Christopher Nicholson, ʼn werknemer by ʼn veiligheidsmaatskappy aan die Oos-Rand, is Vrydag ongeveer 14:00 by die werk weg na sy ma se huis in Hartbeespoort. Hy het egter nooit daar opgedaag nie.
Nicolette Nicholson (52), Christopher se ma, het Dinsdag aan Maroela Media gesê Christopher se kind woon by haar en dus bring haar seun meestal naweke by hulle in Hartbeespoort deur.
“Ons het nie spesifiek gereël dat hy Vrydag na ons toe sal kom nie, maar hy kom elke naweek, so ons het hom verwag,” het sy gesê. “Teen Vrydagaand het iemand van sy werk gebel om te vra of ons weet waar hy is, want hulle kry hom nie in die hande nie. Hy was veronderstel om die naweek op bystand te wees. Ons het sy selfoon en die maatskappy-selfoon wat hy by hom gehad het, geskakel, maar albei was af.”
Die familie het Saterdag ʼn saak by die polisie aanhangig gemaak. Volgens Nicolette het hulle intussen inligting ontvang dat Christopher Saterdag in Damdoryn in Hartbeespoort opgemerk is, maar dit kon nog nie bevestig word nie. Sy motor is glo ook in die Majakaneng informele nedersetting gesien.
“Die inligting is nog nie bevestig nie, maar ons het dit deurgegee aan die polisie wat die saak ondersoek. Ons sal ook vandag pamflette in Damdoryn versprei en ons hoop dat iemand hom dalk gesien het. Ek het reeds die lykshuise en hospitale in die gebied besoek, maar daar was niks,” het sy gesê.
Christopher is 1,8 meter lank, skraal gebou met donkerblonde hare en bruin oë. Hy het geen tatoeëermerke of opsigtelike littekens nie. Sy motor is ʼn wit Tata Indica. Enige persoon met meer inligting of wat hom moontlik gesien het, kan Nicolette by 071 880 8824 bel.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
13 Kommentare
Dit gebeur darm nou baie. Hoop hy is ok.
Ek stem saam Jacques….. mens weet nie meer wat om te dink of te se nie, want dit gebeur darem maar baie.
Hoop net hy maak i U draai.
Ek bid vir sy veilige tuiskoms Nicolette! Mag God jou sterk hou . . .
Baie dankie. Hy is nog steeds vermis