Groot name by konsert vir Driehoek-slagoffers

ʼn Groot konsert ten bate van die slagoffers van die Hoërskool Driehoek-tragedie, waarin vier leerders verlede week dood en talle beseer is nadat ʼn betonstruktuur op dié skool se perseel meegegee het, is van stapel gestuur.

Albertus Potgieter, besturende direkteur van iTickets, een van Suid-Afrika se grootste aanlynkaartjieverkopewebtuistes, het aan Maroela Media vertel hy het in sy persoonlike hoedanigheid genoop gevoel om dié konsert te reël nadat hy die Gebedsgroep vir Driehoek Kinders-blad op Facebook besoek het.

“Ek was Maandagaand laat wakker. Uit die aard van die saak is my besigheid om geleenthede en konserte te reël, en die idee het by my posgevat om ʼn konsert te reël ten bate van die slagoffers van die Driehoek-tragedie,” sê Potgieter.

Hy het vir Ignaz Streicher van Overvaal Stereo gekontak, wat toe in kontak gekom het met Ruan Josh, sanger en seun van die gewilde Afrikaanse sangeres Juanita du Plessis. Josh het met verskeie kunstenaars in verbinding getree wat ingestem het om gratis deel te wees van die konsert.

Die Emerald Resort & Casino in Vanderbijlpark het ook ingestem om die venue te borg vir die geleentheid. “Vandat ons 08:00 die oggend begin oproepe maak het, totdat ons die hele konsert aanmekaar gesit het, het tien ure geneem. Dit is absoluut ʼn wonderwerk om te sien hoe ʼn gemeenskap binne enkele ure kan hande vat ten bate van ʼn goeie doel,” voeg Potgieter by.

Volgens Potgieter was die aanvanklike plan om die Hoërskool Driehoek se sportgronde te gebruik vir die geleentheid, maar dié skool se perseel is gesluit na afloop van die tragiese gebeure wat hom verlede Vrydag op Vanderbijlpark afgespeel het.

“Die venue by die casino kan sowat 3 000 konsertgangers vat, maar ons verwag dat ons moontlik ʼn tweede en derde konsert sal moet open,” sê hy.

Die konsertprojek word deur die Driehoek Sakekamer oorsien. “Al die opbrengste van die konsert word net so aan die slagoffers geskenk. Ons as Afrikaners is gemeenskapsbewus, en geen politiek of unies is hierby betrokke nie. Dit is net mense wat ʼn verskil wil maak.”

Juanita en Franja du Plessis, Ruan Josh, Jo Black, Willem Botha, Brendan Peyper en Manie Jackson sal by dié konsert op 16 Februarie om 16:30 te sien wees.

Kaartjies kos R100 en is beskikbaar by iTickets. Vir enige navrae oor die konsert, stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Mk ·

Kry ek hoendervleis . Dankie aan sangers ?
Ons as nasie kan saam staan

Liewe Heksie ·

Stem honderd persent saam, dit is ‘n riem onder my hart om te sien hoe ons as Afrikaners ‘n slag kan saam staan. Doen so voort Afrikaners!!!

Fransien ·

Wow amazing hoe mense saam staan wens ek kon daar wees!!!

Estelle Nel ·

Baie dankie aan al die sangers . Mag God julle almal ryklik seèn vir jul onbaatsugtige optrede.

Verwonderd ·

Ek is so verwonderd oor die gebaar. Kan net sê dankie dankie en nog 10000000000 dankies. Geld is nie alles nie. Daaris egter soveel behoeftes nou daar vir soveel mediese en emosionele sorg.

Anoniem ·

Dis fantasties! #TrotsAfrikaans

Nog ‘n idee:
Sal dit nie gaaf wees as ‘n lugredery en vakansieoord kan saamwerk, en ‘n wegbreek borg vir al die kinders wat beseer is en ook vir hulle wat direkte ooggetuies was van die oomblik toe die beton geval het nie? Dalk kan iemand hulle almal, bv, Wildtuin toe vat vir ‘n naweek? Die see en die natuur het ‘n helende uitwerking op ‘n emosioneel-uitgeputte hart.
Ek wens ek het die geld gehad om deur middel van ‘n spesiale bederf vorendag te kom en vir ‘n oomblik net die trauma-las vir almal betrokke ‘n aks ligter te maak.

Piet Pompies ·

Puik werk, sulke optredes gaan nooit ongesiens verby. Goeie gebaar deur die sangers en ons wat nie die konsert kan bywoon kan indirek bydrae lewer deur die sangers se CD’s te koop.

jo ·

Mens kan net dankie se. Ons Suid Afrikaners was darem nie mooi met mekaar die laaste ruk nie. Toe gebeur daar n tragedie by n skool en ons begin saam staan! Ons leer weer van ons Vader en hoe om te bid. Ek hoop dat hierdie die begin is van ons wat as nasie weer bymekaar kom en kan bou op n beter SA. Ja daar gaan altyd negatiewe mense wees en mense wat lelike goed se maar hopelik vergeet ons as mens nie gou van die tragedie nie en hoe dit ons as mens weer by mekaar gebring het nie. Treetjie vir treetjie en dag vir dag sal meer en meer mense by die kom wat alreeds saamstaan. Ongeag van kleur en status. Dit het ons weer tot op ons kniee gedwing met oe na bo, en toe begin dinge gebeur! Daar is baie hartseer in ons land en elke dag gebeur daar ongelooflike wrede goed, ons het begin hard raak en net skouers op gehaal en anderkant toe gekyk. En toe gebeur dit! Hoekom die spesifieke tragedie ons by mekaar gebring het sal ons nie weet nie. Dit het net. Mag ons dit nooit vergeet nie. Dis maar al wat ek wil se.

JohanL ·

Dankie Albertus vir jou idee, moeite en alles. Welgedaan aan almal wat iets doen.

Eish ·

Wat ek die afgelope tyd na die tragedie gesien en beleef het, is dat ons mense se harte nog op die regte plek sit. Soveel omgee en beskikbaar wees van mense het ek in lang tyd nie gesien! Dankbaar!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.