Foto’s: Groot skade ná brand by Krugersdorp-lodge

Een van die gaste-eenhede in ligte laaie (Foto: Netcare 911)

Groot skade is aangerig by die luukse Sibani Lodge naby Krugersdorp in Gauteng, nadat ’n brand Maandagoggend daar uitgebreek het. Die lodge is in die Mount Savannah-wildreservaat in Gauteng  geleë.

Volgens Darrell van der Merwe, plaasbestuurder van dié reservaat, het ’n veldbrand omstreeks 10:00 naby die lodge uitgebreek. Vullis is op ʼn ashoop verbrand, waarna die brand weens sterk wind na die lodge versprei het.

Van der Merwe het die veiligheidsmaatskappy Conserv Security gekontak en beamptes daar het gehelp om nood- en reddingsdienste te ontbied. Die Mopani City-nooddienste, Fire Ops SA, Netcare 911 en selfs boere van buurplase het hulle na die toneel gehaas om te help.

Van der Merwe sê ook geen van die reservaat se wildlewe is beseer nie (Foto: Concerned Citizens South Africa, Facebook)

Reddingswerkers het omtrent 12 ure lank gespook om die brand in bedwang te bring.

“Die brand het na die lodge versprei en drie gaste-eenhede het in die slag gebly. Een van die huise is heeltemal verwoes, terwyl ʼn ander huis omtrent halfpad afgebrand het.

“Die brand het minimale skade aan die derde huis se dak aangerig. Daar kon dit betyds geblus word,” sê Van der Merwe.

Reddingwerkers het omtrent 12 ure lank gespook om die brand in bedwang te bring (Foto: Netcare 911)

“Die twee huise wat erg deur die brand beskadig is, is vir eers gesluit vir gaste.”

Volgens Wesley du Plessis, die bestuurder van die lodge, sal die gebrande huise herstel word en weer vir gaste oopgestel word.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, sê niemand is tydens die brand beseer nie.

Groot skade is aangerig by die luukse Sibani Lodge naby Krugersdorp in Gauteng, nadat ’n brand Maandagoggend daar uitgebreek het (Foto: Netcare 911)

Van der Merwe sê ook geen van die reservaat se wildlewe is beseer nie.

Volgens hom is ongeveer 300 ha grond afgebrand, maar daar is minstens genoeg weiding vir diere. Boere van die omgewing het kort ná die brand reeds begin om bakkievragte voer vir die diere af te laai.

Ongeveer 300 ha grond het afgebrand (Foto: Concerned Citizens South Africa, Facebook)

Die twee huise wat erg deur die brand beskadig is, is gesluit vir gaste (Foto: Concerned Citizens South Africa, Facebook)

Die brand het minimale skade aan die derde huis se dak aangerig (Foto: Concerned Citizens South Africa, Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.