Groot skade ná grondbesetters Dinokeng se drade knip

'n Gedeelte van die heining wat verwoes is. Foto: Alison Odendaal

‘n Gedeelte van die heining wat verwoes is. Foto: Alison Odendaal

Die Dinokeng-wildreservaat, noordoos van Pretoria, gaan nagenoeg R350 000 moet betaal om die heining te herstel wat glo oor die naweek deur grondbesetters beskadig is.

Maroela Media het Maandag berig dat nagenoeg 1,5km van die reservaat se heining beskadig is tydens ʼn poging deur inwoners van ʼn aangrensende informele nedersetting om beslag te lê op die grond. Dinokeng is die enigste wildreservaat in Gauteng waar die Groot Vyf vrylik kan rondbeweeg,

ʼn Man, wat beweer hy is die voorsitter van Wyk 73 van Sanco (South African National Civic Organisation), het na bewering reeds van die reservaatgrond onwettig verkoop en mense soek nou ‘hul grond’. ʼn Ondersoek is van stapel gestuur om uit te vind wie vir die dade verantwoordelik is en of daar geld betrokke is. Die man ontken egter enige betrokkenheid. Lees meer hier.

Piet Venter, voorsitter van die Dinokeng-wildreservaat, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die reservaat het Maandag ʼn dringende vergadering met die plaaslike ANC, die polisie, Tshwane-metro, Tshwane-metropolisie belê om die probleem te bespreek. “Ons het vergader oor hoe die reservaat, metro, gemeenskap en polisie gaan saamwerk,” het Venter gesê. “Die hoofdoel is om met behulp van die gemeenskapsleiers die gemeenskap te kalmeer. Ons het ook begin om die heining te herstel, en terwyl die proses voortduur, poog ons om die wild binne die reservaat te hou, en die mense van die informele nedersetting, buite.”

Venter het gesê die gemeenskap het nie weer sedert Saterdag betoog nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.