Groot melkverspreider in sakeredding geplaas

Bloot ter illustrasie (Foto: Du Preez de Villiers)

Desmanda Milk, ʼn groot melkverspreider wat in Heidelberg in Gauteng geleë is, is in sakeredding geplaas.

Dit nadat die maatskappy glo versuim het om vir meer as 11 miljoen liter melk te betaal wat dit in Februarie en Maart by boere in die Vrystaat, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap gekoop het.

Volgens Fanie Ferreira, uitvoerende hoof van die Melkprodusent-organisasie (MPO), worstel nagenoeg 20 melkboere van die onderskeie provinsies die afgelope twee maande om kop bo water te hou nadat dié groot melkverspreider glo versuim het om vir die miljoene liters melk te betaal wat aan hulle verskaf is.

“Desmanda Milk het langtermynooreenkomste met hierdie melkboere aangegaan om melk namens hulle aan verskeie bekende verwerkers te versprei. Die onderneming is egter nou miljoene rand aan die betrokke melkboere verskuldig.”

Hy sê MPO se hoofprioriteit is om die winsgewendheid, volhoubaarheid en mededingendheid van die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf te verbeter om die sektor in staat te stel om suksesvol te funksioneer.

“Ons is ongeveer ses weke gelede van die kommerwekkende situasie ingelig. Talle melkboere is tans in die knyp weens die ernstige finansiële uitwerking wat dit op hul boerderye het.

“Ons praat van miljoene rand wat nie aan hierdie melkboere vir hul produk uitbetaal is nie. Hierdie boere moet insetverskaffers betaal, produkte moet bestel word, die diere moet aan die lewe gehou word en talle werknemers moet vir hul dienste vergoed word.”

Ferreira sê die MPO is nie in ʼn posisie om uit ʼn regsoogpunt enige bystand aan die melkboere te verskaf nie, maar kan wel die situasie fasiliteer waarmee hulle reeds besig is.

“Ons het verlede week vir al die betrokke melkboere in KwaZulu-Natal ʼn geleentheid gereël waarby ʼn regsverteenwoordiger en likwidasie-konsultant teenwoordig was om die betrokke boere in te lig oor hoe die pad vorentoe lyk.

“Altesame agt boere het die geleentheid bygewoon en nog 15 persone het aanlyn by die sessie ingeskakel.”

Hy sê dit is ʼn baie slegte tyd vir die melkboere wat hierdeur geraak word.

“Ons bedryf aan die primêre kant was relatief stabiel tot nou toe. Die bedrag wat uitstaande is, beloop na bewering tussen R80 miljoen en R90 miljoen en daar is nooit ʼn goeie tyd vir so ʼn situasie in die bedryf nie.”

Ferreira sê die kwessie – wat hofsake betref – gaan boonop waarskynlik ʼn geweldige uitgerekte saak raak.

“Ons het vanmôre verneem dat Desmanda Milk ʼn aansoek vir sakeredding gebring het.

“Dit is egter nie ʼn oplossing vir die melkboere wat miljoene rand se skade ly nie, hulle eis dat die geld wat aan hulle verskuldig is dringend terugbetaal moet word.”

Hy sê buiten die melkboere word duisende mense hierdeur geraak. Dit sluit in plaasbestuurders en -werkers asook hope insetverskaffers.

“Dit is ʼn geweldige slegte situasie en dit wys net weer hoe kwesbaar Suid-Afrikaanse melkboere in soortgelyke situasies is. Daar is nooit enige waarborge wat verskaf word wanneer melk van ʼn plaas geneem word nie. Wedersydse kontrakte is wel in plek, maar in hierdie geval blyk dié kontrakte nie veel werd te wees nie,” sê Ferreira.

Christoff Viljoen, direkteur van Christoff Viljoen Registered Accountants Inc (CVRA), sê wel daar is ʼn lig aan die einde van dié tonnel vir die betrokke melkboere.

“Flip Jacobs en sy vrou, Amanda, die eienaars van Desmanda Milk en Dezmo Transport, het ingestem dat ʼn span ervare en hoogs gekwalifiseerde sakereddingspraktisyns intree om hul sake weer in orde te kry,” sê Viljoen.

Dié span bestaan uit Viljoen, asook George Nell en Gideon Slabbert van Corporate Business Rescue, saam met Tilicia Heuer (prokureur) en adv. JP Nel.

Viljoen sê die span kundiges is ʼn formidabele span met jare se ervaring en kwalifikasies.

“Ons sal Desmanda Milk en Dezmo Transport se finansies en sakepraktyke deeglik ondersoek en met voorstelle kom om dié groot skip weer op koers te kry. Die bekommerde melkboere kan gerus wees dat hul probleem met alle erns hanteer word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Piet 6 ·

Henker, hoe bedoel jy met “noem die naam”? Die maarskappy se naam word verskeie kere in die berig genoem.

koos10 ·

Melk gekry. Melk verkoop. Geld gekry. Geld gehou. Klink soos wat bykans 80% van stadsrade met krag betalings doen.

koos ·

Sakeredders….. hier kom nou eers groot uitgawes. Hulle vryf sout in die wonde, die begin van die einde.

Leeubekkie ·

Arme boere. Ons bid julle ontvang spoedig die gelde wat aan jul verskuldig is!

Jannie ·

Blink karre, groot huise, duur vakansies en die boere word nie betaal nie. En as jy na die eienaars se name kyk is dit ‘n blêddie skande!!

Cassie Carstens ·

Koos10 ek wil saam met jou stem. Hierdie klomp is nie so onskuldig soos wat hulle voorgee nie.

willie ·

Wat ek nie verstaan is nie, hoe het hulle auditeure nie die moeilikheid al lankal opgetel en dit onder die eienaars se aandag gebring nie.

Mark ·

Sakeredding gaan 0% uitrig. Watter boer sal nou bereid wees om aan Desmanda melk te verskaf? Sonder melk is daar geen saak meer oor om te red nie.

Di ·

Ja hoekom? Want die regering gee die boere nie die geld wat hulle verdien op produkte nie. Ons betaal ten duurste maar die boer kry ‘n appel en ‘n ui vir sy produkte. En nee hierdie is nie ‘n BEE geval nie, gaan google maar gerus wie die eienaar is.

Dandeleen ·

Julle, gaan kyk eers sonder om my kop af te byt wie die persoon en sy maatskappy is en wat hy al vir boere gedoen het. Gee die kenners kans om te kyk of hulle die gemors kan uit sorteer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.