Groot partytjie tuis vir klein Daniel Kerswell

Daniel Kerswell tydens sy verjaarsdagpartytjie in Ermelo. (Foto: Facebook)

Die tweejarige Daniel Kerswell se ma se grootste wens vir hom is om ’n vol en gesonde lewe te lei.

“Soos Daniël in die leeukuil moet hy die leeus se bekke kan toehou. Hy is ons engelkind.”

Só het Danelle Kerswell vandeesweek gesê nadat haar jongste seuntjie eindelik weer tuis en aan die gang is – en sy verjaardag dié keer behoorlik kon vier.

“Ek het regtig nie gedink ek gaan my kind weer lewend huis toe bring nie.”

’n Verrassingspartytjie is die afgelope naweek vir klein Daniel by sy ouerhuis op Ermelo in Mpumalanga gehou nadat hy verlede maand onder ’n motorwiel beland het en sy verjaardag in die waakeenheid van ’n hospitaal moes deurbring.

Daniel se tannie het vir die blondekop-seuntjie ’n deurry-partytjie gereël en mense het alles van verjaardagkoek tot ballonne en ’n banier met Daniel se naam geborg.

“Dit was só lekker vir Daniel. Hy het heeldag uitgehou voordat hy later nie meer kon nie en ’n hond uit ’n bos geslaap het.

“Hy is weer sy ou self. Hy giggel vreeslik en soen en druk,” vertel Daniel se ma, Danelle.

Daniel Kerswell tydens sy verjaarsdagpartytjie in Ermelo. (Foto: Facebook)

“Dit was ’n rowwe drie weke wat ek nie wil oorhê nie. Ek wens dit vir niemand toe nie.”

Daniel se regtersleutelbeen is tydens die ongeluk gebreek en ’n been in sy linkerheup gekraak. Die kleuter se longe was ook erg beskadig en hy is ’n week lank onder verdowing in die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria gehou voordat hy self uit die verdowing wakker geword het.

Daniel moet vandeesweek weer toetse in Pretoria ondergaan en sal moontlik in die toekoms ’n operasie aan sy sleutelbeen moet ondergaan. Hy sal ook moontlik fisioterapie moet ontvang hoewel daar geen rede is dat hy nie ten volle sal herstel nie.

Maroela Media het vroeër berig Danelle, Daniel en sy boetie Aydin (4) was die dag van die ongeluk in die kombuis van hul huis doenig toe die seuntjies se pa, Paul, die huis uit is om na ’n vriend te ry. Toe Daniel uit die huis verdwyn, het Danelle dadelik onraad vermoed, na buite gehardloop en Daniel bewusteloos agter die motorwiel aangetref. Hy het vermoedelik agter die motorwiel beland en is ernstig beseer.

Danelle vertel dat klein Aydin sedertdien baie beskermend oor sy boetie is en bekommerd gevra het of sy boetie weer gaan huis toe kom ná vandeesweek se doktersafsprake in die stad. Aydin sal intussen spelterapie ontvang om sy boetie se ongeluk te verwerk.

Daniel Kerswell vier sy tweede verjaarsdag. (Foto: Facebook)

Paul en Danelle Kerswell by hul jongste, Daniel. (Foto: Facebook)

’n Verrassingspartytjie vir Daniel Kerswell. (Foto: Facebook)

Daniel Kerswell tydens sy verjaarsdagpartytjie in Ermelo. (Foto: Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

anniekiewiet ·

Ons is saam met julle baie dankbaar. Mag God julle elke dag dra en veilig hou. Vrede.

Skappie ·

So bly dat hy weer by julle as ‘n gesin is. Onse Liewe Heer se genade is groot. Geniet hom.

Marcello ·

Wow !!! dit is wonderlike nuus, geniet hom elke oomblik.

Elmarie ·

Ek is ewig dankbaar saam met hierdie gesin dat Daniel se lewe gespaar is en hy ‘n tweede kans gekry het.

Potchmeisie ·

Ditis die beste nuus denkbaar. Welkpm tuis, jong leeutjie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.