Groot soektog ná onderwysers oor damwal verdwyn

Mariëtte en Mof Weber. (Foto: Verskaf)

ʼn Grootskaalse soektog duur voort na twee onderwysers van Lephalale (Ellisras) in Limpopo wat Dinsdagmiddag vermoedelik in hul boot oor die wal van die Mokolodam gestort het.

Mof en Mariëtte Weber het Dinsdagmiddag omstreeks sononder met hul boot op die dam gaan ry en ʼn kind wie se gesin ook daar gekampeer het, was saam op die boot.

ʼn Soektog na die drie is van stapel gestuur nadat hulle nie tydig teruggekeer het nie. Dit is later noodgedwonge opgeskort en vanoggend met dagbreek weer in samewerking met die polisie en die duikeenheid hervat. ʼn Helikopter is ook in die soektog ingespan.

Die gebied het die afgelope ruk heelwat reën gekry en die dam is stampvol met heelwat water wat steeds instroom.

Polisieduikers het die liggaam van die kind wat saam met die Weber-egpaar op die boot was, vanmiddag omstreeks 14:00 gevind. Wrakstukke van die boot is ook gevind.

Daar was ʼn kort ruk gelede egter nog geen spoor van die Webers nie.

Adriaan Joubert, hoof van die Hoërskool Ellisras, sê die egpaar is sedert die 1980’s verbonde aan die skool. Hy het die gebeure as ʼn absolute tragedie bestempel.

“Dit is ʼn groot slag vir die gemeenskap en die hoërskool, maar ons hou vas aan die hoop dat hulle gevind sal word.

“Die Hoërskool Ellisras dra die familie en spesifiek vir Ruan en Erma [die egpaar se kinders] in ons gebede op.”

Die polisie het onderneem om binnekort op navrae te reageer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.