Groot soektog na motoris ná Kovsie in tref-en-trap sterf

Lithemba Mpambani. (Foto: Facebook)

ʼn Student aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) is dood nadat sy Saterdag deur ʼn voertuig getref is en die motoris weggery het sonder om stil te hou.

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, sê die tref-en-trap-ongeluk het Saterdag omstreeks 22:00 naby die universiteit se hoofhek plaasgevind.

“ʼn Swart sedan het ʼn 23-jarige student raakgery en daarna die toneel verlaat. Die bestuurder het nie die ongeluk aangemeld nie,” sê Makhele.

“Die polisie is later na die toneel ontbied.”

Paramedici het die student op die toneel dood verklaar. Sy is intussen geïdentifiseer as Lithemba Mpambani van Port Elizabeth in die Oos-Kaap. Sy was ʼn vierdejaarstudent in BA Beeldende Kuns aan die UV.

ʼn Saak van strafbare manslag is by die Parkweg-polisiestasie aanhangig gemaak. Die polisie het ook ʼn soektog na die bestuurder van die voertuig van stapel gestuur.

“Enigiemand met meer inligting oor die ongeluk of die bestuurder, kan sers. Thabo Litsoane by 079 606 7820 skakel of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 kontak.”

Lacea Loader, woordvoerder van die UV, sê die universiteit is geskok oor die voorval. Die UV het ook sy medelye met Mpambani se vriende, familie en dosente betuig.

“Die UV bly bekommerd oor die risiko wanneer voetgangers die kruising voor die hoofhek van die Bloemfontein-kampus oorsteek. Dit is al verskeie kere onder die aandag van die Mangaung-metro gebring,” sê Loader.

Volgens Loader was Mpambani ʼn ontluikende en talentvolle kunstenaar wat ʼn aantal toekennings verwerf het. Sy was onder meer ʼn finalis in die 2019 New Breed Art-kompetisie. Sy het ook die top-20 in die 2019 Staat van die Kuns-toekennings gehaal en was een van die top-5-Orms Circle-kunstenaars.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tipper

ons word ook raak very.

Cheetha

Hulle loop in die donker oor Nelson Mandela rylaan. Met hulle donker klere en gelaatstrekke sien mens hulle baie moeilik raak. Daar is voetoorgange by die verkeersligte maar dit word nie gebruik nie. Die swart kar maak dit ook nie maklik nie. Hier is baie van hulle.

Elmarie

As iemand raakgesien het dis ‘n swart motor het hul dan nie juis probeer kyk na registrasieno/selfoonfoto probeer neem of IETS nie? Mense is pal op hul fone ek verstaan nie hoe laat hul so iets gebeur en doen niks.

Robert

Hierdie het Donderdag gebeur terloops, berigte was al op radio vrydag oggend.