Groot kommer oor aantal poste by Gautengse skole

skool-skoene

Foto: Pinterest.com

Hoofde van die meeste hoërskole in Gauteng sit met hulle hande in die hare omdat hulle inderhaas moet rondskarrel om te verseker dat hulle al hulle onderwysers vir 2018 kan behou en bekostig.

Sowat 90% van die openbare hoërskole in die provinsie het ʼn week voor die skole vir die jaar sluit kennis van die Gautengse onderwysdepartement ontvang dat hulle nie al die posvoorsienings sal kry waarvoor hulle aansoek gedoen het nie. Die departement het ook die posvoorsiening vir instelling van Afrika-tale by laerskole gestaak en hoofde versoek om nie die poste te vul nie.

Van die hoërskole verloor tot ses poste wat nou nie meer deur die departement gefinansier sal word nie. Onderwyskenners meen dit kan die skole se funksionaliteit beïnvloed en sal ʼn negatiewe uitwerking op die gehalte van onderrig by die skole hê.

“Dit plaas die skole in ʼn baie moeilike posisie, want hulle begrotingsvergaderings is klaar afgehandel en nou moet hulle skielik vir nuwe poste beplan,” het Etresia Raubenheimer, provinsiale verteenwoordiger vir die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU), aan Maroela Media gesê.

Sy het ook bevestig dit is besonder laat om dié soort kennisgewing nou aan die hoofde te verskaf. “Volgens die Skolewet moet posvoorsienings reeds op 30 September aan die skole voorsien word, maar die departement sal sê dit is vakbonde se skuld omdat die posvoorsiening eers só laat plaasgevind het. Ons het die eerste posvoorsiening afgekeur, want daar was toe nog minder poste vir die skole begroot.”

Die posvoorsiening vir Gauteng was 56 741 onderwysers vir openbare skole en dit is nou met slegs 615 onderwysposte verhoog vir die komende jaar.

Raubenheimer het gesê die onderwysdepartement se toewysings hou eenvoudig nie tred met die groeiende leerdergetalle by skole nie.

Sy reken die departement is finansieel in die knyp vandaar die drastiese besnoeiing aan die toewysing van personeel by die skole.

“Ek het ʼn bietjie begrip vir die departement. Daar is ʼn groot invloei van leerders na Gauteng. Sommige kom selfs van die Oos-Kaap om hulle skoolloopbane in die provinsie te voltooi, maar die geld vloei ongelukkig nie saam met hulle nie.

“Die departement vir basiese onderwys reken ook tot 40 000 gr. 1- en 40 000 gr. 8-leerders moet nog plek in 2018 in skole vind en die meeste hiervan is in Gauteng.

“Daar is ekstra poste geskep, maar dit is te min en selfs met die hersiene posvoorsiening bly skole verloor,” het Raubenheimer gesê.

Dit kan groter klasse in 2018 by die meeste hoërskole in Gauteng beteken. “Ons sien dat groter klasse ongelukkig swakker dissipline en onderrig van swakker gehalte beteken. Hoe meer kinders daar in ʼn klas is, hoe minder aandag kan ʼn onderwyser aan elke leerder gee.”

Volgens haar is die enigste ligpunt in die saak tot dusver dat die departement ʼn memorandum aan die hoërskole gestuur het waarin hulle vra dat skole nie ʼn afleggingsproses sal begin nie.

“Onderwysers verloor nie hulle poste nie, die onderwysdepartement plaas hulle gewoonlik net na ʼn ander skool oor, maar dit bly ʼn emosionele proses. Ek kan net dink hoe onseker onderwysers in hierdie stadium moet voel as hulle nie verseker is van hulle werk of weet waar hulle volgende jaar sal werk nie. Gelukkig is die proses vir eers heeltemal uitgestel.”

Raubenheimer het bygevoeg die skole kan appelleer teen die posvoorsienings wat aan hulle toegewys is, maar selfs al sou hulle die hele proses volg, twyfel sy of hulle wel al die poste sal kry wat hulle aangevra het.

