Groot soektog ná Kempton-pa verdwyn

Christopher Nicholson. Foto: Verskaf

Christopher Nicholson. Foto: Verskaf

ʼn 27-jarige man van Kempton Park aan die Oos-Rand word steeds vermis nadat hy Vrydag by sy werk weg is en toe spoorloos verdwyn het.

Christopher Nicholson, ʼn werknemer by ʼn veiligheidsmaatskappy aan die Oos-Rand, is Vrydag ongeveer 14:00 by die werk weg na sy ma se huis in Hartbeespoort. Hy het egter nooit daar opgedaag nie.

Nicolette Nicholson (52), Christopher se ma, het Dinsdag aan Maroela Media gesê Christopher se kind woon by haar en dus bring haar seun meestal naweke by hulle in Hartbeespoort deur.

“Ons het nie spesifiek gereël dat hy Vrydag na ons toe sal kom nie, maar hy kom elke naweek, so ons het hom verwag,” het sy gesê. “Teen Vrydagaand het iemand van sy werk gebel om te vra of ons weet waar hy is, want hulle kry hom nie in die hande nie. Hy was veronderstel om die naweek op bystand te wees. Ons het sy selfoon en die maatskappy-selfoon wat hy by hom gehad het, geskakel, maar albei was af.”

Die familie het Saterdag ʼn saak by die polisie aanhangig gemaak. Volgens Nicolette het hulle intussen inligting ontvang dat Christopher Saterdag in Damdoryn in Hartbeespoort opgemerk is, maar dit kon nog nie bevestig word nie. Sy motor is glo ook in die Majakaneng informele nedersetting gesien.

“Die inligting is nog nie bevestig nie, maar ons het dit deurgegee aan die polisie wat die saak ondersoek. Ons sal ook vandag pamflette in Damdoryn versprei en ons hoop dat iemand hom dalk gesien het. Ek het reeds die lykshuise en hospitale in die gebied besoek, maar daar was niks,” het sy gesê.

Christopher is 1,8 meter lank, skraal gebou met donkerblonde hare en bruin oë. Hy het geen tatoeëermerke of opsigtelike littekens nie. Sy motor is ʼn wit Tata Indica. Enige persoon met meer inligting of wat hom moontlik gesien het, kan Nicolette by 071 880 8824 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Elize ·

Ek stem saam Jacques….. mens weet nie meer wat om te dink of te se nie, want dit gebeur darem maar baie.

lorayne ·

Ek bid vir sy veilige tuiskoms Nicolette! Mag God jou sterk hou . . .

Hilda ·

Sterkte Nicolette, ek hoop jou seun is veilig en vandag terug by julle xx

Odette ·

Ai sterkte aan almal, ek bid hy keer terug na sy mensies en hys veilig….dis so hardseer elke 2de nuus berigte gaan oor iemand wat vermis word….

Eliza-beth ·

Ek weet baie mense sal nie daarvan hou, mens wil privaat wees ens ens, maar dalk moet mens maar net kort-kort deur die dag “roll-calls” hou en iemand – ma/vrou/man/pa/seun/dogter/beste vriend laat weet waar jy is. Dit kan dinge net vergemaklik sou iets gebeur, dan kan mens darem weet waar om te begin soek. Sekere selfoonverskaffers het ook ‘n tipe “tracking” as diens – mens kan dan gedurig uitvind waar die selfoonhouer op daardie stadium is. Dalk moet alle mense met jong kinders veral dit doen?

ladybug ·

Ek verbeel my nie, maar sedert die begin van die jaar raak al hoe meer blanke mans net weg … onder snaakse omstandighede … laat mens wonder wat aangaan.

Ek hoop hierdie man word gevind.

Barbara ·

Goeiemore, ek hoop van harte dat daar goeie nuus is , is Christopher al gevind?

nicolette Nicholson ·

Baie dankie aan almal wat help soek het. Christopher sterk in die hospitaal aan en dit gaan goed met hom onder omstandighede. Nicolette Nicholson

Hester ·

Wat het met hierdie arme man gebeur?
Is hy darem al beter?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.