‘Groot skok’ ná onderwyser skielik sterf

Mariëtte Nothnagel (Foto: Facebook)

Hoërskool Tygerberg in die Wes-Kaap is in rou ná die skielike dood van een van sy onderwyseresse.

Pieter Nel, ʼn departementshoof by dié skool, het Maandag gesê leerders en onderwysers aan die skool “voel beroof” deur Nothnagel se dood. “Ons voel beroof van ʼn uitsonderlike kollega, ʼn vriendin en ʼn ma,” het Nel op die skool se amptelike Facebook-blad geskryf.

Mariëtte Nothnagel (61), ʼn rekeningkunde-en-ekonomie-onderwyseres by die skool, is Sondagoggend vroeg dood aan ʼn hartaanval. Sy was sedert 1992 ʼn onderwysers by dié skool.

Suzette Esterhuyse, Nothnagel se suster, sê haar suster het Saterdagoggend sleg gevoel, maar wou nie die dokter onmiddellik besoek nie.

“Sy was nog altyd iemand wat sou sê dis nie erg genoeg om hospitaal toe te gaan nie,” sê Esterhuyse. “Toe sy egter teen die aand nóg slegter voel, het sy ingestem dat haar seun, Pierre (23), haar na die hospitaal neem.”

Haar toestand het aanvanklik versleg, maar is Sondag teen 01:00 weer gestabiliseer. Esterhuyse sê Pierre is huis toe nadat Nothnagel rustiger was. Sy is egter om 03:00 dood.

Nothnagel het glo verlede week nog met personeellede oor haar nalatenskap by die skool gepraat. Nel sê dit is daarom dat haar dood as skielik en skokkend kom.

“Net verlede week het sy gepraat van haar nalatenskap [en oor] wat sy wil nalaat by Hoërskool Tygerberg en dat sy daarom nog ten minste vier jaar by ons wou bly,” sê hy. “So beskeie was sy dat sy nie geweet het hoe groot haar nalatenskap reeds is nie. Hoe sal ons die Mariëtte met die klein hartjie van suiwer goud kan vergeet? Hoe sal ons kan vergeet van haar maklike trane as sy van iemand anders se swaarkry vertel?

“Hoe sal ons vergeet van haar onbaatsugtige hulp aan gesinne wat swaarkry – stil, sonder om ʼn dankie te verwag. Hoe vergeet ʼn mens haar hulp aan kollegas wat swaar trek met werk en haar bereidwilligheid om twee nagte na mekaar deur te werk om ʼn rooster gepak te kry – al was dit nie haar werk nie?

“Hoe sal ons ooit Mariëtte se eiesoortige grappies vergeet en hoe die kinders soos die Rooi See voor haar oopgemaak het as sy met haar handsak styf onder haar arm vasgeknyp die gang afgekom het. Hoe sal ons haar stem vergeet as sy leerders by haar lockers laat wegspaander het met: ‘Hoekom is julle nie in julle klas nie?’ Hoe kan ʼn mens ʼn vrou met soveel passie ooit vergeet? Iemand wat altyd ʼn plan het en wat ʼn mens kan saamvat oorlog toe? Hoe vergeet ʼn mens ʼn vrou van 18 karaat-kwaliteit? Die antwoord is maklik: nooit nie.”

Die familie het in dié tyd privaatheid versoek.

Nothnagel laat haar dogter, Gretha (20), en seun, Pierre (23), agter. Haar gewese man is in 2016 dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Bok Bok ·

Marriëtte baie dankie dat jy so groot verskil in ander mense se lewens gemaak het.
Jou nagedates sal vir lank met die mense saam gaan.

Carien ·

Dit is ‘n pragtige getuienis aan ‘n dierbare mensie. Ek glo dat sy bewus was dat elkeen haar opreg waardeer het en baie lief het.
Rus in vrede Mariëtte Nothnagel, jou afsterwe laat ‘n groot leemte in jou gemeenskap. XX

Elzette ·

Rus sag Juffrou Nothnagel. Baie sterkte aan die kinders en familie.

Oom Kalahari ·

Dit klink na ‘n wonderlike Onderwyseres wat haar hart teenoor almal oopgemaak het. Vele sal jou verseker vir lank in hul gedagtes dra. Aan die 2kinders, familie , vriende, onderwys personeel en leerlinge alle medelye en simpatie met jul groot verlies en onthou haar as die spontane en opgewekte vrou en Moeder. RIV Juffrou Nothnagel.

MM, ek verstaan doe betekenis van “dood” is op die dieselfde basis as oorlede, afgesterwe of afgestorwene, want daar word verwys na haar gewese man wat dood is in 2016. Dit voel so grof gestel en vra maar net asb of daar nie verwys kan word op datum is hy oorlede of het afgesterwe wat meer aanvaarbaar en met takt voorkom.
Dankie en waardeer opreg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.