Maroela Media het die Gautengse onderwysdepartement genader vir kommentaar. Steve Mabona, die departement se woordvoerder, het gesê hy kan nie telefonies op die kwessie reageer nie. Hy het versoek dat die vrae hieroor aan hom ge-e-pos word. Maroela Media het ten tyde van plasing nog nie kommentaar hieroor ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

EkSêMaarNet ·

In ‘n ander berig word daar swaar daarop gehamer deur die Dept van onderwys dat rapporte nie weerhou mag word weens agterstallige skoolfonds nie. Skoolfonds betaal BL poste se salarisse. Ook is die Dept ‘top heavy’ vreeslike spul amptenare wat groot salarisse verdien maar nie veel beteken nie dan is daar op grondvlak nie geld vir onderwysers nie.

Ella ·

Het dit nie dalk te make met die hoop geld wat gesoek word vir gratis universiteite? Die tydsbetekening pas in by die soeke na baie geld. Die wat so amok maak op kampusse is alreeds dom en nou nog hierdie gatslag vir skole. 60 kinders in n klas is ons voorland.

Vra hom . . . ·

Vra hom, hy sal definitief weet want hy weet en kan goeie beplanning doen maar waar is hy nou? Ja, Lesufi . . .

Pedagoog ·

Ironies dat Lesufi groot gewag gemaak het, en “blanke” skole beskuldig het van rassisime om nie Afrikatale aan te bied nie. Nou gooi hy die hele appelkar om.

Wat word van die arme afstudeerde onderwysstudente wat erg sukkel om poste te kry?

Tessa ·

‘n Chaotiese gemors ~met weinig of geen dissipline~is nou skole se voorland!

Onderwyser ·

Daar is skole in Pretoria wat met 100 + leerders groei wat poste gaan verloor of nie by kry. Hoe is onderwys se begroting so groot en word wanbestee? Shocking….

Self n onnie ·

Geen persoon wat nie in daai skoene staan kan verstaan wat dit van n onderwyser verg om selfs met n klas van 30 te werk nie! Jy kom nie by almal uit nie en almal, van jou toppresteerder tot jou druipeling, lei daaronder.
Dit is eintlik baie hartseer dat jong onderwysers sukkel, want oor 5 tot 10 jaar gaan ons baie onderwysers verloor agv aftrede, en dan het n swak sisteem uitmundende jong onderwysers afgeskrik!
Wie gaan dan ons “maklike” werk kom doen?

JongOnderwyser ·

2017 was my 5de jaar van skoolgee…en dis regtig my passie.

Hoe lekker sou dit nie wees om te werk vir ‘n departement waar kenners werk nie? Waar die mense wat “die show run” weet hoe dit werk op grondvlak…

Baie van ons jong onderwysers gaan nerens. Ons is hier om ‘n verskil te maak…hopenlik nie net in die lewens van ons leerders nie, maar eendag ook om ‘n disfunksionele departement reg te ruk.

Cornelia ·

Dit is so dat onderwysers se onderrig taak “gekelder” word deur roekelose en gewetenlose “praters” en totáál oningeligte kantlyn drywers!! Die aantal leerlinge per onderwyser behels ‘n berg administrasie, hoogs gestrémde dissipline probleme en ‘n verdrukkende las wat onderwysers in aandag intensiewe segmente verdeel vanaf: die Departement met sy onrealistiese, onwerkbare ” insigte” ontevrede ouerklagtes, ontstuimige leerlinge wat nie ernstig is oor hulle onderrig geleentheid nie en vele meer. Daarom is 60 leerlinge per onderwyser die bewys van hoe ernstig die huidige regime is om die Onderrig taak te SINK!!

Leonard van der Dussen ·

Dit bewys dat die regering al hoe meer met onderwys maak net wat hy wil. ‘n Groter skuif na privaatskole is dringend noodsaaklik vir stabiliteit in onderwys.

Bekommerde ouma ·

Ons moet kyk na die groter prentjie. Totale chaos is die hele einddoel van die huidige regering, met kommunisme aan die voorpunt. Julle noem n paar raakvat feite. Die geld vir gratis universiteite moet erens vandaan kom, en so tydjie gelede is juis genoem dat begrotings in baie staatsdepartemente gesny word om die befo ndsing te bekom. Onderwysers gaan verskuif word. Ons afrikaanse juffrouens kan skielik in d middel van soweto opeindig, dan bedank hulle. Daar gaan afrikaans!!!! Lees en let mooi op hoe slinks hulle te werk gaan. Hier kom n baie groot stryd vorentoe, maak julle maar reg!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.