Groot skade aan Rhodes-borsbeeld aangerig

Die brons borsbeeld van Cecil John Rhodes by die Rhodes-gedenkteken aan die hang van Tafelberg ná dit vroeër vandeesweek geskend is (Foto: Henk Kruger/African News Agency/ANA)

Die polisie ondersoek ʼn saak van vandalisme nadat die grootste deel van die kop van Cecil John Rhodes se borsbeeld by die Rhodes-gedenkteken aan die hang van Tafelberg in Kaapstad afgebreek is.

Kol. Andre Traut, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn saak van opsetlike saakbeskadiging is Dinsdag by die Rondebosch-polisiestasie aanhangig gemaak ná skade aan die beeld Maandag opgemerk is. “Die omstandighede rondom die saak word ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.”

Natuurbewaarders van SANParke, wat Maandag op voetpatrollie was, het gesien die borsbeeld is beskadig. Daar was egter berigte oor die naweek op sosiale media dat die beeld “onthoof” is.

Die kop van die beeld is net bo die ken afgebreek.

Die beeld kyk uit oor die suidelike voorstede en die Kaapse vlakte en is op ʼn platform onderaan ʼn stel trappe geleë. Dit is in 2015 ook gevandaliseer toe die neus afgebreek is. Die beeld is in 2018 herstel. Die skade in 2015 het plaasgevind tydens studentebetogings van die #FeesMustFall-beweging waartydens daar geëis is dat Rhodes se standbeeld van die Universiteit van Kaapstad se kampus verwyder moet word.

Die Black People’s National Crisis Committee (BPNCC) het Woensdag die vandalisme verwelkom en die “engele wat dit gedoen het” aangemoedig om nog “koloniale openbare monumente” te teiken.

Cecil John Rhodes (1853–1902) was ‘n Britse mynmagnaat, staatsman, ryksbouer en stigter van die kolonie Rhodesië (vandag Zambië en Zimbabwe), wat na hom genoem is. Hy was ook eerste minister van die Kaapkolonie.

Studente aan Oxford-universiteit is al vier jaar lank besig met ʼn veldtog in ʼn poging om sy standbeeld by Oriel College te verwyder. Die veldtog het weer opslae gemaak toe die Black Lives Matter-betogings van die VSA na Engeland oorgespoel het.

Die Rhodes-gedenkteken in Kaapstad is deur die Britse argitek Sir Herbert Baker ontwerp. Nege-en-veertig trappe (een vir elke jaar van Rhodes se lewe) lei na die rostrum. Langs die trappe is granietmure met vier leeus in brons op elke muur wat oor die stad uitkyk. Die U-vormige monument bestaan uit Doriese suile met die borsbeeld van Rhodes. In die breedte bo die pilare staan geskryf: “To the spirit and life work of Cecil John Rhodes who loved and served South Africa 1853–1902”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

PieterP ·

As dit SANPARKE is dan moet daar ‘n lys van besoekers tog wees?

Leon ·

As ek die Rhodes stigting is maak ek alle beurse vir die studente toe en los hulle net daar. Die in die buiteland kan self sien wat hulle doen.

Jaco ·

Rhodes se imperialisme het gelei tot die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902. Tydens dié oorlog het Rhodes se mede-Britte amper 28000 boervroue en kinders in konsentrasiekampe laat sterf. Die sterftesyfer in swart kampe was omtrent 16000. Rhodes is in Maart 1902 oorlede. Toe was alles oor die lyding in die konsentrasiekampe reeds bekend. Ek kan nie onthou dat hy hom ooit teen dit uitgespreek het nie.

Louw ·

Jy laat my nou baie dink..ek het my ouma se bank en n tafel wat hulle in die veld begrawe het, en toe is haar ma en susters konsentraie kamp toe….my ouma was die eenigste oorlewende.. Rhodes, you owe us

pieterweskaap ·

Is die skade die gevolg van vandalisme met ‘n politieke motief of om die stukke brons as skroot te probeer verkoop, of sommer beide?

Johannes Andries ·

Hulle vernietig alles wat deel is van ons geskiedenis en dan rig hulle standbeelde op van kommuniste. Kyk maar na die fidell Castro beeld. My vraag is Wat het hy gedoen in die geskiedenis van ons land? Hoort hy ooit hier, dalk het hulle verdwasl opad Kuba toe

JJ ·

Standbeelde is deur die eeue gebou en weer vernietig. Dit kom en gaan, afhangende van wie die heersers is of watter politieke klimaat geld. Siedaar, Rhodes se kop is weg. Tensy die geskiedenis herskryf word, is hierdie daad absoluut niksseggend. Die geskiedenis leef voort. Maar wag tot die boeke verbrand word….en dit kom

Jack ·

Om beelde wat dood is aan te val wys nou maar hoe onder ontwikkeld sommiges se denke is. Dis net so goed jy plant n bom by n grafsteen. Dit is weereens n bewys hoekom afrika is waar hy is. Geld moet spandeer word om die morele waardes van die mense te verbeter en los die materiele want dit word net vernietig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.