheer van kardinale belang om die uitbreking te stuit. Dit begin by die ontsmetting van huise en die verwydering van vullis en oorskietkos uit huise.

“’n Vuil kombuis wat besaai is met oorskietkos, asook troeteldierkos, benodig ernstige ingryping om onwelkome besoekers weg te hou en te keer dat daar later ’n kokkerot-kolonie in jou huis wemel.”

Verdoorn beveel aan dat vullissakke in plastiekwielhouers of dromme gehou word sodat kokkerotte dit moeiliker kan bykom.

“Vloeroppervlakke, potensiële broeiplekke en skuilplekke in kombuise, spense en badkamers moet deeglik gewas en ontsmet word met ʼn verdunde oplossing van natriumhipochloriet (huishoudelike bleikmiddel).

“Plekke wat kokkerotte lok en huisves, sluit in elektriese toestelle soos yskaste en wasmasjiene, kaste onder kombuis- en badkamerwasbakke, afvoerpypholtes in mure, koskaste, dreine en donker geslote gebiede soos motorhuise. Kokkerotte geniet die hitte en humiditeit onder elektriese toestelle en wasbakke, en dit is waar hulle dikwels aanteel.”

Kokkerotte is hoofsaaklik snags aktief, maar die huidige uitbreking is van só ʼn omvang dat dié insekte nou ook bedags in huise opgemerk word.

“Huiseienaars, die kitskosbedryf, die kleinhandelsektor en gasvryheidsbedryf behoort vinnig op te tree om die kokkerot-uitbreking in Suid-Afrika te stuit.”

Só maak jy

Verdoorn sê die toename in kokkerot-besmetting het ook tot ʼn groot toename in die onwettige gebruik van plaagdoders gelei wat nie vir binnenshuise gebruik geregistreer is nie. Hy waarsku dat dit moontlike rampspoedige gevolge kan inhou.

“CropLife Suid-Afrika waarsku mense om slegs geregistreerde plaagdoders streng volgens die aanwysings op die etiket te gebruik om die gesondheidsimpak op hulself, hul gesinne of hul klante te vermy. Moenie ongemerkte plaagdoders in klein houers van sosialemedia-adverteerders of straatverkopers koop nie, aangesien daardie produkte waarskynlik ʼn ernstige gevaar vir mense inhou wanneer dit binnenshuis toegedien word.”

ʼn Berokingsmiddel in ʼn spuitkannetjie of ʼn berokingstablet kan die meeste kokkerotte ʼn vinnige uitklophou gee. “Verbruikers moet veiligheidsinstruksies volg deur ʼn gesigbedekking te dra en die perseel van alle inwoners te ontruim vir die duur van die beroking.”

Indien die diens van ʼn plaagbeheeroperateur gekontrakteer word, moet verbruikers aandring op bewys van registrasie as ʼn berokingsplaagbeheeroperateur kragtens die Wet op Misstowwe, Plaasvoere, Landboumiddels en Veemiddels, 1947 (Wet No. 36 van 1947). ’n Registrasiesertifikaat uitgereik deur die registrateur van Wet No. 36 van 1947 is die enigste geldige sertifikaat, sê Verdoorn.

“Verbruikers moenie operateurs aanstel wat nie ʼn geldige registrasiesertifikaat van die kantoor van die registrateur ontvang het nie. Kontroleer ook watter plaagdoder die plaagbeheeroperateur gebruik. Neem kennis dat suiwer dichlorovos en aluminiumfosfied nie binnenshuis toegedien mag word nie weens die hoë gevaar en risiko wat hierdie produkte inhou. Daar is geregistreerde berokingsmiddels wat 12% of minder dichlorovos bevat wat gebruik mag word, maar streng volgens die veiligheidsinstruksies op hul etikette.

“Oppervlakbespuitings wat piretroïede bevat, kan as ’n opvolgmeganisme toegedien word ná beroking, veral onder elektriese toestelle, wasbakke en in afvoerpypuitlate. Wees versigtig om persoonlike beskermende toerusting soos rubberhandskoene, gesigbedekking, hemde met lang moue en broeke met lang pype te gebruik. Moenie enige insekdoder toedien terwyl mense en troeteldiere binnenshuis is nie; hulle moet net weer ingaan wanneer behandelde oppervlakke droog is.”

Lokaas vir kokkerotte is ook hoogs doeltreffend en hou ʼn baie lae risiko vir mense en troeteldiere in, sê Verdoorn. Geregistreerde lokaas is beskikbaar om in lokaasstasies te gebruik, waar kokkerotte die meeste geneig is om snags te eet, soos binne die spens of in die hoeke van kombuisbladblaaie.

CropLife SA werk nou saam met die direktoraat van landbou-insettebeheer (DAIC) om mense wat hoogs giftige stowwe, soos suiwer dichlorovos, onwettig via sosiale media verkoop, vas te vat.

“Die inspektoraat het tot dusver ernstige ingrypings in ongeregistreerde plaagdoders gemaak en het groot sukses behaal met die beslaglegging van groot hoeveelhede van sulke ongeregistreerde en hoogs gevaarlike produkte.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

TruthDealer ·

Hier in die Laeveld is ons al so gewoond aan hulle. Dit maak nou nie saak Wat mens doen nie. Hulle vlieg selfs in van buite. My seun het eendag een so hard geslaan met sy plakkie, daar was nie n teken van kokkerot oor nie, nie eens op sy plakkie nie. Hy het gesê: “Mom i do believe i just hit it totally into another dimension”. Dit was weird:-) Soms moet mens seker maar net lag in hierdie land.

marius ·

Die verval in die hool is die oorsaak . Gaan kyk hoe lyk die strate en tussen geboue. Een groot vullis hoop .

Erika ·

Produk wat beslis werk vir kokkerotte is “Green leaf cockroach killing bait” omdat ek in ‘n kompleks bly, strooi ek gereeld van hierdie “gif” verder was ek my vloere elke dag, met toilet cleaner en Dettol. Gooi ook elke aand Toilet cleaner en Jik in al wat drain is af, met kook water.

Snags as mens wakker word, en jy hoor iets in jou kamer, kan jy maar lig aansit, is een van die goed wat by venster ingevlieg het. Is reuse goed, lyk soos ‘n skaatsplank!

Maar ongelukkig broei die goed oral uit, kyk maar net hoe lyk dit oral om mens, die strate, parkies, spruite, tussen geboue, niks word meer skoon gemaak of skoon gehou soos jare terug nie. Waag mens in stad stap, al die reuke wat mens kry, en al die gemors wat oral lê, is maar broeiplek vir hierdie peste.

Martie Smartie ·

Net jammr mens kry nie n blikkie wat jy spuit en siedaar, ANC kokkerotte omgedop, pens en pootjies in die lug. Kan iemand so iets patenteer asb, ek bestel solank 700 miljoen blikkies en deel gratis uit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.