Groot reën laat hospitaaltrein glo ontspoor

Een van die bekende Phelophepa-hospitaaltreine het vandeesweek ontspoor, vermoedelik weens die swaar reën wat die afgelope ruk oor groot dele van die land uitgesak het. (Argieffoto: Phill Magakoe/AFP)

Swaar reën in die Oos-Kaap het moontlik gelei tot die ontsporing van die departement van gesondheid se bekende Phelophepa II-hospitaaltrein naby Adelaide.

Die trein was op pad na Mthatha toe sewe van die waens Woensdag kort ná 18:00 ontspoor het, sê Ayanda Shezi, woordvoerder van Transnet.

“Aanvanklike aanduidings is dat die ontsporing die gevolg is van swaar reën in die gebied oor die afgelope paar weke, wat moontlik die struktuur van die spoor beïnvloed het. Die swaar reën oor die land het ʼn negatiewe uitwerking op die spoornetwerk in talle gebiede van die land gehad, met dele van die netwerk wat in sommige provinsies onder water is.”

ʼn Ondersoek na die voorval is reeds van stapel gestuur.

Slegs ʼn handvol personeellede was tydens die ontsporing aan boord van die trein en het bestaan uit personeel van Phelophepa, veiligheidsbeamptes en die treindrywer. Een van die veiligheidswagte het geringe beserings opgedoen en nooddienswerkers het hom op die toneel behandel.

Transnet-vragspoorvervoer se voorvalreaksiespan was gisteraand reeds saam met ander wetstoepassingsowerhede op die toneel.

Die Phelophepa-gesondheidsorgtreine bestaan uit twee hospitaaltreine wat die afgelope 27 jaar mediese dienste aan Suid-Afrikaners landwyd lewer.

Phelophepa I word nie deur die voorval geraak nie en sal voortgaan om dienste te lewer soos beplan.

“Die veiligheid van almal betrokke by die projek, asook ons verbintenis tot gesondheidsorg van gehalte vir gemeenskappe, bly ons grootste prioriteit,” sê Shezi.

Die Phelophepa II se dienste sal hervat word sodra die trein veilig verklaar word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

pieter ·

wonder maar net of daar nog inspeksie op die spoorlyne gedoen word

Pieter ·

Nee wat ek glo nie, “Ry hom tot hy omval”, dan doen ons iets

miavos ·

Dis maar weer die óú storie: geen, of dan omtrent geen onderhoud.

Miskruier ·

Toe ek jonk was het dit ook so baie gereen….die steenkool het toe ook nie nat geword nie.

Marius ·

Maar net nog ‘n staats departement wat klaaglik misluk. Geen instandhouding, swak bestuur – beheer en wanaanwending van fondse is deesdae aan die orde van die dag.

Nie Verbaas ·

Nee, die ontsporing is as gevolg van n gebrek aan onderhoud, nie die weer nie.

Swerwer ·

Sekerlik nie net die swaar reën se skuld nie, maar beslis instandhouding van die spoorlyn wat nie gedoen word nie. Wonder maar net hoekom sulke ontsprorings nie 30+ jaar gelede met swaer reën plaasgevind het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.