‘Groot probleme’ in staatsdiens – AfriForum

(Argieffoto)

Die burgerregteorganisasie AfriForum sê die feit dat 35% van senior amptenare in die staatsdiens nie oor die nodige kwalifikasies vir hul poste beskik nie, is slegs een van velerlei probleme wat die staat en dienslewering kniehalter. Senzo Mchunu, die minister van staatsdiens en administrasie, het Dinsdag in antwoord op ʼn vraag van die DA in die parlement hierdie statistieke bekendgemaak.

Maroela Media het vroeër berig dat altesaam 3 301 van die 9 477 senior amptenare in die staatsdiens nie oor die nodige tersiêre kwalifikasies beskik nie. Volgens Mchunu is 1 987 van dié amptenare deur nasionale departemente in diens geneem en 1 314 deur provinsiale departemente.

Dr. Eugene Brink, strategiese adviseur vir gemeenskapsake by AfriForum, sê alhoewel hierdie besonderhede skokkend is, is dit nie verrassend nie. Hy lig ook ʼn paar ander probleme uit wat in die staatsdiens kop uitsteek.

“Die onlangse uitslae deur die ouditeur-generaal dui aan dat provinsiale en nasionale departemente nie ag slaan op herhaaldelike kommer wat oor verskeie aangeleenthede uitgelig word nie. Dieselfde word bespeur by munisipaliteite, waarvan slegs 8% skoon oudits kry,” sê Brink.

Brink sê die staatsdiensloonrekening is besig om ’n oorgrote deel van die bedryfsbegroting van die staat op te vreet en skrik terselfdertyd beleggers af. Nogtans is daar geen omkeer nie, met gemeenskapsdienste en die staat wat een van die min sektore is wat in die Covid-19-era groei toon danksy nuwe aanstellings.

“Indien hierdie aanstellings boonop te veel in die lig van die lae produktiwiteit van die staat kos, sit dit om in ekonomiese agteruitgang, swak dienslewering en sosio-politieke onstabiliteit.”

Volgens Morné Mostert, bestuurder van plaaslike regeringsake by AfriForum, hou hierdie kwessies ook direk verband met korrupsie, die ANC se beleid van kaderontplooiing, regstellende aksie en ’n totale gebrek aan aanspreeklikheid. Hy sê ook goeie amptenare word in die proses geviktimiseer.

“Indien iemand weet hulle word aangestel op enigiets anders as meriete, is dit ’n vrypas en selfs ’n plig om te plunder, want jy weet daar is geen gevolge vir jou nie. Jou werk word dan om te steel, nie om die werk te doen waarvoor jy nie eers gekwalifiseer is en boonop waarvoor jy te veel betaal word nie. Derhalwe word duur konsultante aangestel om die werk van hierdie oorbetaalde amptenare te doen,” meen Mostert.

“Die belastingbetaler en publiek verloor dan op veelvuldige wyses, en nie net omdat iemand nie kwalifikasies het nie. Om nie die nodige kwalifikasies en vaardighede vir jou werk te hê nie, is reeds erg genoeg, maar om dan nog geld te verloor wat deur onbevoegde amptenare gesteel word, is veel erger.”

Mostert meen goeie en hardwerkende mense word uit die staatsdiens gedryf oor hul etiese optrede, ras en politieke onverbondenheid.

Brink sê die staat het nie net verswak omdat mense nie kwalifikasies het nie. Hy sê kwalifikasies kan ook vervals word en diegene met kwalifikasies kan steeds nie bevoeg wees om leiers te wees of hul pligte behoorlik uit te voer nie. “Dit verg ook nie ’n kwalifikasie om betyds te wees vir werk en die basiese goed reg te doen nie,” sê Brink.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JM ·

Skep uit die trog. Teenprestasies is nie nodig nie – tipies Afrika-styl. En só ploeter die land oor die afgrond.

Dup ·

Die meeste van die senior aanstellings in die staatsdiens word gemaak met die uitsluitlike doel om fondse na die regerende party te herlei.
SA is soos n boom wat van binne af deur “houtkewers” verorber word.Een van die dae gaan die “boom” net omval.

Anoniem ·

Perfek opgesom. Die stemvee versamelvoëls gaan verward rondfladder wanneer hulle nie meer hul toelaes ontvang nie.

OW ·

Wat ek ook opgemerk het hier by min of meer 2001,is dat mense aangestel word met wettige kwalifikasies, en baie dink as jy aangestel is kan jy dan vir enige ander pos in die regering aansoek doen.’n Voorbeeld wat ek nooit sal vergeet nie,is ‘n vrou wat as ‘n toesighouer in haar opleidingsveld aangestel is, en die pos ongeveer 6 maande beklee het in die Gesondheidsveld.Sy doen toe aansoek vir ‘n bestuurspos by die Elektrisiteitsdepartement en kry sowaar die aanstelling met nie ‘n dag se ondervinding in elektrisiteit nie.Hierdie is wat die boek Spreuke ons leer.”Ywer sonder kennis”

Oom Hennie Pennie ·

Nog ‘n land in tipiese Afrika styl, ons reeds 3de wereld verby.

Jedi Knight ·

Dit sou lekker wees indien iemand hulle daarvoor kan beywer dat politieke partye (ook opposisie partye) se leiers ook oor tersiêre kwalifikasies beskik. Maar ordentlike grade waarvoor intelligensie benodig word. Rigtings met bv. wiskunde.

Karoomeisie ·

In my dae in die Staatsdiens, is verhogings en bevorderings bepaal op die uitslae van jou meriete-verslag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.