Groot risiko vir swaminfeksies by Covid-19-pasiënte

Covid-19-pasiënte wat met ernstige simptome in ’n intensiewesorgeenheid opgeneem word, loop die gevaar om ’n deurdringende swaminfeksie op te doen. (Argieffoto: Unsplash)

Covid-19-pasiënte wat met ernstige simptome in ’n intensiewesorgeenheid opgeneem word, loop die gevaar om ’n deurdringende swaminfeksie op te doen wat die uitkoms van hul toestand kan beïnvloed en behandeling kan belemmer.

Dié bevinding is Woensdag deur prof. Carlien Pohl-Albertyn en dr. Obinna Ezeokoli van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Departement van Mikrobiologie en Biochemie in ’n artikel onthul.

“Dié swaminfeksies kan moontlik tot die verhoogde sterftesyfer van Covid-19-pasiënte wat aan ventilators gekoppel is, bydra.”

Volgens Pohl-Albertyn is daar verskeie redes waarom dié pasiënte ’n verhoogde risiko loop om swaminfeksies op te doen, wat in die artikel uiteengesit en verduidelik word.

“Ernstige gevalle van Covid-19 het veranderings aan die immuunstelsel tot gevolg.

“Dit lei onder meer tot ’n verhoogde vrystelling van sitokiene, die molekules wat met inflammasie verband hou, én ’n vermindering in sekere witbloedselle wat ander infeksies teenwerk,” sê Pohl-Albertyn.

Sy verduidelik dat ernstige gevalle van die Sars-CoV-2-infeksie ook die longweefsel beskadig, wat die kanse verhoog dat swamme wat ingeasem word deurdringende infeksies veroorsaak.

Baie pasiënte met ernstige Covid-19-infeksies ly ook aan ander siektes, wat volgens Pohl-Albertyn óók ’n verhoogde risiko vir swaminfeksies inhou. Binneaarse en urinale kateters kan ook die pasiënt se ontvanklikheid vir die infeksie verhoog.

Sommige medikasie wat gebruik word om ernstige virusgevalle te behandel, kan moontlik ook ’n verhoogde risiko inhou, maar daar is nog nie genoegsame navorsing gedoen om dit te bewys nie.

Volgens Pohl-Albertyn kan enige sistemiese swam dodelik wees, veral by pasiënte met ’n verswakte immuunstelsel, ongeag hul siektetoestand.

“Dus is die aanwesigheid van enige swaminfeksie by pasiënte met Covid-19 ’n rede tot kommer.”

Sy sê verder dat ’n onlangse studie op die weefsel van pasiënte wat ná langtermynbehandeling aan Covid-19 dood is, bevind het dat swaminfeksie bykans altyd teenwoordig was, hoewel dié infeksie nie opgespoor is toe die pasiënt nog geleef het nie.

Die probleem is egter dat ernstige Covid-19-gevalle nie gereeld vir swam-mede-infeksies getoets word nie.

Sekondêre en mede-infeksies, waaronder swaminfeksies, is luidens die artikel van die grootste faktore wat bydra tot sterftes onder pasiënte wat ernstig siek is aan Covid-19.

*Pohl-Albertyn en Ezeokoli is verbonde aan die Pathogenic Yeast-navorsingsgroep in die Departement van Mikrobiologie en Biochemie by die universiteit se Fakulteit vir Natuur- en Landbouwetenskappe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

annie ·

In Indiè is daar skynbaar swaminfeksies wat mense se oè aantas wat soms tot blindheid lei. Hoe higiènies is maskers? Die seegroenkleur staan bekend as kobaltblou. Is dit so, want kobaltkleurstof is giftig. En die naalde en entstofhouers, dit moet sekerlik steriel wees. Is dit? Hoe skoon is die toedieningsomgewing van entstof? Massas mense word deurgedraf.

Tanniepetoors ·

As ek reg verstaan, was die oorsaak van dood dan nie Covid-19 nie, maar wel die dodelike swaminfeksie. Dit maak weereens die Covid-statistieke wêreldwyd hoogs verdag.

Anel ·

En so tussen ons, hoeveel mense is by hulle huise dood aan die virus. Ek mag nie my familie in die hosputaal besoek nie, maar die personeel pendel elke dag in en uit. Hie higiënies is hulle, veral die wat uit informele nedersettings kom? Bly maar vêr weg van hospitale op hierdie oomblik.

Adri ·

Is dit nie juis waar Ivermektien se waarde lê nie? Kan dit nie die swaminfeksies voorkom/behandel nie? Wat sê die medici?

Johan ·

Gee die maskers kaans, daar kom nog ‘n paar “verassings “.

Jack ·

Wel as die toestand van hospitale wat steriele omgewing insluit bekyk word is dit nie verbasend dat septisimia besig is om toe te neem en baie lewens eis nie. Die beste raad is bly weg uit hospitale. Teveel mense kom nie terug nie. Die liggaam is reeds van sy weerstand beroof en kan nie nog die lug en toerusting wat besmet is hanteer nie.

Dirk Mostert ·

Soos ek die artikel lees, het die swam-infeksies gedurende intensiewe sorg ontstaan. Hmmm……..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.