Groot stap vorentoe met mynboumanifes

Argieffoto

Die mynboubedryf het die naweek potensieel ‘n redelike stap vorentoe gegee om toekomstige beleggings minder moeilik te maak toe van die ergste giftande van die regering se berugte mynboumanifes getrek is.

Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne, het Sondag verskeie veranderings aan die manifes aangekondig wat dit nader sal bring aan die Mineraleraad van Suid-Afrika (MRSA) (tot onlangs bekend as die Kamer van Mynwese) se idee van hoe ‘n mynboumanifes moet lyk.

Die destydse Kamer van Mynwese het verlede jaar die vorige weergawe van die manifes hof toe geneem nadat Mantashe se voorganger, die Gupta-genoot Mosebenzi Zwane, dit ‘n jaar gelede bekend gestel het. Die algemene konsensus in beleggingskringe was dat dit die kans op beleggings in die belangrike maar sukkelende Suid-Afrikaanse mynbedryf totaal in sy peetjie sou stuur.

Die nuwe voorstelle sluit in dat die “eenmaal bemagtig, altyd bemagtig”-beginsel, wat afwesig was uit die Zwane-weergawe, teruggebring word. Dit bied op twee vlakke voordele. Eerstens beteken dit dieselfde mense kan nie oor en oor voordeel trek uit bemagtigingstransaksies nie, wat die onbedoelde gevolg van die skepping van ‘n swart elite in ‘n see van swart armoedige ellende sal teenwerk. Tweedens gee dit maatskappye wie se bemagtigingsvennote hul aandele opsê, meer tyd om nuwe vennote te vind, sodat hulle nie te vinnig gepenaliseer word nie.

Die manifes behou egter die bepaling dat ‘n dividend uitbetaal moet word om gemeenskappe waaruit mynwerkers kom en waar hulle woon, op te hef.

‘n Belangrike bepaling wat dieselfde gebly het vanuit die Zwane-voorstelle is dat die deel van mynboumaatskappye wat in swart hande moet wees, opgeskuif word van 26% na 30%. In totaal moet 8% van maatskappye voortaan deur mynwerkers en mynbougemeenskappe besit word.

Die Mineraleraad het gesê hulle sal die voorstelle bestudeer, maar reeds aangedui dat die oordrag van 30% van ‘n maatskappy se waarde en wins heelwat beleggers in die Suid-Afrikaanse mynbedryf sal afskrik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mrs H ·

Alles gebaseer op die anc regime. Niks op wyser besigheids besluite, sad loosers! Geen verskil met grond onteiening.

jankoos ·

Eensydige beleid wat steeds gebaseer is om die minderheid verder te verdruk en om sekere rasse te bevoordeel.

Weti meer ·

Besef hulle wat hulle aan die myne doen in die moeilike tye?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.