Groot onsekerheid ná kansellasie van beurse

Tamika Kruger.

Baie studente wie se beursgeld vroeër hierdie jaar deur die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) gestaak is, sit met hul hande in hul hare oor studieskuld van derduisende rande wat betaal moet word.

NSFAS het in April sowat 5 000 studente se beursgeld vir 2020 gekanselleer nadat dit na bewering aan die lig gekom het dat hul huishoudelike inkomste meer as die kwalifiserende drempel van R350 000 per jaar was. Die betrokke studente het 14 dae gehad om appèl aan te teken en bewys te lewer dat hul gesinsinkomste verander het.

Netwerk24 het onlangs berig dat slegs 1 345 studente landwyd geappelleer het en sowat 500 beurse weer heringestel is.  Maroela Media het vasgestel dat 61 van die 500 aan die Noordwes-Universiteit (NWU) studeer waar 411 studente se beurse gekanselleer is.

Die universiteit se woordvoerder, Louis Jacobs, sê die NWU se totale uitstaande studie- en verblyfskuld as gevolg van NSFAS se kansellasie van beursgeld beloop sowat R20 miljoen.

“Ons kon egter daarin slaag om vir sommige studente ander beurse by SETA te kry terwyl heelwat ouers ook self die rekeninge vereffen het aangesien hul inkomste wel die R350 000-perk oorskry het.”

Tamika Kruger, ʼn finalejaarstudent aan die NWU se Potchefstroomkampus, sê dis steeds ’n stresvolle situasie vir baie hulpbehoewende studente wie se appèlaansoeke nie geslaag het nie.

“Vir talle van my vriende wat in dieselfde penarie as ek beland het, beteken dit trane en stres oor of ons vir ons studies sal kan betaal. Dit lyk asof drie jaar se harde werk en laat aande se geswoeg verniet was, want al slaag ek al my vakke gaan ek nie my graad kan ontvang as ek nie my klasgelde aan die universiteit betaal nie,” sê sy.

Kruger voltooi haar BSc-graad in sport- en rekreasie-administrasie aan die einde van die jaar en het ander beurse gehad voor sy by NSFAS aansoek gedoen het na afloop van haar tweede jaar. Nou ontvang sy geen finansiële hulp nie en moet boonop sowat R80 000 aan studie- en verblyfgeld terug betaal.

“Ons gesin trek noustrop en is tans onder skuldberading, maar my pa het reeds begin om R35 000 van my verblyfkoste by ʼn prokureursfirma af te betaal wat my vir agterstallige huur aangeskryf het.” Kruger het in Oppi Kampus, die geakkrediteerde NSFAS-verblyf by die Potchefstroomkampus, gewoon wat deur ʼn privaat maatskappy bedryf word.

Dit lyk egter asof NSFAS nie hul optrede in ʼn hof wil verdedig nie. Minstens twee studente aan die NWU se beurse is herstel nadat hul met regsaksie teen NSFAS gedreig het.

André Diamond.

André Diamond, ʼn eerstejaarstudent in rekenaarwetenskap, se beurs is vinnig herstel na hy reeds ʼn hofdatum in die hooggeregshof gehad het om NSFAS te dwing om aandag aan sy appèlaansoek te gee. Gelukkig vir hom was ʼn familielid wat as advokaat praktiseer bereid om sy saak namens hom in die hof te beveg. Diamond sê in sy verklaring wat deel van die hofstukke uitmaak dat sy gesin feitlik geen inkomste het nie omdat sy pa se werkgewer ernstige geldelike probleme het.

Hy verduidelik ook hoe hy sonder enige sukses maande lank onverpoos probeer het om met NSFAS kontak te maak om uit te vind hoekom sy beurs ten bedrae van R50 000 in April gestop is. Toe sy profiel later ook van die NSFAS webtuiste verwyder is, het hy die hof op ʼn dringendheidsgrondslag genader.

Twee dae voor die saak op 25 September aangehoor sou word, het NSFAS laat weet dat Diamond se appèl geslaag het en spesifiek gemeld dat sy beurs nie gestop is weens inligting oor sy gesin se finansies nie. Die beursskema het verder beweer dat sy appèlaansoek reeds vroeg in September goedgekeur is, maar dat dit nege dae geneem het om Diamond se status by te werk. Die herinstelling van die beurs was volgens NSFAS dus nie die gevolg van die dreigende hofsaak nie.

