ʼn Brand wat oor die naweek in die stadsaal in Komani (Queenstown) in die Oos-Kaap uitgebreek het, het groot skade aan die binneruim van die historiese gebou aangerig.
Woordvoerder Lonwabo Kowa sê die munisipaliteit is “verpletter” deur die brand by een van sy mees noemenswaardige erfenisterreine.
Meubels en werkstoerusting is vernietig toe ʼn brand Vrydag laataand by dié historiese gebou, wat uit 1882 dateer en die Enoch Mgijima- plaaslike munisipaliteit huisves, uitgebreek het. Min skade is wel aan die buitenste struktuur van die gebou aangerig.
Kowa het bevestig die gebou is verseker, maar sê die brand sal ongetwyfeld ʼn invloed op dienslewering hê.
Die historiese stadsaal het voor die brand verskeie kantore, waaronder dié van die uitvoerende burgemeester, die speaker, die hoofsweep, die munisipale bestuurder, die bedryfshoof en die korporatiewedienstedepartement, gehuisves.
Nuwe reëlings rakende kantoorruimte moet nou getref word.
Die presiese oorsaak van die brand is nog onduidelik en die polisie stel ondersoek in.
“Ons doen ʼn beroep op enigiemand met inligting wat in die ondersoek kan help om dit by die polisie of munisipale kantore aan te meld,” sê Kowa.
“Die uitvoerende burgemeester, speaker en alle lede van die raad is vasbeslote om te verseker dat geen steen rakende die saak onaangeroer gelaat word nie.”
Maroela Media het vroeër berig polisiebeamptes op patrollie het die naweek rook uit die stadsaal sien trek en ondersoek gaan instel.
Brig. Thembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder, het vanoggend gesê brandondersoekers sal na verwagting ʼn verslag verskaf nadat hulle die voorval ondersoek het.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
16 Kommentare
Los die plek so, moet dit nie herstel. Dit is maar net nog een van die bewyse van hoe die anc Suid Afrika afbreuk en vernietig. Eendag sal hulle eie nageslagte kan sien hoe hulle die eens pragtige land vernietig het
Darem baie snaaks dat alles deesdae sommer net BRAND!
Hoe verpletter is hierdie mense werklik?
Hierdie is mos ‘n gebou uit die koloniale era; nogal Brits. Is dit nie baie toevallig dat historiese geboue nou skielik brand nie?
Maak nie sin vir my dat hy so iets sal sê…..
Want alles omtrent Queenstown kom van die Britte af……
Ek vermoed daar is ‘n groep agter al hierdie brande by ons geboue, m.a.w. tereur dade.
Dat nét daardie geboue so onverklaarbaar begin brand, en dan is dit ‘n GROOT brand, wys daar moet brand aanhitsers (flammables) gebruik word. In sekere gevalle is die brand bestrydings stelsels buite werking gestel.
Mmmmm, I smell a huge rat.