Groot kommer oor power speurwerk in Gauteng

Vergrootglas_vuurvreters_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Daar heers groot kommer oor die Gautengse polisie se speurdiens wat weens tekortkominge in die polisie se ondersteuningstelsel ernstig aan bande gelê word. Die polisie het verlede week tydens ʼn voorlegging in die Gautengse wetgewer bekendgemaak dat die opsporingsyfer van verdagtes van meeste misdade in die provinsie minder as 50% is.

Volgens die polisie se 2019-’20-misdaadverslag kon die speurdiens slegs sowat ʼn kwart (28,65%) van die verdagtes wat met ernstige misdade verbind word, opspoor. Slegs 36,75% verdagtes wat hulself aan kontakmisdade aanhangig gemaak het, is opgespoor.

Verder is die opsporingsyfer van verdagtes in huisrooftogte en trio-misdade onderskeidelik 9,44% en 8,20%.

Redes wat die polisie vir dié lae opsporingsyfers aanvoer is onder meer onbruikbare vingerafdrukke, tekort aan toerusting, onvoldoende bewysstukke en leidrade en probleme met die DNS-databasis en ander stelsels wat nie na behore funksioneer nie.

Die VF Plus sê die lae opsporingsyfers moet ernstig deur lt.genl. Elias Mawela, Gautengse polisiekommissaris, ondersoek word om ’n voortsetting daarvan te voorkom. Die party gaan Mawela ook versoek om ’n verslag saam te stel en oplossings aan die Gautengse provinsiale veiligheidskomitee voor te lê.

“Uit die verslag is dit duidelik daar is groot tekortkominge by die polisie se forensiese-afdeling en meer lede moet in spesialisrigtings opgelei word. In baie gevalle is ’n landdros verplig om ’n saak herhaaldelik uit te stel omdat forensiese verslae uitstaande is. Die gebrek aan toerusting en forensiese ontleders moet dringend aandag kry om speurders se werk te vergemaklik,” sê Kobus Hoffman, VF Plus-lid van die provinsiale wetgewer.

Volgens dr. Leon du Plessis, afgetrede polisiebrigadier, akademikus en misdaadkenner, is fisieke bewusstukke of inligting die hartklop van enige ondersoek. Hy sê soms word ʼn suksesvolle ondersoek in die wiele gery wanneer daar nie genoeg bewysstukke en leidrade ingesamel word nie. Dit kan gebeur weens verskillende redes. Hy sê een groot rede wat telkens na vore kom, is wanneer die misdaadtoneel nie behoorlik beskerm word teen kontaminering van bewysstukke en vernietiging of verwydering van bewysstukke nie. “Voorgeskrewe prosedures word nie nagekom deur die lede wat eerste op die toneel aankom nie, omstanders vertrap die toneel en die waarde van die misdaadtoneel verminder by die minuut.”

Du Plessis sê die polisie kry ook nie altyd voldoende inligting wanneer hulle slagoffers na afloop van ʼn misdaad ondervra nie. “Wanneer die slagoffers kort ná die voorval ondervra word, is hulle nog getraumatiseerd en heelwat inligting wat die misdadiger kan identifiseer, word nie op daardie stadium ingewin nie,” sê Du Plessis. Hy beveel aan dat polisie opvolg ondervragingsessies doen om nog inligting in te win.

Hy sê in sake van ernstige geweld – soos in die geval van ʼn transitorooftog – beslaan die misdaadtoneel ’n groot area. Bewysstukke is dus ook oor ʼn groot area versprei. Hierdie soort ondersoek vereis spanwerk wat ’n intelligensiegedrewe ondersoekbenadering volg.

“Intelligensiegedrewe ondersoeke vereis dat alle instansies en persone wat moontlik inligting rakende die misdaad mag hê, genader moet word om tot die ondersoek by te dra. In hierdie proses word inligting wat bekom is op ’n deurdagte wyse gedeel om nie die ondersoek te benadeel nie.

“Ondersoekers deel nie sommer hul inligting geredelikerwys nie. Selfs in die polisie-eenhede word inligting nie vrylik gedeel nie. Daar kan ’n gevoel van wantroue ontstaan en lede is bekommerd dat hulle beriggewers en inligtingsnetwerke ontbloot sal word.”

Hy sê professionele jaloesie ontstaan ook soms waar speurders kla dat hulle nie die nodige krediet kry vir hul bydrae om verdagtes vas te trek nie. Dit is veral te sien in sake wat oorgeneem word deur die Valke. “Die verhouding tussen speurders en Valke is nie van so aard dat misdaadondersoeke daarby baat nie.”

Du Plessis sê ook bestaande rekenaarstelsels in die polisiediens wat ten doel het om inligting en intelligensie data in te samel en verwerk word nie altyd optimaal benut nie.

Hy meen egter die grootste bron van kommer is die verval van die polisie se intelligensie-eenhede, wat ’n kardinale rol speel in die identifisering en opsporing van misdadigers.

“Die Nasionale Intelligensie-agentskap (NIA) – wat ook ’n rolspeler by misdaadondersoek is – is tans onder die vergrootglas by die Zondo-kommissie weens sy betrokkenheid by politieke figure en partye. Die polisie se intelligensiehoof en die nasionale kommissaris veg hul eie geveg, en die verloorder is die burger van hierdie land wie se reg op ’n suksesvolle ondersoek in die drein afgespoel word. Kwaliteit intelligensie is broodnodig in hierdie soort van ondersoeke omdat die identifisering en opsporing van die verdagte sekerlik een van die hoogste prioriteite van ’n ondersoek is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
Manie

Jy maak nie van ‘n klipgooier en “industriële danser” oornag ‘n speurder nie.

Heinrich

Viva transformasie…daar werk nog ‘n klein gedeelte so die transformasie is nog nie heeltemal voltooi nie.

Strandloper

Mmmm…..as die hoed wannabe famous cowboy sonder n perd minder twak aanjaag en dalk n goeie voorbeeld stel sien ek nie n uitkoms nie.

LANA is ELANè

Geen wonder misdaadvlakke lyk soos dit lyk nie, die misdadigers weet die kans dat hulle gevang sal word is maar uiters gering.

Jacobus

Is ons verbaas? Verlore vuurwapens, verlore bewysstukke, DNS staan stil en tydelike opskorting van opleiding en ‘n nar vir minister tel alles teen goeie polisiëring.