Nog ʼn student wat na dreigende regsoprede blitsig ʼn positiewe reaksie op haar appèlaansoek ontvang het, is Nelmari van Schalkwyk, ʼn eerstejaar onderwysstudent aan die NWU wat vyf onderskeidings in matriek gehad het.

Nelmari van Schalkwyk.

Haar wêreld het inmekaar getuimel toe NSFAS haar beurs van R40 000 in Augustus gestop het omdat haar pa se salaris kwansuis bo die afsnykerf was. Sy sê hulle was geskok om dit te hoor omdat dit nie waar is nie.

Anton van der Bijl, Solidariteit se hoof van arbeidsregdienste, het van Van Schalkwyk se dilemma gehoor en haar aangemoedig om druk op die departement van hoër onderwys te plaas terwyl die hofstukke voorberei word. Twee weke gelede het sy gehoor haar appèl was suksesvol.

“Ons was almal baie verlig en emosioneel en dis vir ons steeds ʼn wonderwerk dat alles in plek geval het,” sê sy.

Van der Bijl glo die volgehou druk het veroorsaak dat daar ʼn ommekeer was in wat hy beskryf as die departement se “lukrake onregverdige besluit” om haar beurs te kanselleer. Hy is tans besig om verskeie vakbondlede oor die opskorting van NSFAS beurse te adviseer en sê dit lyk of dit ʼn algemene probleem is en dat mense regtig nie weet wat om te doen nie.

“Die hartseer is dat die meeste van hulle juis nie die finansies het om dit te beveg nie. Die departement se besluit om hierdie mense se drome te verpletter deur eensydig verwoestende besluite te neem, kan nie sonder meer aanvaar word nie.”

Hy meen daar gaan hoogs waarskynlik met litigasie voortgegaan word na afloop van ʼn finale konsultasie wat Dinsdag met die regspan plaasvind.

NSFAS is in Augustus 2018 deur die vorige minister van hoër onderwys, Naledi Pandor, onder administrasie geplaas na dit aan die lig gekom het dat bykans 111 000 studente, byna die helfte wat deur NSFAS vir beurse en toelaes goedgekeur was, nie hul geld ontvang het nie. Dit word sedertdien deur die administrateur, dr. Randall Carolissen, bestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Einstein ·

Kom ons wees eerlik; die beurse is maar eintlik vir die alewige agtergeblewenes bestem… ek kots sommer

Miskruier ·

Presies, hul het seker nie besef daar is soveel blankes wat minder as R350 000 n jaar verdien nie.

Jacques ·

En net hierdie week grap ‘n petroljoggie met my dat hy gaan maak soos sy vriende, NSFAS kry en spoorloos verdwyn… Verder wonder ek hoeveel miljoene word verduister (maar laat ‘n kind se gesin nou nét bo die inkomste drempel wees, afgesien of daai inkomste minder is as die hele gesin se lewensonkoste)

Jaco ·

Bottom line is, as wit is, moenie vir staatshulp aansoek doen nie. Dit gaan of geweier word, of daar gaan allerhande extra voorwaardes wees wat nie vir our people geld nie, of die hulp gaan net skielik eendag uit die bloute stop.
Nog iets, waar gaan dié wit studente eendag werk kry met hulle wonderlike grade? Weet hulle van regstellende aksie en BEE? Om dié 2 harde werklikhede te omseil, het ek maar later my 2 universiteitsgrade afgehaal van my CV af. My CV sê bloot “studied” vir daardie 4 jaar. So tegnies lieg ek op my CV. Ek het maar staatgemaak op my matrieksertifikaat en potensiële werkgewers se “goodwill”. Uiteindelik, deur dommer op my CV te lyk, het ek sowaar ordentlike werk gekry. Maar ek sit met reusagtige skuld van jare se werkloosheid.

Cecilia ·

Dis nie te as j ouers R350k plus per jaar aan inkomste het hulle kan studies bekostig nie. Hoe hoeer d inkomste hoe hoeer d lewensstyl dus hoe meer skuld dikwels.. Glo my sien dit elke dag in finansiele wereld waar ek werk. Kliente verdien R50k + n maand maar is in groter skuld v karre tot huise en oortrokke fasiliteite en persoonlike lenings dat d finansiele instansie nie eers verder krediet kan toestaan nie.
Baie kinders werk hard om hulle punte hoog te hou vir daardie beurse. Gun kinders beurse wat d werks etiek het en nie omdat hulle ouers dit kan bekostig of nie kan bekostig nie.

Mallie ·

Waar kom die beurse vandaan. Rhodes se beurse is onttrek. Ons kinders is mos te wit. Dankie mnr die president en al jou kaders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.