Groot saamtrek by Witkruismonument beplan

(Foto: Reint Dykema)

Die boeregemeenskap van Pietersburg en Potgietersrus in Limpopo beplan om Saterdag by die Witkruismonument langs die N1 bymekaar te kom om nóg wit kruise te plant as eerbetoning aan die boere wat die afgelope jaar tydens plaasaanvalle vermoor is.

Altesaam 64 kruise gaan by die meer as 2 000 kruise wat reeds in die grond staan, geplant word.

Volgens Louis van der Walt, een van die organiseerders van die saamtrek en ook ʼn boer in die omgewing, verwag hulle dat meer as duisend boere en lede van die gemeenskap die geleentheid gaan bywoon.

Almal gaan die oggend tussen 07:00 en 07:30 by die Caltex Starstop-vulstasie langs die N1, digby Pietersburg, byeenkom en dan met hul voertuie in ʼn konvooi na die Witkruismonument ry. Die verrigtinge gaan om 09:00 begin.

Boere word aangemoedig om met hul trekkers en vragmotors die geleentheid by te woon.

“Ons gaan die dag open met Skriflesing en gebed waarna die perdekommando aankom. Daarna gaan ʼn paar sprekers praat, onder andere die sanger Steve Hofmeyr. Hy gaan ook die kruise uitdeel,” vertel Van der Walt.

Almal wat wil deelneem, moet hul kampstoele, water en sambrele saamvat.

Die gemeenskap het reeds die afgelope maand saamgestaan teen die voortdurende plaasaanvalle en -moorde en het verskeie kere na die Morebeng-landdroshof opgeruk wanneer die drie verdagtes verskyn het in verband met die aanval op Chris en Leonise Joubert aan die begin van Augustus.

Die drie verdagtes sal na verwagting vandag (Vrydag) weer in die hof verskyn wanneer hul borgtogaansoek aangehoor word.

Die verdagtes, onderskeidelik 18, 29 en 38 jaar oud, staan tereg op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, huisbraak met die doel om te roof, twee aanklagte van verkragting, aanklagte van poging tot moord en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Die 18-jarige verdagte is uitgeken as die seun van ʼn huiswerker wat op die plaas werk.

“Dit is elke keer skrikwekkend om te hoor hoe die plaasaanvalle en -moorde wat met wreedaardigheid gepaardgaan net toeneem. Die ergste is die vernedering wat die aanvallers agterlaat. Onskuldige mense wat die land dien, word vermoor en verkrag. Dit maak my as boer woedend. Ons is keelvol,” sê Van der Walt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Connie ·

Dit is om n boer baie woedend te maak, dit voel ons het geen mag of se nie, ons is net hier om wreedardig vermoor te word. Ek is in Hart en Gees saam julle. Here seen al ons boere en die gemeentskap wat op die tog gaan. Amen.

Danie ·

En hoeveel kruise gaan daar nog geplant word voordaat iemand se genoeg is genoeg. Gaan ons wag tot al die boere vermoor is.

saggiespraat ·

Seen julle almal… Ek sal saam bid en ingees daar saam trek…

Drico ·

Vader, hou U hand van bewaring oor ons mense en U volk wat Saterdag byeenkom. Beskerm ierder en elk, oud en jonk teen enige onregverdige en vyandige elemente wat moontlik wil inmeng.
AMEN

charmaine ·

En hierdie byeenkoms sàl sonder geweld wees…geen brande, diere moord, skade! Mag God julle almal dra.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.