Groot kommer oor groeiende agterstand met operasies in Noord-Kaap

Die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal in Kimberley. (Foto: die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal/Facebook)

Die agterstand met operasies in die Noord-Kaap het sedert verlede jaar bykans verdubbel en ʼn geteikende benadering is nodig om die agterstande dringend weg te werk.

Volgens Maruping Lekwene, LUR vir gesondheid in die provinsie, het die agterstand in Mei verlede jaar op nagenoeg 4 000 operasies gestaan. Teen Junie het dit tot 6 373 toegeneem en teen die einde van September tot 7 497.

Luidens die jongste syfers het die agterstand met operasies in die provinsie teen die einde van Desember op 8 621 gestaan.

“Die kommerwekkende toename in die agterstand met operasies kan nie meer hoofsaaklik aan die Covid-19-pandemie toegeskryf word nie,” sê dr. Isak Fritz, die DA se Noord-Kaapse premierskandidaat en ʼn lid van die provinsiale wetgewer.

“Hoewel dit die agterstand vererger het, het verskeie ander faktore ʼn rimpeluitwerking veroorsaak. Dit sluit in watertekorte en kragkrisisse, asook die voortgesette gebrek aan gespesialiseerde teaterpersoneel.”

Fritz sê ook die kritieke tekort aan infrastruktuurinstandhouding, waaronder die stukkende verhitting- en lugverkoelingstelsel by die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal (RMSH), dra by tot die probleem.

Weens die infrastruktuurprobleme is net tussen een en vier teaters op enige gegewe tyd in gebruik, terwyl die hospitaal nege teaters het. Boonop moet ortopediese chirurgie teen groot bykomende koste gedoen word.

“Dit is onmenslik dat pasiënte tot 18 maande in die hospitaal op operasies soos heupvervangings wag, met mense wat tot vyf jaar wag om katarakte te laat verwyder.

“Talle mense sterf voor hulle die kans kry om ʼn operasie te ondergaan. Ander se lewe staan stil en dit veroorsaak geweldige trauma vir hulle en hul families. Sommiges is broodwinners en dit vererger reeds uiterste vlakke van armoede,” sê Fritz.

Dit is duidelik dat ʼn alternatiewe benadering nodig is om die agterstand uit te wis, sê Fritz. Die kontrak vir die chirurgie-agentskap moet dringend hersien word, bykomende verpleegpersoneel moet aangestel word, belangrike infrastruktuur moet as ʼn saak van dringendheid herstel word, teaters wat in onbruik staan, moet weer in werking gestel word en aanstellings gedoen word. Die fasiliteite moet ook uitgebrei word.

“Tensy hierdie maatreëls ingestel word, gaan die agterstand met operasies aanhou styg en mense vroeër sterf weens die dodelike gebrek aan gesondheidsorgdienste by RSMH,” sê Fritz.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Yolandie ·

As hulle gedink het dit is nou erg, wag tot die Nasionale Gesondheidssorg in werking tree. Dan gaan dit oral so gaan. En die dr’s hospitale etc gaan in duie stort. Maar okay meeste van die staatinstellings is reeds daarmee heen – so hoekom die gesondeheidsorg ook opfoeter nie. Die skole is ook reeds daarmee heen, daar is regtig niks wat die regering aanraak wat daarna weer funksioneer nie. So ek dink dan is die prentjie mos voltooi. Geluk ANC julle het ‘n funksionerende SA opgefoeter in 30jaar.

Miskruier ·

Nog 4 jaar ANC en almal gaan so lank wag vir mediese hulp.

Christine ·

Net een antwoord vir die anderskleuriges in die Noordkaap… Hou op om vir die ANC te stem! Gee ander partye ‘n kans om die Noordkaap reg te ruk!

Republikein in die Wes Kaap ·

In die openbare gesondheidsektor is ouderdom 75 die afsnypunt. Indien ‘n pasiënt behandeling moet ontvang of ‘n operasie nodig het word ‘n kostevoordeel studie gedoen. Dit sal waarskynlik deel word van die NGV.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.