Groot skade weens brand by Jhb-skool

Groot skade is Dinsdag in die vroeë oggendure aan die skool in Parkview aangerig. (Foto: Twitter)

Enorme skade is by ʼn skool in Parkview in Johannesburg aangerig nadat ʼn brand Dinsdag in die vroeë oggendure daar uitgebreek het.

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, het gesê dit het brandbestryders sowat vier uur geneem om die brand by die Parkview Junior School in bedwang te bring.

Die skoolsaal en ʼn stoorkamer vir toerusting is onder meer verswelg.

ʼn Projektor, verskeie musiekinstrumente, waaronder ʼn 103 jaar oue klavier, 300 stoele en al die voorraad in die stoorkamer is verwoes. “ʼn Skadebepaling moet nog gedoen word,” het Mabona gesê.

Die brandweer en polisie het reeds met ʼn ondersoek na die oorsaak van die brand begin.

Die LUR vir onderwys in die provinsie, Panyaza Lesufi, het sy misnoeë te kenne gegee met nóg ʼn skool wat weens ʼn brand groot skade opgedoen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.