Groot meerderheid teen onteiening sonder vergoeding

land-lugfoto-grond-landbou

Foto: Magda Ehlers/Pexels.com

Die finale syfers is in, en die oorgrote meerderheid van die honderde duisende Suid-Afrikaners wat skriftelike voorleggings oor die onderwerp aan die parlement gedoen het, het hulle uitgespreek teen die verandering van die eiendomsklousule in die Grondwet.

Nadat aspekte soos dubbeltelling en nie-bestaande e-posadresse verreken is, het die parlement 449 552 geldige skriftelike voorleggings ontvang oor die moontlike wysiging van art. 25 van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding makliker te maak.

Hiervan was 291 257 (64,8%) gekant teen die verandering van die Grondwet, en 153 849 (34,2%) ten gunste van die verandering van die Grondwet. In 4 416 gevalle (1%) was die voorkeur van die skrywer onduidelik.

Die grondwetlike hersieningskomitee van die parlement, wat met die kwessie worstel, het geweier om die verslag wat ‘n onafhanklike maatskappy oor die bevindings opgestel het te bekragtig, omdat die maatskappy nie korrek aangestel is nie.

Die aanstel van die maatskappy sal egter geen invloed op die getalle hê nie, want dit is deur die parlement hanteer en alle skriftelike insette van Suid-Afrikaanse landsburgers is op rekord.

Dit is belangrik om te onthou dat die skriftelike insette nie ‘n referendum is nie, sodat die getalle nie bindend is op die proses wat die parlement moet volg nie.

Gegewe die konstitusionele hof se uitsprake oor die invloed van openbare raadpleging op grondwetlike veranderinge (byvoorbeeld in die saak oor watter provinsie beheer oor die dorp Matatiele moet uitoefen) het die voorkeur van die skriftelike voorleggings ‘n massiewe struikelblok geplaas voor die voorstanders van ‘n grondwetlike wysiging.

Die grootste voorstanders van so ‘n wysiging, die EFF, se parlementslede was ook tydens vandag se sitting aansienlik stiller as gewoonlik.

Die komitee het heeldag geredekawel oor hoe om die proses verder te neem. Uitstel van drie weke vir die aanvanklike spertyd van die komitee se werksaamhede (einde September) is reeds deur die parlement aan die komitee verskaf, gegewe die volume van die terugvoer, wat by verre die grootste is sedert die aanvaarding van die Grondwet in 1996.

Die komitee se lede sal volgende week besluit hoe hulle die proses verder gaan neem. Daar is nog sowat tagtig mense en instansies wat gevra het om mondelinge voorleggings aan die parlement te doen, en daar is onenigheid onder die parlementariërs oor hoe om die versoeke te hanteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Careltjie ·

Dankie aan elke persoon wat die moeite gedoen het om te stem. Daar is vordering.

Dr J ·

Dankbaar vir elkeen wat moeite doen om onteiening teen te staan!

Die Stem ·

Nou moet ons regering net die meerderheid se wil eerbiedig en die proses wat reeds aan die gang is om die wet te verander, stop.

Cherokee ·

Die 18:30 Afrikaanse Nuus Bulletin sê presies die teenoorgestelde as hierdie berig.

Pieter ·

Onthou die mediahuise is lojaal teenoor die ANC en lieg blatant

Onica ·

Moet nou asb net nie julle spasem ophou dat die regering/parlement hulle hoegenaamsd aan hierdie syfer uitkoms gaan steur nie! Hulle het klaar besluit wat hulle wil doen, en hierdie is net ‘n rookskerm…..

Hanna Hoekom ·

Die ANC / EFF brigade het n verkiesing om te wen… Mag geregtigheid seevier.

Andre ·

Die klomp gaan, hulle glad nie steur aan die uitslag nie wat in die eerste plek n vermorsing van, geld was

Snowball ·

Wat gaan nou die swaarste weeg, die mondelinge verhore wat oorwegend (danksy die EFF fasiste en ANC populiste) pro die verandering van die grondwet en OSV was teenoor die skriftelike voorleggings wat gekant is daarteen? Die klug duur voort…..

John ·

Almal hoor net wat hulle wil hoor. Die geheime maatskappytjie wat die duisende stukke kommentare in ‘n japtrap verwerk het… en deur wie? aangestel… dui duidelik aan dat grondonteiening agteraf deur ‘begunstigdes’ bestuur word. Dis duidelik dat Sjina se klou tussen Zim en SA ingeslaan het en sommer ook ‘n kragsentrale vir die stad soek. Met soveel minerale aan weerskante gaan die liggies as baken dien vir die sateliete van oom Forever Xi… en vergeet nie van leeupootjies en renosterhoring en olifanttande en… en… nie. En die ANC dink net aan die ¥’e in hul sakke. Sjina is nie die so vredevolle landjie met die goeie hart waar almal in glo nie. Ons sweet al klaar met die klere aan wat daar vervaardig is. Trump draai juis om die’ rede briek aan… maar hy is mos ‘n pampoen?

Kolonie ·

Sjina is besig om ons kaal te stoop met die goekeuring van die regering. Waarom betaal hulle nie vat of tax nie wonder ek?
Ons gaan ‘n kolonie van Sjina word – baie vinnig.

PJC ·

Ek glo nie die ANC gaan hierdie uitslag aanvaar of hulle daaraan steur nie.

Fight alweer alleen vir die boere ·

En tog het net 449 552 mense kommentaar gelewer. Strange dat almal worry oor GONDONTEIENING maar net 449 552 het daaraan deelgeneem? Is dit nie vreem dat mense op facebook en by braaivleisvure en op internet en op skryfkolomme MOAN oor grondonteiening en daarna lewer net 449 552 kommentaar waarvan 36 % ten gunste daarvan was …. meeste boere het hulleself seker nie eers daaraan gesteur nie want niks kan mos met hulle gebeur nie … Ek het nie eers ‘n plaas nie maar het deelgeneem . MENEER BOER< het jy deelgeneem?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.