Groot SA beleggingskonferensie aangekondig

Argieffoto (Foto: nattanan23, Pixabay)

ʼn Groot nasionale beleggingskonferensie word aanstaande Donderdag tot Saterdag deur die regering aangebied vir plaaslike en internasionale beleggers, het die minister van ekonomiese ontwikkeling, Ebrahim Patel, vanoggend aangekondig.

Patel het aan die parlementêre mediakorps gesê dit is die ontplooiing van die volgende fase van pres. Cyril Ramaphosa se plan om die plaaslike ekonomie op groot skaal te stimuleer, en wel deur dit makliker te maak vir groot maatskappye om in die plaaslike ekonomie te belê.

Die beleggingskonferensie bou voort op onlangse skakeling met groot maatskappye asook die regerings van China en ander Brics-lande, die vergemakliking van visummaatreëls, die opening van ʼn nuwe motorfabriek by Nqurha buite Port Elizabeth, die onlangs aangekondigde ekonomiese stimuluspakket en die beraad oor werkgeleenthede.

Die beleggingskonferensie sal ʼn dag ná volgende Woensdag se aankondiging van die mediumtermyn-begrotingsraamwerk deur die nuwe minister van finansies, Tito Mboweni, afskop, en veral bestaan uit kontaksessies sodat maatskappyverteenwoordigers in verbinding geplaas kan word met die regte regeringslui sodat beleggings en ekonomiese ontwikkeling ongehinderd kan plaasvind, het Patel gesê.

Sowat 1 000 groot beleggers, waarvan tweederdes plaaslik en eenderde van die buiteland is, het reeds vir die beleggingskonferensie geregistreer. Tydens die kontaksessies sal ontmoetings gestruktureer word kragtens die nywerhede waarvolgens hulle in Suid-Afrika wil belê.

Die nywerhede waarop gekonsentreer word, is landbou en landbouprosessering, mynbou en mineraalverwerking, vervaardiging, vervoerinfrastruktuur, energie, kreatiewe en kunsbedrywe, inligtingstegnologie, waagkapitaal en entrepreneurskap.

Ramaphosa sal deurgaans in die drie dae persoonlik ʼn groot rol in die konferensie speel, asook die sessies Donderdag en Vrydag open en afsluit. Saterdag sal die afgevaardigdes blootgestel word aan die township-ekonomie wanneer hulle onder meer die historiese Vilakazistraat in Soweto besoek.

Volgens Patel is die konferensie slegs op een doel gefokus, naamlik om beleggings in die Suid-Afrikaanse ekonomie te verseker deur ʼn samehangende beleggingstrategie daar te stel, en het afgevaardigdes van 25 lande reeds hul deelname bevestig.

Dit sluit plaaslike fonds- en beleggingsbestuurders in, en verteenwoordigers van 27 Fortune 500-maatskappye. Een van die bekende internasionale sprekers wat sal optree, is die sakeman Jack Ma, wat Vrydag aan die beurt kom.

Internasionale maatskappye wat reeds hul deelname bevestig het, sluit Airbus, Nestlé, Huawei, General Electric, Siemens, Mitsubishi en Johnson and Johnson in, om ʼn paar te noem.

Die presidensiële ekonomiese raadgewer, Trudi Mahaya, wat die konferensie koördineer, het gesê dit is die eerste van ʼn jaarlikse instelling, en dat die klem ook op sosio-ekonomiese ontwikkeling sal val.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stephen Namibia ·

They want Investors to experience “Township” economy? We call it affirmative shopping. Best to leave your valuables at home before you go into the townships.! Strongly suggest you go in large numbers as well.

Walter ·

If all those foreign investors who invest in SA once knew how easy it is to invest your foreign money in SA and how difficult and frustrating it is to get your own money back in the country of origin, they would think twice. learned my lesson the hard way.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.