Groot onduidelikheid oor water in JHB, PTA

Argieffoto

Argieffoto

Ná watertekorte die afgelope week was dit Woensdag nog steeds nie duidelik wanneer dele van Johannesburg en Pretoria weer water gaan hê nie.

“Ek kan nie ʼn spesifieke tyd of dag gee nie,” het Justice Mohale, woordvoerder van Rand Water, Woensdag gesê. Hy het gesê die Eikenhof- en Palmiet-pompstasies verskaf steeds probleme, maar daar is vordering gemaak met die watervlakke en -verskaffing. “Ons Meredale-opgaartenk (wat hoofsaaklik water aan Johannesburg en die Wes-Rand verskaf) staan nou op 45%, dit is ʼn verbetering ná gister se 22%. Die Waterval-opgaartenk (wat hoofsaaklik Ekurhuleni bedien) staan nou op 30% ná gister se 20%.”

Hy het gesê die watervlakke sal mettertyd styg.

Mohale het verduidelik daar is veral probleme om water aan hoogliggende dele te verskaf, aangesien dit moeilik is om water soontoe te pomp. “Soos wat die watervlakke styg, sal daar genoeg drukking wees om die water na hoër dele te pomp.”

Millicent Kabwe, woordvoerder vir Johannesburg Water, kon ook nie sê wanneer die watervoorsiening herstel gaan wees nie. Sy wou nie sê wat is die huidige watertoestand in Johannesburg nie, en het slegs na ʼn persverklaring van Dinsdag verwys waarin daar gesê is dat meeste dele van Johannesburg weer watertoevoer het. “Slegs 2% van die inwoners in Johannesburg sukkel nog met waterdruk of het glad nie water nie,” het Kabwe Dinsdag gesê.

The Star het egter Woensdag berig daar is ʼn toenemende aantal voorstede wat ná twee weke, nog steeds nie water het nie.

Themba Gadebe, woordvoerder vir die Ekurhuleni-munisipaliteit het nie die jongste inligting oor die watersituasie nie en weet ook nie wanneer watervoorsiening weer ten volle herstel sal wees nie. Sy kollega, Lindela Mashigo sê dit is nie duidelik wanneer die watervoorsiening herstel sal wees nie. “Dit hang van Rand Water af,” het Mashigo gesê. “Ek weet nie of sekere dele van Pretoria al water het nie.”

Sputnik Ratau, woordvoerder vir die departement van waterwese kon nie Woensdag dadelik vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.